YouVersion Logo
Search Icon

1 Timoteus 6

6
Slawe
1Almal wat slawe is en wat 'n juk moet dra, moet hulle eienaars respekteer. Die slawe moet dit doen sodat ander mense nie sleg praat van die Naam van God en van die dinge wat ons vir die mense geleer het nie. 2Maar party slawe se eienaars glo in Christus, en daardie slawe moenie dink dat hulle eienaars onbelangrik is omdat die eienaars ook gelowiges is soos die slawe nie. Nee, daardie slawe moet nóg harder werk, want hulle werk vir mense wat ook in Christus glo, en God is lief vir daardie mense.
Pasop vir vals profete
Jy moet aanhou om hierdie dinge vir die mense te leer. Jy moet sê dat hulle dit moet doen. 3Daar is vals profete wat vir die gelowiges ander dinge wil leer. Die vals profete glo nie die woorde van ons Here Jesus Christus nie. Hy het vir ons die regte dinge geleer. Die vals profete glo ook nie die mense wat vir ons leer hoe om vir God te dien nie. 4Die mense wat vir die gelowiges ander dinge wil leer, is hoogmoedig, maar hulle weet niks. Hulle is soos mense wie se gees siek is. Hulle wil altyd met ander mense twis en oor woorde stry. Dan word mense jaloers, hulle stry met mekaar, hulle sê slegte dinge van ander mense en hulle dink slegte dinge van ander mense. 5Hierdie vals profete hou aan om te stry. Hulle kan nie meer reg dink nie, hulle weet nie meer wat die waarheid is nie. Hulle dink dat hulle ryk sal word as hulle vir God dien.
Geld maak 'n mens nie waarlik ryk nie
6Maar wanneer 'n mens vir God dien en jy is ook tevrede met wat jy het, dan het jy baie. 7Want ons het niks ingebring in die wêreld nie, en ons kan ook niks uitneem uit die wêreld nie. 8Daarom moet ons tevrede wees wanneer ons kos en klere het. 9Wanneer mense baie graag ryk wil word, dan doen hulle maklik sonde. Hulle sit soos 'n voël vas in 'n vangstrik. Hulle is dwase wat dinge wil hê wat nie goed is vir hulle nie. Hulle sterf en is soos 'n skip wat in die water sink, daar bly niks oor van hulle nie. 10Wanneer mense lief is vir geld, dan doen hulle baie slegte dinge. Mense wat graag baie geld wou hê, het opgehou om in Christus te glo. So het hulle hulleself baie swaar laat kry.
Paulus wil vir Timoteus bemoedig
11Maar Timoteus, jy behoort aan God. Daarom moet jy wegvlug van hierdie verkeerde dinge. Jy moet aanhou probeer om dinge te doen wat reg is. Jy moet probeer om vir God te dien, om in Christus te glo, om lief te wees vir mense, om aan te hou om dit te doen en om iemand met 'n sagte hart te wees. 12Dit is nie maklik om in Christus te glo nie, dit is soos wanneer iemand hardloop in 'n moeilike resies. Jy moet aanhou om hard te probeer in hierdie resies wat jy hardloop. Jy moet hard probeer om die prys te kry, die prys is die ewige lewe. God het jou geroep om die ewige lewe te kry toe jy reguit gesê het dat jy in Christus glo, baie mense het gehoor toe jy dit gesê het. 13God laat alles lewe, en Christus Jesus het voor Pontius Pilatus reguit gesê wat die waarheid is en wie Hy is. God en Christus Jesus hoor wanneer ek vir jou sê: 14Jy moet presies doen wat ek vir jou gesê het en jy moet heeltemal reg lewe. Jy moet dit doen totdat ons Here Jesus Christus weer sal kom. 15Hy sal op die regte tyd kom. God sal dit laat gebeur. Ons moet God prys, dit is net Hy wat regeer. Hy is die Koning van die konings, Hy is die Here van almal wat regeer. 16Dit is net Hy wat nooit sterf nie, Hy woon in 'n lig wat so blink dat niemand naby Hom kan kom nie. Niemand het vir God gesien nie, nooit nie, en niemand kán Hom sien nie. Ons bid dat die mense altyd vir God sal eer, God wat altyd sterk is. Amen.
Hoe ryk Christene moet lewe
17Daar is mense wat nou ryk is in hierdie wêreld. Jy moet vir hulle sê hulle moenie hoogmoedig wees nie. En hulle moenie dink dat geld en rykdom hulle altyd sal help nie. 'n Mens kan nooit seker wees dat jy altyd ryk sal wees nie. Nee, hulle moet seker weet dat God vir ons alles sal gee wat ons nodig het. Ja, Hy gee vir ons nog meer sodat ons dit kan geniet. 18Die ryk mense moet goeie dinge doen, ja, hulle moet baie goeie dinge doen. Dit is hoe hulle ryk moet wees. Hulle moet baie graag van hulle eie goed vir ander mense gee. 19Wanneer hulle dit doen, dan maak hulle vir hulle goed bymekaar wat later soos 'n vaste fondament sal wees. Hulle moet dit alles doen sodat hulle die ware lewe kan kry.
Paulus se laaste woorde aan Timoteus
20Timoteus, God het baie dinge vir jou gegee, jy moet dit goed oppas, en jy moenie luister na die stories van mense wat niks weet van God nie. Hulle praat baie, maar die dinge wat hulle sê, beteken niks. Hulle stry altyd met mekaar en hulle sê hulle weet die regte dinge, maar dit is nie waar nie. 21Die mense wat hierdie dinge sê, het opgehou om te glo.
Ek bid dat God genadig sal wees vir julle.

Currently Selected:

1 Timoteus 6: ABA

Highlight

Share

Copy

None

Want to have your highlights saved across all your devices? Sign up or sign in

YouVersion uses cookies to personalize your experience. By using our website, you accept our use of cookies as described in our Privacy Policy