YouVersion Logo
Search Icon

JEREMIA 14

14
Droogte in Juda
1Dit is die boodskap wat die Here vir Jeremia oor die droogte gegee het:
2“Juda verdor,
sy besighede speel bankrot.
Sy mense rou oor die land,
en uit Jerusalem
klink ’n hulpgeroep.
3Die vername mense
stuur hulle diensknegte
om water te gaan haal,
maar die putte is droog.
Hulle kom met leë houers terug.
Hulle maak hulle koppe toe,
dronkgeslaan en moedeloos.
4Omdat dit nie gereën het nie,
bars die grond.
Die boere is ontsteld
en maak hulle koppe toe.
5Selfs die wildsbokooi
gooi haar lammetjie weg
omdat daar nie gras is nie.
6Die wildedonkies
staan op die kaal bulte
en snuif die lug
soos jakkalse wat dors is.
Hulle oë verdof,
want daar is nie gras om te eet nie.”
7Here, ons sondes
het ons nou ingehaal.
Help ons
ter wille van u eie reputasie.
Ons het baie keer
teen U gesondig.
8U is Israel se enigste hoop,
ons Verlosser in krisistye!
Hoekom is U ’n vreemdeling
vir ons?
Hoekom is U soos iemand
wat reis deur die land
en net ’n nag oorslaap?
9Hoekom tree U op
soos iemand wat verward is,
soos ’n soldaat wat ons
nie kan help nie?
Maar U, Here, is mos by ons.
Ons is immers u volk.
Moet ons tog nie
aan ons lot oorlaat nie!”
10Die Here het sy volk
soos volg geantwoord:
“Julle hou mos daarvan
om van My af te dwaal.
Daarom aanvaar Ek
julle nie meer as my volk nie.
Ek sal nou
al julle boosheid onthou
en julle straf
vir julle sondes.”
Jeremia mag nie vir die volk bid nie
11Die Here het vir my gesê: “Moenie meer vir hierdie volk bid dat dit met hulle goed moet gaan nie. 12Selfs al vas hulle, sal Ek My nie aan hulle geroep steur nie. En al bring hulle ook brandoffers en graanoffers vir My, sal Ek dit nie aanvaar nie. Ek sal met hulle klaarspeel deur oorloë, hongersnood en siekte op hulle pad te bring.”
13Maar toe sê ek: “Oppermagtige Here, hulle profete sê vir hulle: ‘Julle sal nie oorlog of hongersnood beleef nie. Die Here sal verseker vir julle vrede bring.’”
14Die Here het toe vir my gesê: “Hierdie profete vertel leuens in my Naam. Ek het hulle nie gestuur nie. Nog minder het Ek hulle opdrag gegee om met julle te praat. Wat hulle sien, is vals en wat hulle van God bekendmaak, is niks werd nie. Dit is ’n spul leuens wat hulle self uitdink. 15Daarom sê die Here oor die profete: Ek sal die profete wat kamtig namens My praat, straf. Ek het hulle nie gestuur nie. Hulle sê mos dat daar nie oorlog of hongersnood in hierdie land sal kom nie. Hulle sal egter self in oorlog of van honger doodgaan! 16Die mense vir wie hulle profeteer, se lyke sal oral in die strate van Jerusalem lê. Mans, vroue en kinders sal slagoffers wees van hongersnood of van oorlog. Niemand sal oorleef om hulle te begrawe nie. Ek bring hulle eie oortredings oor hulle.
17“Jeremia, sê vir hulle:
‘Dag en nag
loop trane uit my oë.
Ek kan nie ophou huil nie.
Want my volk is soos ’n jong meisie
wat swaar gewond is
en besig is om dood te bloei.
18As ek in die veld kom,
sien ek oral mense lê
wat gewelddadig gesterf het.
Al wat ek sien as ek
in die strate van die stad loop,
is mense wat van honger
gesterf het.
Die profete en priesters
gaan aan met hulle werk,
maar hulle weet nie wat hulle doen nie.’”
Gebed om genesing
19Het U Juda nou totaal verwerp?
Haat U werklik vir Jerusalem#14:19 Grondteks Sion.?
Waarom het U ons so verwond
dat niemand
ons gesond kan maak nie?
Ons het vrede verwag,
maar daar was geen vrede nie.
Ons het gehoop
op genesing,
maar verskrikking
het gekom.
20 Here, ons bely ons
verkeerde dinge
wat ons en ons voorouers
gedoen het!
Ons het teenoor U gesondig.
21Ek vra dat U,
ter wille van Uself,
ons nie sal verwerp nie.
Moenie dat daar skade kom
aan u roemryke troon nie.
Moenie u verbond met ons
verbreek nie.
Moenie ons vergeet nie.
22Kan enige van die vreemde
afgode vir ons reën gee?
Val die reën
sommer vanself
uit die hemel?
Nee, dit kom van U af,
Here, ons God!
Dit is net U wat sulke dinge
kan doen.
Ons sal wag
tot U ons help.

Currently Selected:

JEREMIA 14: NLV

Highlight

Share

Copy

None

Want to have your highlights saved across all your devices? Sign up or sign in

YouVersion uses cookies to personalize your experience. By using our website, you accept our use of cookies as described in our Privacy Policy