YouVersion Logo
Search Icon

Deuteronomium 19

19
Daar moet asielstede wees
1Moses het gesê: “Julle God die Here sal die mense laat sterf en Hy sal hulle land vir julle gee. Julle sal hulle wegjaag en julle sal in hulle stede en huise gaan woon. 2Dan moet julle drie stede kies om asielstede te wees in die land wat julle God die Here vir julle gee om vir julleself te vat. 3Julle moet die land in drie dele deel, en daar moet 'n asielstad in elke deel wees, sodat 'n persoon wat iemand anders doodgemaak het, na 'n asielstad kan vlug en maklik daar kan kom. 4As 'n persoon iemand anders doodgemaak het, maar hy wou dit nie doen nie, iemand wat nie voorheen sy vyand was nie, dan mag hy na een van die asielstede vlug sodat hy kan aanhou lewe. 5Byvoorbeeld: Wanneer 'n persoon saam met iemand anders na die bos gaan om hout te kap, en hy swaai die byl om 'n boom af te kap, en die ysterlem gly af van die byl se steel en dit val teen die ander persoon sodat hy sterf, dan mag die persoon wat die byl in sy hand gehad het, vlug na een van hierdie stede, hy mag aanhou lewe. 6As iemand wil vlug en daar is nie 'n asielstad naby nie, dan sal die naaste familielid van die persoon wat dood is, miskien die man wat hom doodgemaak het, kan volg en vang en hy sal die man doodmaak voordat hy by die asielstad kan kom. En dit sal nie reg wees nie, want die man was nie voorheen die persoon se vyand nie, hy moenie sterf nie. 7Dit is hoekom ek sê dat daar drie asielstede moet wees. 8Maar as julle God die Here vir julle 'n groot land gee, die hele land wat Hy aan julle voorvaders belowe het, 9dan moet julle daardie drie stede en nóg drie ander asielstede ook kies. Maar dan moet julle doen wat al die wette sê wat ek vandag vir julle gee. Julle moet lief wees vir julle God die Here en julle moet altyd lewe soos Hy wil hê. 10Julle mag niemand wat onskuldig is, doodmaak in die land wat julle God die Here vir julle gee sodat dit julle land kan wees nie. As dit gebeur, dan sal julle skuldig wees, soos 'n moordenaar.
11“Maar wanneer iemand 'n ander mens haat en hy wag vir hom en hy slaan hom dood en hy vlug dan na een van hierdie asielstede, 12dan moet die leiers van sy stad mense stuur en hulle moet hom wegvat uit die asielstad. Hulle moet hom gee vir die naaste familielid van die man wat hy doodgemaak het, sodat hy ook kan sterf. 13Julle moenie jammer wees vir hom nie, julle moet duidelik wys dat die ander Israeliete nie ook skuldig is nie, hulle het hom nie vermoor nie. Dan sal dit goed gaan met julle.”
Die grense tussen plase moet dieselfde bly
14“Julle moenie die klippe op die grens tussen jou en jou buurman op 'n ander plek sit nie. Mense het voorheen gesê waar die grense moet wees van die plase wat julle sal kry in die land wat julle God die Here vir julle gee sodat julle dit vir julleself kan vat.”
Daar moet twee of drie getuies wees
15“Een getuie alleen mag nie teen iemand getuig en sê dat hy enige iets verkeerd gedoen het nie. Daar moet twee of drie getuies wees wat sê dat hy iets verkeerd gedoen het, so kan hulle bewys dat hulle die waarheid praat. 16'n Getuie wil miskien hê dat dit sleg moet gaan met iemand en dan jok hy en sê dat die persoon verkeerd gedoen het. 17Dan moet hulle altwee voor die Here kom staan, voor die regters en die priesters wat dan daar is, 18en die regters moet baie vrae vir hulle vra. Wanneer die regters dan uitvind dat die getuie nie die waarheid praat nie en dat hy die ander persoon vals beskuldig, 19dan moet hulle die getuie straf. Hy het iemand vals beskuldig, en nou moet hy dieselfde straf kry wat die persoon sou kry. Julle moet duidelik wys dat julle nie skuldig is saam met die vals getuie nie. 20Die ander mense wat dit hoor, moet so groot skrik dat niemand weer so 'n verkeerde ding sal doen nie. 21Julle moet dieselfde doen met almal. As iemand 'n ander persoon vermoor het en sy lewe gevat het, dan moet julle sy lewe ook vat. Die straf is: 'n lewe vir 'n lewe, 'n oog vir 'n oog, 'n tand vir 'n tand, 'n hand vir 'n hand, 'n voet vir 'n voet.”

Currently Selected:

Deuteronomium 19: ABA

Highlight

Share

Copy

None

Want to have your highlights saved across all your devices? Sign up or sign in

YouVersion uses cookies to personalize your experience. By using our website, you accept our use of cookies as described in our Privacy Policy