YouVersion Logo
Search Icon

MALEAGI 1

1
1Die Here het vir Maleagi ’n boodskap gegee om aan Israel oor te dra.
Die Here se liefde vir Israel
2Die Here sê: “Ek het julle lief.”
Julle reaksie was: “Hoe het U ons liefgehad?”
Hierop het die Here geantwoord: “Is Esau nie Jakob se broer nie? Tog het Ek Jakob liefgehad, 3maar Esau verwerp. Ek het sy heuwelagtige grondgebied verlate gemaak en sy erfdeel verander in ’n woestyn, bestem vir jakkalse.”
4Toe het Esau se afstammelinge, die mense van Edom hierop gereageer en gesê: “Ons is platgeslaan, maar ons sal die bouvalle weer opbou.”
Die Here, die Almagtige, het so daarop geantwoord: “Hulle kan maar probeer om herstelwerk te doen. Ek sal dit net weer vernietig! Hulle land sal bekend staan as ‘Die Land van Boosheid’ en die volk as ‘Die volk vir wie die Here vir altyd kwaad sal wees’. 5As julle die vernietiging met julle eie oë sien, sal julle sê: ‘Die grootheid van die Here strek baie verder as ons landsgrense!’”
Nuttelose offers
6Vir die priesters sê die Here, die Almagtige:
“’n Seun eer sy pa
en ’n slaaf sy meester.
Ek is julle Vader en julle Meester,
maar waar is die eer en respek
wat My toekom?
Julle het My geminag!
Maar julle vra:
‘Op watter wyse
het ons U geminag?’
7Julle bring vir My offers
van voedsel wat besoedeld is.
Dan vra julle:
‘Hoe het ons u offer onrein
gemaak?’
Julle het dit gedoen deur te sê
die Here se altaar
kan maar geminag word.”
8Die Here, die Almagtige, sê:
“Is dit nie verkeerd
as julle blinde diere bring
om te offer nie?
Is dit nie ook verkeerd
om lam en siek diere
te offer nie?
Bring ’n bietjie sulke geskenke
vir julle goewerneur
en kyk of hy daarmee tevrede sal wees
en julle vriendelik sal ontvang!
9Roep God aan en smeek Hom
om julle genadig te wees!
Maar as dit die soort offers is
wat julle bring,
hoekom sal Ek
julle goedgesind wees?”
vra die Here, die Almagtige.
10“Ek wens iemand van julle wil die tempeldeure toesluit sodat julle nie meer nuttelose offers kan bring nie! Ek is glad nie tevrede met julle nie. Ek stel nie in julle offers belang nie,” sê die Here, die Almagtige.
11“Daar is nasies wat My eer van waar die son opkom tot waar dit weer ondergaan. Oral eer hulle My deur wierookoffers en rein offers te bring. Die nasies het groot ontsag vir my Naam,” sê die Here, die Almagtige.
12“Julle bewys nie respek deur dit wat julle doen nie. Met die veragtelike offers wat julle bring, sê julle eintlik dat julle die altaar van die Here minag. 13Julle sê: ‘Dit is moeilik om Hom te dien’ en dan trek julle ook nog julle neuse daarvoor op,” sê die Here, die Almagtige!
“Julle bring gesteelde, lam en siek diere en bied dit as offers aan! Moet Ek nou tevrede wees met dit wat julle bring?” vra die Here.
14“Daar rus ’n vloek op die bedrieërs wat beloof om ’n ram uit hulle kudde te gee, maar dan ’n verminkte dier aan die Here offer.” Die Here, die Almagtige, sê: “Is Ek nie ’n groot Koning nie? Selfs die nasies het groot ontsag vir My!”

Currently Selected:

MALEAGI 1: NLV

Highlight

Share

Copy

None

Want to have your highlights saved across all your devices? Sign up or sign in

YouVersion uses cookies to personalize your experience. By using our website, you accept our use of cookies as described in our Privacy Policy