YouVersion Logo
Search Icon

Deuteronomium 24

24
'n Vrou wat geskei is
1Moses het gesê: “'n Man trou miskien met 'n vrou, maar hy hou later nie meer van haar nie omdat hy uitgevind het dat daar iets verkeerd is met haar. Dan moet hy vir haar 'n skeibrief skryf en hy moet dit vir haar gee en sê sy moet weggaan uit sy huis. 2Wanneer sy weggegaan het, dan trou sy miskien met 'n ander man, 3maar die tweede man hou later ook nie meer van haar nie. Hy skryf vir haar 'n skeibrief en gee dit vir haar en sê sy moet weggaan uit sy huis. Of miskien sterf die tweede man met wie sy getrou het. 4Dan mag haar eerste man wat van haar geskei het, nie weer met haar trou nie. Sy het onrein geword en die Here sal nie daarvan hou dat sy weer trou met haar eerste man nie. Julle moenie sonde in die land bring nie, die land wat julle God die Here vir julle gee om aan julle te behoort.”
Ander wette
5“Wanneer 'n man die eerste maal getrou het met 'n vrou, dan mag hy nie saam met die leër gaan om oorlog te maak nie. Hy moet niks anders doen nie, hy mag 'n jaar lank by die huis bly en gelukkig wees met die vrou met wie hy getrou het.
6“Jy mag nie iemand se maalklippe of die boonste klip van sy koringmeul vat wanneer hy geld vir jou skuld nie.
7“Julle vang miskien iemand wat 'n ander Israeliet steel en wat hom 'n slaaf maak en hom verkoop. Daardie dief moet dan sterf. Julle mag nie saam met hom skuldig wees nie.
8“Julle moet versigtig wees wanneer iemand melaats is, julle moet alles doen wat die priesters uit die nageslag van Levi vir julle sê, julle moet doen soos ek vir hulle gesê het. 9Julle moet onthou wat julle God die Here met Mirjam gedoen het toe julle uit Egipte gekom het.
10“Wanneer jy vir iemand iets leen, dan mag jy nie in sy huis ingaan om iets te vat omdat hy die geld vir jou skuld nie. 11Jy moet buite wag, die man wat geld van jou geleen het, moet vir jou iets buitetoe bring omdat hy geld vir jou skuld. 12As hy 'n baie arm mens is, en jy het sy bo-kleed gevat omdat hy die geld vir jou skuld, dan mag jy nie in sy bo-kleed slaap nie. 13Jy moet sy bo-kleed teruggee wanneer die son ondergaan sodat hy daarin kan slaap en sodat hy jou kan seën. Jou God die Here sal dan tevrede wees dat jy reg doen.
14“Jy mag nie die beloning hou wat 'n dagloner moet kry nie, dit maak nie saak of dit 'n arm Israeliet is wat niks het nie, of 'n vreemdeling wat in jou land woon in een van jou stede nie. 15Jy moet sy beloning elke dag gee voordat die son ondergaan, want hy is arm en hy moet die geld gebruik om te lewe. As jy dit nie doen nie, dan sal hy tot die Here bid, en die Here sal jou straf oor daardie sonde.
16“Julle mag nie 'n pa doodmaak omdat sy kind verkeerd gedoen het nie, en julle mag nie kinders doodmaak omdat hulle pa iets verkeerd gedoen het nie. Elkeen moet sterf oor dit wat hyself verkeerd gedoen het.”
Vreemdelinge, weeskinders en weduwees
17“Jy moet reg doen aan vreemdelinge en weeskinders, en jy mag nie 'n weduwee se klere vat as sy geld vir jou skuld nie. 18Jy moet onthou dat jy 'n slaaf was in Egipte en dat jou God die Here jou daar losgekoop het. Daarom sê ek jy moet hierdie ding doen. 19Wanneer jy jou koring afsny in jou koringland, en jy los 'n koring-aar in die land, dan mag jy nie teruggaan om die koring-aar te gaan haal nie. Jy moet dit daar los vir die vreemdeling en die weeskind en die weduwee. Dan sal jou God die Here dit goed laat gaan met alles wat jy doen. 20Wanneer jy die vrugte van jou olyfbome afslaan, dan mag jy nie weer gaan om die olywe te pluk wat agter jou oorgebly het nie. Jy moet dit daar los vir die vreemdeling en die weeskind en die weduwee. 21Wanneer jy die druiwe in jou wingerd pluk, dan mag jy nie weer gaan om die trosse te pluk wat agter jou oorgebly het nie. Jy moet dit daar los vir die vreemdeling en die weeskind en die weduwee. 22Jy moet onthou dat jy 'n slaaf was in Egipte. Daarom sê ek jy moet hierdie ding doen.”

Currently Selected:

Deuteronomium 24: ABA

Highlight

Share

Copy

None

Want to have your highlights saved across all your devices? Sign up or sign in

YouVersion uses cookies to personalize your experience. By using our website, you accept our use of cookies as described in our Privacy Policy