YouVersion Logo
Search Icon

JEREMIA 15

15
Die Here se oordeel oor Juda
1Die Here het toe vir my gesê: “Selfs al sou Moses en Samuel voor My gestaan en vir hierdie mense gepleit het, sou Ek hulle nie jammer gekry het nie. Stuur hulle weg, Ek wil hulle nie sien nie! 2En as hulle vir jou vra: ‘Waarheen moet ons gaan?’ sê vir hulle die Here sê:
“‘Wie bestem is vir die dood,
na die dood.
Wie bestem is vir die oorlog,
na die oorlog.
Wie bestem is vir hongersnood,
na die hongersnood.
En wie bestem is vir gevangenskap,
na die gevangenskap.’
3“Ek sal vier soorte vernietigers teen hulle stuur,” sê die Here: “Die swaard om dood te maak, honde om hulle weg te sleep en aasvoëls om op te vreet en wilde diere om te vernietig.
4“Ek sal van my volk ’n voorwerp van afsku maak vir al die koninkryke van die aarde. Ek doen dit oor wat koning Manasse, die seun van Hiskia, koning van Juda, in Jerusalem gedoen het.
5“Wie sal julle jammer kry,
Jerusalem?
Wie sal oor julle huil?
Wie sal nog moeite doen
om te vra hoe dit
met julle gaan?
6Julle het My
in die steek gelaat,”
sê die Here.
“Julle steur julle nie aan My nie.
Daarom sal Ek sorg dat daar
niks van julle oorbly nie.
Ek is moeg daarvan om julle
altyd nog ’n kans te gee.
7Ek sal julle uitwan
soos kaf by die dorsvloer.
Ek sal alles wat julle
na aan die hart lê,
wegvat.
Ek sal my volk vernietig
omdat hulle weier
om hulle van hulle bose lewe
te bekeer.
8Daar sal meer weduwees wees
as sand in die see.
Laatmiddag bring Ek ’n vyand
wat die ma’s
van jong mans
sal oorval.
Ek sal angs en vrees
skielik oor hulle laat toesak.
9’n Ma van sewe kinders
sal swak voel
en na haar asem snak.
Die son het vir haar gesak,
al is dit nog dag.
Sy is nou kinderloos –
wat ’n vernedering is dit nie!
Dié wat oorleef,
sal Ek aan die vyand oorgee
om hulle dood te maak,”
sê die Here.
Jeremia se klagte
10“Wee my, Ma, dat u my
in die wêreld gebring het.
Deur die hele land
baklei mense met my.
Al het ek niks uitgeleen
wat ek terugvra
of by ander geleen
wat ek nie wil teruggee nie,
vervloek almal my.”
11Die Here het geantwoord:
“Dit sal goed gaan met jou.
In tye van nood en ellende
sal jou vyande jou vra
om vir hulle in te tree by My.
12“Kan ’n mens ’n stuk yster breek,
of brons wat uit die noorde kom?
13Jou rykdom en besittings
sal Ek as buit
vir die vyand gee
oor al jou verkeerde dade.
14Ek laat jou vyande
jou wegneem om as ballinge
in ’n vreemde land te gaan leef.
Want my woede brand soos ’n vuur
en sal julle verteer.”
15Here, U weet alles.
Dink tog aan my en help my.
Straf die mense wat my vervolg!
Moenie toelaat dat hulle my
doodmaak nie!
Wees genadig!
Neem tog in ag dat ek
ter wille van U bespot is.
16Toe U gepraat het,
het ek noukeurig geluister.
Ek het elke woord ingeneem.
U woorde het my bly gemaak.
Dit het my opgewonde gemaak
om te weet
dat ek aan U behoort,
o Here, God, die Almagtige.
17Ek het nooit
na die volk se vrolike partytjies
gegaan nie.
Ek het alleen gesit
omdat u hand op my was.
Ek was verontwaardig
oor hulle sonde.
18Waarom hou my lyding
dan net aan en aan?
Waarom genees my wonde nie?
U hulp is vir my so bedrieglik
soos ’n wisselvallige waterstroom,
soos ’n fontein wat opdroog.”
Ek sal jou help en jou red
19Die Here antwoord toe:
“As jy terugkom na My toe,
sal Ek jou herstel
sodat jy My weer kan dien.
As jy ophou
om onverantwoordelike
dinge te sê,
sal jy namens My kan praat.
Jy moet hulle beïnvloed,
nie hulle vir jou nie.
20Ek maak jou ’n muur van brons
vir hierdie volk.
Hulle sal teen jou veg,
maar sal jou nie oorwin nie.
Ek sal jou beskerm
en jou red,” sê die Here.
21“Ek sal jou red
uit die mag
van hierdie slegte mense,
en jou beskerm
teen hulle wreedheid.”

Currently Selected:

JEREMIA 15: NLV

Highlight

Share

Copy

None

Want to have your highlights saved across all your devices? Sign up or sign in

YouVersion uses cookies to personalize your experience. By using our website, you accept our use of cookies as described in our Privacy Policy