YouVersion Logo
Search Icon

GENESIS 4

4
Kain en Abel
1Die mens het by sy vrou, Eva, geslaap en sy het swanger geword. Sy het geboorte gegee aan Kain#4:1a Kain is in Hebreeus ’n woordspeling met verkry.. Sy sê toe: “Met die hulp van die Here het ek ’n man voortgebring!”#4:1b Of Ek het van die Here ’n man verkry. 2Daarna het sy geboorte gegee aan sy broer Abel#4:2 Abel beteken nietigheid.. Toe hulle groot was, het Abel ’n veeboer geword en Kain ’n landbouer. 3Toe oestyd aanbreek, het Kain uit die opbrengs van sy landerye ’n offer vir die Here gebring. 4Abel het die beste uit sy lammers, die eerstelinge van die seisoen, en van hulle vet as offer gebring. Die Here het Abel en sy offer aanvaar, 5maar nie dié van Kain nie. Daaroor was Kain baie kwaad en neerslagtig.
6“Hoekom is jy so kwaad?” vra die Here vir hom. “Hoekom hang jou gesig so? 7Is daar nie aanvaarding vir jou as jy reg optree nie? Maar as jy weier om reg te doen, moet jy oppas! Sonde hurk by die deur om jou te oorweldig, maar jy moet dit oorwin.”
8Kain het met sy broer Abel gepraat en terwyl hulle in die veld was, het Kain sy broer Abel aangeval en hom doodgeslaan.
9Daarna vra die Here vir Kain: “Waar is Abel jou broer?”
“Ek weet nie!” is sy skerp antwoord. “Ek is mos nie sy oppasser nie!”
10Maar die Here sê vir hom: “Wat het jy nou aangevang? Die bloed van jou broer roep na My daar waar dit op die grond geval het! 11Daarom word jy verban van die grond wat jou broer se bloed uit jou hand ontvang het. 12Dit sal nie meer vir jou ’n goeie oes lewer nie, al werk jy hoe hard daarvoor. Van nou af sal jy ’n vlugteling en ’n swerwer op aarde wees.”
13Kain antwoord die Here: “My straf is te groot om te dra! 14U het my verban van my grond af en uit u teenwoordigheid. U het my ’n swerwende vlugteling op aarde gemaak. Elkeen wat my teëkom, sal my wil doodmaak!”
15Die Here antwoord hom: “Nee, hulle sal jou nie doodmaak nie, want enigiemand wat jou doodmaak, sal sewe maal gestraf word.” Toe sit die Here God ’n teken aan hom sodat niemand wat hom teëkom hom sal doodmaak nie.
Kain se familie
16Kain het van die Here God se teenwoordigheid af weggegaan en in die land Nod#4:16 Nod beteken Swerwersland., oos van Eden, gaan woon.
17Kain het by sy vrou geslaap, sy het swanger geword en geboorte gegee aan Henog. Kain het ’n stad gebou en dit vernoem na sy seun Henog.
18Henog was die pa van Irad. Irad was die pa van Megujael. Megujael was die pa van Metusael. Metusael was die pa van Lameg.
19Lameg het met twee vroue, Ada en Silla, getrou. 20Ada was die ma van Jabal. Hy was die voorvader van die veeboere wat in tente gewoon het. 21Die naam van sy broer was Jubal. Hy was die voorvader van die musikante wat op die harp en die fluit gespeel het. 22Tubal-Kain was die seun van Silla. Hy was die voorvader van die metaalwerkers wat instrumente uit koper en yster gemaak het. Sy suster se naam was Naäma.
23Op ’n dag sê Lameg vir sy twee vroue Ada en Silla:
“Vroue van Lameg,
hoor wat ek vir julle sê!
Luister na wat ek sê.
’n Man wat my wond, maak ek dood,
ja, selfs ’n jong man wat my aanval.
24Kain se dood sal sewe maal gewreek word,
maar Lameg s’n 77 maal!”
25Adam het weer by sy vrou geslaap en sy het ’n seun in die wêreld gebring. Sy het hom Set#4:25 Set is in Hebreeus ’n woordspeling met gegee. genoem, want sy het gesê: “God het vir my ’n ander seun gegee in die plek van Abel wat deur Kain doodgemaak is.” 26Ook Set het ’n seun gehad wat hy Enos genoem het. In hierdie tyd het die mense die Here begin aanbid.

Currently Selected:

GENESIS 4: NLV

Highlight

Share

Copy

None

Want to have your highlights saved across all your devices? Sign up or sign in

YouVersion uses cookies to personalize your experience. By using our website, you accept our use of cookies as described in our Privacy Policy