YouVersion Logo
Search Icon

SAGARIA 8

8
Beloftes van seën vir Jerusalem
1Daar was nog ’n boodskap van die Here, die Almagtige, aan my. 2Dit is wat die Here, die Almagtige, sê: “My liefde vir Sion is baie sterk. Ek is passievol oor Jerusalem.” 3So sê die Here: “Ek keer terug na Sion, Ek gaan in Jerusalem woon. Jerusalem sal genoem word Stad van Trou, die berg van die Here, die Almagtige, sal genoem word Heilige Berg.” 4Dit is wat die Here, die Almagtige, sê: “Ou mans en vroue sal weer op die pleine van Jerusalem sit, elkeen met ’n kierie omdat hulle so oud is. 5Die strate van die stad sal weer vol seuns en dogters wees wat daar speel.”
6Dit is wat die Here, die Almagtige, sê: “Al hierdie dinge lyk dalk vandag vir julle, ’n klein en mismoedige oorblyfsel van God se volk, onmoontlik. Maar dink julle dit is onmoontlik vir My, die Here, die Almagtige?” 7Dit is wat die Here, die Almagtige, sê: “Julle kan daarvan seker wees dat Ek my volk gaan red van die nasies in die ooste en die weste. 8Ek gaan hulle weer tuis laat kom en veilig in Jerusalem laat woon. Hulle sal my volk wees en Ek sal in trou en regverdigheid hulle God wees.”
9Dit is wat die Here, die Almagtige, sê: “Wees sterk! Julle het gehoor wat die profete destyds oor die bou van die tempel van die Here, die Almagtige, gesê het, die dag dat die fondamente gelê is. 10Voor die werk aan die tempel begin het, was daar nie werk nie en ook nie lone nie, nie vir mense nie en ook nie vir diere nie. Geen reisiger was veilig teen vyande nie omdat daar van alle kante vyande was. Ek het al die mense teen mekaar laat draai. 11Nou sal Ek die oorblyfsel van my volk nie behandel soos wat Ek hulle vroeër behandel het nie,” sê die Here, die Almagtige. 12“Ek saai die saad van vrede en voorspoed onder julle. Die wingerde sal swaar dra aan druiwe. Die aarde sal sy opbrengs lewer en die hemel sal dou lewer. Ek sal weer ’n keer die oorblyfsel van Juda en Israel die erfgename van hierdie seëninge maak. 13Juda en Israel het onder die nasies simbole geword van wat dit beteken om vervloek te wees. Maar nie langer nie! Nou sal Ek julle red en julle ’n simbool en ’n bron van seën maak. Moenie bang of mismoedig wees nie. Wees sterk!”
14Dit is wat die Here, die Almagtige, sê: “Ek het nie van plan verander toe julle voorouers My kwaad gemaak en Ek besluit het om hulle te straf nie,” sê die Here, die Almagtige. 15“Net so sal Ek ook nie my besluit om Jerusalem en die volk van Juda te seën, verander nie. Moenie bang wees nie!
16“Dit is wat julle moet doen: Praat die waarheid met mekaar. Maak seker dat die regspraak in julle howe regverdig is en tot vrede lei. 17Moenie bose planne maak om mekaar kwaad aan te doen nie. Hou op om vals te sweer. Ek haat al hierdie soort dinge,” sê die Here.
18Hier is nog ’n boodskap van die Here, die Almagtige, wat tot my gekom het.
19Dit is wat die Here, die Almagtige, sê: “Die tradisionele tye van vas en rou wat julle vroeg somer, in die middel van die somer, in herfs en winter#8:19 Grondteks in die vierde, vyfde, sewende en tiende maand. gehou het, kom nou tot ’n einde. Dit word nou feeste van vrolikheid en vreugde vir die volk van Juda. Julle moet waarheid en vrede liefhê.”
20Dit is wat die Here, die Almagtige, sê: “Mense van ander nasies en stede van die wêreld sal na Jerusalem#8:20 na Jerusalem word geïmpliseer in die oorspronklike teks. toe kom. 21Mense van een stad sal aan die mense van ’n ander stad sê: ‘Kom ons gaan na Jerusalem toe en vra daar vir die Here om ons te seën en om die Here, die Almagtige, te soek. Ek gaan om dit te doen!’ 22Mense van baie nasies, selfs groot nasies, sal Jerusalem toe kom om die Here, die Almagtige, te soek en om te vra dat die Here hulle sal seën.”
23Dit is wat die Here, die Almagtige, sê: “In daardie tyd sal tien mense uit al die nasies en tale van die wêreld een Judeër aan sy kleed gryp en sê: ‘Ons wil saam met julle gaan, want ons het gehoor God is by julle.’”

Currently Selected:

SAGARIA 8: NLV

Highlight

Share

Copy

None

Want to have your highlights saved across all your devices? Sign up or sign in

YouVersion uses cookies to personalize your experience. By using our website, you accept our use of cookies as described in our Privacy Policy