YouVersion Logo
Search Icon

GENESIS 3

3
Die mens oortree God se verbod
1Die slang was listiger as al die diere wat die Here God gemaak het. “Is dit regtig so?” vra hy vir die vrou. “Het God regtig gesê julle mag niks van die vrugte in die tuin eet nie?”
2“Natuurlik mag ons van die vrugte eet,” sê die vrou. 3“Dis net van die vrugte van die boom in die middel van die tuin wat ons nie mag eet nie of selfs aan raak nie, anders sal ons sterf.”
4“Julle sal nie sterf nie!” sê die slang. 5“God weet dat julle oë sal oopgaan wanneer julle daarvan eet. Julle sal dan net soos God wees en weet van goed en kwaad.”
6Dit het die vrou oortuig. Wanneer sy na die boom kyk, lyk die vrugte mooi en aanloklik, geskik om ’n mens verstandig en slim te maak. Sy pluk ’n vrug van die boom, eet daarvan en gee vir haar man by haar; en hy het ook geëet. 7Toe gaan hulle oë werklik oop en besef hulle dat hulle sonder klere is. Hulle het vyeblare aanmekaargewerk en vir hulle omgehang om hulleself toe te maak.
8Teen die aand hoor hulle hoe die Here God in die tuin loop. Hulle kruip toe weg tussen die bome. 9Die Here God het toe na die mens geroep: “Waar is jy?”
10Hy antwoord: “Ek het U hoor aankom in die tuin en gaan wegkruip. Ek was bang omdat ek sonder klere is.”
11“Wie het vir jou gesê dat jy sonder klere is?” vra die Here God. “Het jy dan van die boom geëet wat Ek jou beveel het om nie te eet nie?”
12“Ja,” erken die mens, “dit was die vrou wat U aan my gegee het wat die vrugte vir my aangebied het, en toe het ek daarvan geëet.”
13Daarop vra die Here God vir die vrou: “Hoe kon jy so ’n ding doen?”
“Die slang het my bedrieg,” antwoord sy. “Dis hoekom ek geëet het.”
14Toe sê die Here God vir die slang: “Omdat jy dit gedoen het, is jy vervloek onder al die diere op die aarde. Op jou pens sal jy seil en stof sal jy eet so lank as wat jy lewe. 15Van nou af sal jy en die vrou vyande wees. Dit geld ook vir jou nageslag en haar nageslag. Haar nageslag sal jou kop inslaan en jy sal hom noodlottig aan die hakskeen byt.”
16Vir die vrou sê Hy: “Ek sal jou swangerskap moeilik maak; met pyn en lyding sal jy kinders in die wêreld bring. Jou begeerte sal na jou man wees, maar hy sal oor jou heers.”
17Vir die mens sê Hy: “Jy het jou deur jou vrou laat ompraat en van die vrugte geëet wat Ek jou verbied het om te doen. Daarom vervloek Ek die grond. Jou hele lewe lank sal jy met swaarkry sukkel om ’n bestaan daaruit te maak. 18Dit sal vir jou dorings en dissels oplewer en jy sal van die plante van die veld eet. 19Jou hele lewe lank, tot die einde van jou dae, sal jy met moeite werk om iets te hê om te eet. Aan die einde van jou lewe sal jy weer terugkeer na die grond waaruit jy geneem is. Want jy is van stof gemaak en jy sal weer stof word.”
20Die mens het sy vrou Eva#3:20 Eva klink na ’n Hebreeuse woord wat beteken om lewe te gee. genoem omdat sy die moeder sou word van alle mense op die hele aarde. 21Toe het die Here God vir die mens en sy vrou klere van vel gemaak en hulle dit laat aantrek.
22Daarna sê die Here God: “Die mens het nou soos een van Ons geword deurdat hulle ook weet van goed en kwaad. Wat sal gebeur as hulle van die vrugte van die boom van die lewe vat en eet? Hulle sal dan vir altyd lewe!” 23Die Here God het daarom die mens uit die Tuin van Eden weggestuur om die grond te gaan bewerk waaruit hy geneem is. 24Nadat die Here God hulle uit die tuin verban het, het Hy gerubs oos van Eden aangestel om met ’n vlammende swaard, wat heen en weer beweeg, die toegang tot die boom van die lewe te bewaak.

Currently Selected:

GENESIS 3: NLV

Highlight

Share

Copy

None

Want to have your highlights saved across all your devices? Sign up or sign in

YouVersion uses cookies to personalize your experience. By using our website, you accept our use of cookies as described in our Privacy Policy