YouVersion Logo
Search Icon

Deuteronomium 21

21
Wanneer niemand weet wie iemand doodgemaak het nie
1Moses het gesê: “In die land wat julle God die Here vir julle gee om aan julle te behoort, sal julle miskien iemand kry wat vermoor is en wat in die veld lê, maar julle weet nie wie hom doodgemaak het nie. 2Dan moet julle leiers en regters gaan meet hoe ver dit is van die stede rondom die plek waar die lyk lê. 3Die leiers van die stad wat die naaste is, moet 'n vers-kalf neem wat nog nie gewerk het nie, 'n kalf wat nog nie 'n juk op haar nek gehad het en 'n ploeg getrek het nie. 4Hulle moet die vers-kalf uitbring na 'n vallei waar daar altyd water is en waar niemand ploeg en saai nie. Hulle moet die vers-kalf se nek daar in die vallei breek. 5Dan moet die priesters van die nageslag van Levi nader kom, want julle God die Here het hulle gekies om vir Hom te werk en om te sê dat Hy mense sal seën. Daardie priesters moet oordeel wanneer mense twis en mekaar seermaak. 6Al die leiers van die stad wat naaste aan die lyk is, moet hulle hande was bokant die dooie vers-kalf 7en hulle moet sê: ‘Ons het nie hierdie persoon doodgemaak nie en ons het nie gesien wie dit gedoen het nie. 8Here, U moet versoening doen vir u volk Israel, U het hulle losgekoop, U moenie u volk Israel straf oor iets wat hulle nie gedoen het nie.’
“Dan sal die Here versoening doen vir die moord. 9Julle self moet alles wegvat wat julle skuldig kan maak, ja, julle moet dinge doen waarvan die Here hou.”
Wanneer iemand trou met 'n vrou wat 'n gevangene is
10“Wanneer jy teen jou vyande gaan oorlog maak, en die Here laat jou wen, en jy maak die mense jou gevangenes, 11dan sal jy miskien tussen die gevangenes 'n mooi vrou sien en verlief word op haar en met haar wil trou. 12Dan moet jy haar na jou huis bring, en sy moet haar hare afskeer en haar naels knip 13en haar klere uittrek, die klere wat wys dat sy 'n gevangene is. Sy moet dan in jou huis bly en 'n maand lank huil en treur oor haar ouers. Daarna kan jy met haar trou en by haar slaap, en dan kan sy jou vrou word. 14As jy later nie meer van haar hou nie, dan moet jy haar laat gaan waarnatoe sy wil gaan. Jy mag haar nie verkoop nie en jy moet haar nie 'n slavin maak nie, want jy het gesê sy móét met jou trou.”
Die reg van die oudste seun
15“'n Man het miskien twee vroue en hy hou baie van die een vrou, maar hy hou nie so baie van die ander vrou nie. Altwee vroue kry miskien seuns, en die oudste seun is die seun van die vrou van wie die man nie so baie hou nie. 16Wanneer die man sê wie sy goed moet erf, dan mag hy nie die regte van die oudste seun gee vir die seun van die vrou van wie hy baie hou nie, want dit is die regte van die oudste seun, die seun van die vrou van wie hy nie so baie hou nie. 17Nee, hy moet wys dat hy weet dat die oudste seun twee maal meer moet erf as die ander seun, ook as hy die seun is van die vrou van wie hy nie so baie hou nie. Hoekom? Want die oudste seun is sy eerste kind, en hý moet die regte van die oudste seun kry.”
'n Hardkoppige en opstandige seun
18“Iemand het miskien 'n seun wat hardkoppig en opstandig is en wat nie luister na sy ouers nie. Die ouers sê vir hom hoe hy moet lewe, maar hy luister nie na hulle nie. 19Dan moet sy ouers hom na die leiers van die stad neem, na die poort van die stad waar hy woon. 20Sy ouers moet vir die leiers van die stad sê: ‘Hierdie seun van ons is hardkoppig en opstandig, hy doen nie wat ons sê nie, hy wil net eet en drink.’
21“Dan moet al die mans van die stad die seun doodgooi met klippe. Julle moet al die dinge wat sleg is, wegvat tussen julle. Al die Israeliete sal daarvan hoor en hulle sal bang word.”
Wanneer die Israeliete iemand ophang aan 'n paal
22“'n Regter straf miskien iemand en laat hom doodmaak, en hulle hang hom op aan 'n paal. 23Dan mag sy lyk nie in die nag aan die paal bly hang nie. Julle moet hom dieselfde dag begrawe. Julle moet dit doen, want God het die persoon vervloek wat aan die paal hang. Julle mag nie die grond ontwy wat julle God die Here vir julle gee om aan julle te behoort nie.”

Currently Selected:

Deuteronomium 21: ABA

Highlight

Share

Copy

None

Want to have your highlights saved across all your devices? Sign up or sign in

YouVersion uses cookies to personalize your experience. By using our website, you accept our use of cookies as described in our Privacy Policy