YouVersion Logo
Search Icon

1 Timoteus 5

5
Ouer mense en jonger mense in die gemeente
1Jy moenie kwaai praat met 'n man wat baie ouer as jy is nie. Jy moet vir hom sê hoe hy moet lewe, maar jy moet met hom praat soos jy met jou pa praat. Jy moet met die jonger mans praat soos jy met jou broers praat. 2Jy moet ook met ouer vroue praat soos jy met jou ma praat. Wanneer jy met jonger vroue praat, dan moet jy met hulle praat soos jy met jou susters praat, jy moenie aan onsedelike dinge dink nie.
Die weduwees
3Daar is weduwees wat nie familie het wat vir hulle kan sorg nie. Jy moet hulle respekteer en vir hulle sorg. 4Maar wanneer 'n weduwee kinders of kleinkinders het wat vir haar kan sorg, dan moet die kinders of kleinkinders weet dat sy hulle eie familie is en dat hulle vir haar moet sorg. So moet hulle vir God dien. Hulle moet vir hulle ouers en grootouers sorg soos hulle ouers voorheen vir húlle gesorg het. Dit is wat God wil hê hulle moet doen. 5Maar wanneer 'n weduwee alleen oorgebly het en sy het nie familie wat vir haar kan sorg nie, dan kan sy seker weet dat God vir haar sal sorg. Sy sê elke dag en nag vir God wat sy nodig het en sy bid tot Hom. 6Maar 'n weduwee wat altyd dink oor hoe sy die lewe kan geniet, is geestelik dood terwyl sy lewe. 7Jy moet aanhou om hierdie dinge vir die mense te sê, sodat almal heeltemal reg sal lewe. 8Maar wanneer iemand nie vir sy eie mense sorg nie, ook nie vir sy eie huisgesin nie, dan is hy nie meer 'n gelowige nie, dan is hy slegter as die mense wat nie in Christus glo nie.
9Wanneer 'n weduwee 60 jaar oud is, dan mag julle haar naam op die lys van weduwees skryf, maar nie voordat sy 60 jaar oud is nie. En sy moet net een man gehad het. 10Die ander mense moet mooi dinge oor hierdie weduwee kan vertel. Mense moet weet en sê dat sy haar kinders goed grootgemaak het, dat sy goed was vir vreemdelinge, dat sy die voete van ander gelowiges gewas het, dat sy mense gehelp het wat swaargekry het, dat sy baie dinge gedoen het wat goed is. 11Maar jy moenie die jonger weduwees se name op die lys van weduwees skryf nie, want wanneer hulle aan mans dink, dan vergeet hulle miskien dat hulle vir Christus moet werk, en dan wil hulle graag weer trou. 12Dan is hulle skuldig, want hulle doen nie wat hulle vir Christus belowe het nie. 13Hulle leer ook om nie te werk nie, hulle kuier by al die huise. Hulle doen niks, hulle skinder en hulle is nuuskierig oor ander mense, en hulle praat oor dinge waaroor 'n mens nie moet praat nie. 14Ek wil hê die jonger weduwees moet trou en hulle moet kinders kry en goed sorg vir hulle huisgesinne. Dan sal ons vyande nie slegte dinge van ons kan sê nie. 15Party weduwees het klaar begin doen wat die Satan wil hê. 16As 'n vrou wat in Christus glo, weduwees in haar familie het, dan moet sy vir hulle sorg. Sy moenie dink dat die gemeente vir daardie weduwees moet sorg nie. Die gemeente kan dan sorg vir die weduwees wat nie familie het nie.
Die ouderlinge
17Daar is ouderlinge wat goeie leiers is. Die gelowiges moet hulle respekteer en beloon, spesiaal die ouderlinge wat baie hard werk en preek en vir die mense leer. 18Want in die Ou Testament is geskryf: “ Jy mag nie 'n bees se bek toebind wanneer hy op die dorsvloer werk nie.”
En daar is ook geskryf:
Wanneer iemand werk,
dan moet jy hom beloon.
19Julle moenie luister na iemand wat sê dat 'n ouderling verkeerde dinge gedoen het nie, maar wanneer daar twee of drie getuies is, dan moet julle na so iemand luister. 20Wanneer ouderlinge aanhou om sonde te doen, dan moet jy voor die hele gemeente sê dat hulle dinge doen wat verkeerd is. Jy moet dit doen sodat die ander ouderlinge ook bang kan word. 21Ek waarsku jou ernstig. God en Christus Jesus en God se engele wat Hy gekies het om Hom te dien, hoor wat ek sê: Wanneer jy met die gemeente oor hierdie dinge praat, dan moet jy nie voor die tyd besluit wie is reg en wie is verkeerd nie, jy moet ook nie besluit om een persoon meer te help as 'n ander persoon nie. 22Jy moenie te gou besluit om iemand te kies om 'n ouderling te wees en om jou hande op hom te sit nie, want as hy miskien sonde gedoen het, dan sal God vir jou ook straf saam met hom. Jy self moet heeltemal reg lewe. 23Jy moenie aanhou om net water te drink nie. Jy moet ook 'n bietjie wyn drink vir jou maag, want jy is baie maal siek.
24'n Mens kan party mense se sondes maklik sien, jy weet dat God hulle sal oordeel. Maar ander mense se sondes sien jy later. 25So kan 'n mens ook baie maklik sien dat party mense goeie dinge doen. En as 'n mens dit nie nou kan sien nie, dan sal jy dit later sien.

Currently Selected:

1 Timoteus 5: ABA

Highlight

Share

Copy

None

Want to have your highlights saved across all your devices? Sign up or sign in

YouVersion uses cookies to personalize your experience. By using our website, you accept our use of cookies as described in our Privacy Policy