YouVersion Logo
Search Icon

1 Korintiërs 3

3
Hoekom is groepe mense teen mekaar?
1Vriende, ek kon nie met julle praat soos met geestelike mense nie. Ek het met julle gepraat soos met wêreldse mense, soos met klein kindertjies wat vir die eerste maal van Christus gehoor het. 2Ek het vir julle melk gegee soos vir klein kindertjies. Ek het nie vir julle grootmenskos gegee nie, want julle kon dit nie eet nie. Julle kan dit ook nou nog nie eet nie. 3Julle is nog wêreldse mense, want julle is jaloers op mekaar en julle twis met mekaar. Dit wys dat julle wêreldse mense is, julle doen wat die mense van die wêreld doen. 4Party van julle sê: “Ek behoort aan Paulus,” ander sê: “Ek behoort aan Apollos.” Wanneer julle so sê, dan doen julle wat die mense van die wêreld doen.
5Apollos en ek, Paulus, is nie belangrik nie. Ons is net mense wat vir julle gehelp het om te begin glo. Die Here het vir my en Apollos elkeen 'n werk gegee. 6Ek het die saad van die boodskap van God geplant en Apollos het dit natgegooi, maar dit is God wat dit laat groei het. 7Die persoon wat plant en die persoon wat natgooi, is nie belangrik nie. Die Persoon wat laat groei, is belangrik, en dit is God. 8Die persoon wat plant, doen nie belangriker werk as die persoon wat natgooi nie. God sal elkeen beloon vir die werk wat hy gedoen het. 9Ons werk almal saam vir God. En julle is soos 'n stuk grond waar God besig is om te werk.
Die gelowiges is die gebou en die tempel van God
Julle is 'n gebou van God. 10God was genadig vir my. Hy het gesê ek mag die fondament bou. Toe het ek soos 'n goeie bouer die fondament gebou, en 'n ander bouer bou verder daarop. Elkeen moet goed kyk hoe hy daarop bou. 11Niemand kan 'n ander fondament bou nie, want daar is klaar 'n fondament. Hierdie fondament is Jesus Christus. 12'n Mens kan op hierdie fondament bou met goud, silwer, edelstene, hout, gras of strooi. 13Wanneer die Here kom, dan sal almal kan sien waarmee elkeen gebou het, want op daardie dag sal daar ook vuur kom. Die vuur sal elkeen se bouwerk toets om te kyk of hy goed gebou het. 14Wanneer iemand op die fondament gebou het, en sy werk bly staan, dan sal die Here daardie persoon beloon. 15Maar as iemand se werk verbrand, dan sal daardie persoon alles verloor. Maar die Here sal die persoon self red, Hy sal die persoon uit die vuur red.
16Julle moet onthou dat julle die tempel van God is en dat die Gees van God in julle woon. 17As iemand die tempel van God ontwy, dan sal God daardie persoon straf, want die tempel van God behoort aan God. En júlle is daardie tempel.
18Julle moenie julleself bedrieg nie. Een van julle dink miskien hy is slim in hierdie wêreld, maar hy sal eers regtig slim wees wanneer hy weet hy is dom by God. 19Hoekom? Want God sê die slim dinge van die wêreld is dom. In die Ou Testament is geskryf:
God vang die slim mense
met hulle eie slim planne.
20Daar is ook geskryf:
Die Here ken die planne
wat die slim mense
van die wêreld maak.
Hy weet dit beteken niks.
21Daarom moet julle nie spog dat julle aan 'n belangrike leier van die gemeente behoort nie, want al hierdie leiers, ja alle dinge, behoort aan julle. 22Paulus en Apollos en Sefas en die wêreld en die lewe en die dood en die belangrike dinge van hierdie lewe en van die lewe wat eendag kom, ja, alles behoort aan julle. 23En julle behoort aan Christus, en Christus behoort aan God.

Currently Selected:

1 Korintiërs 3: ABA

Highlight

Share

Copy

None

Want to have your highlights saved across all your devices? Sign up or sign in

YouVersion uses cookies to personalize your experience. By using our website, you accept our use of cookies as described in our Privacy Policy