YouVersion Logo
Search Icon

Deuteronomium 25

25
Straf en slaan
1Moses het gesê: “Partymaal stry mense en hulle gaan hof toe, en die regter in die hof sê wie is onskuldig en wie is skuldig. 2As die regter sê dat die persoon skuldig is en dat hulle hom moet slaan, dan moet die persoon gaan lê en die regter moet kyk dat hulle die persoon slaan. Die regter sê hoeveel houe hy moet kry vir die verkeerde ding wat hy gedoen het. 3Hy mag 40 houe kry, nie meer nie. As hy meer as 40 houe kry, dan verneder hulle hom. Hulle moenie dit doen nie, want hy is ook 'n Israeliet.”
'n Bees op die dorsvloer
4“Jy mag nie 'n bees se bek toebind wanneer hy op die dorsvloer werk nie.”
Die swaershuwelik
5“Wanneer broers in dieselfde huis woon, en een van hulle sterf maar hy het nie 'n seun nie, dan mag sy weduwee nie trou met 'n man wat nie familie is van hulle nie. Haar man se broer moet met haar trou en hy moet haar man word. 6Die eerste seun wat sy kry, moet dan die naam kry van die broer wat gesterf het, sodat die Israeliete sy naam sal onthou. 7Maar as die broer van haar oorlede man nie met haar wil trou nie, dan moet sy na die poort gaan, na die leiers toe, en sy moet vir hulle sê: ‘My swaer wil nie hê dat die Israeliete die naam van sy broer moet onthou nie, hy wil nie met my trou nie.’
8“Dan moet die leiers van sy stad die swaer roep en met hom praat. As hy dan daar staan en hy sê: ‘Ek wil nie met haar trou nie,’ 9dan moet sy broer se vrou nader kom waar die leiers dit sien, en sy moet sy sandaal van sy voet afhaal. Sy moet in die man se gesig spoeg en sê: ‘Dit is wat 'n mens doen met 'n man wat nie vir sy broer wil help om 'n nageslag te kry nie.’
10“Al die Israeliete sal dan sê hierdie man se huisgesin is die huisgesin van die man wat sy sandaal verloor het.”
'n Vrou wat haar man wil help
11“Wanneer twee mans baklei, en die een man se vrou kom nader om haar man te help teen die man wat hom slaan, en sy gryp die ander man se geslagsorgane, 12dan moet julle haar hand afsny, julle moenie jammer wees vir haar nie.”
Gewigte en mate
13“Jy moenie skelm wees wanneer jy iets weeg of meet nie. Jy moenie twee soorte gewigte, grotes en kleintjies, in jou sak hê nie. 14Wanneer jy iets meet, dan moet jy nie twee soorte maatlyne, grotes en kleintjies, in jou huis hê nie. 15As jy lank wil lewe in die land wat jou God die Here vir jou gee, dan moet jy gewigte en mate gebruik wat reg en eerlik is. 16Want die Here haat dit wanneer mense oneerlik is.”
Die Amalekiete
17“Julle moet onthou wat die Amalekiete aan julle gedoen het toe julle uit Egipte gekom het. 18Hulle was agter julle en het julle aangeval toe julle swak en moeg was, hulle het die mense aangeval wat stadig geloop het omdat hulle moeg was. Die Amalekiete was nie bang vir God nie. 19Julle God die Here sal julle laat wen teen al julle vyande, oral in die land wat Hy vir julle gee om aan julle te behoort en om vir julleself te vat. Dan moet julle al die Amalekiete doodmaak, niemand op die aarde moet hulle onthou nie. Julle moenie vergeet om dit te doen nie.”

Currently Selected:

Deuteronomium 25: ABA

Highlight

Share

Copy

None

Want to have your highlights saved across all your devices? Sign up or sign in

YouVersion uses cookies to personalize your experience. By using our website, you accept our use of cookies as described in our Privacy Policy