YouVersion Logo
Search Icon

SAGARIA 14

14
Die Here sal oor die aarde regeer
1Kyk, die Dag van die Here kom wanneer al jou besittings reg voor jou geplunder gaan word. 2Op daardie dag sal Ek al die nasies bymekaarmaak om teen Jerusalem oorlog te maak. Die stad sal ingeneem word, die huise geplunder en die vroue sal verkrag word. Die helfte van die stad se inwoners sal in ballingskap gaan en die ander helfte sal oorleef tussen die ruïnes van die stad.
3Dan sal die Here oorlog voer teen daardie nasies, net soos Hy in die verlede gedoen het. 4Op daardie dag sal sy voete op die Olyfberg staan, aan die oostekant van Jerusalem. Die Olyfberg sal middeldeur skeur en so sal ’n vallei wat van oos na wes loop, gevorm word, want die een helfte van die berg sal noord skuif en die ander helfte van die berg sal suid skuif. 5Julle sal deur hierdie vallei vlug, want dit sal tot by Asal strek. Ja, julle sal vlug soos julle vir die aardbewing gevlug het in die tyd van koning Ussia van Juda. Dan sal die Here my God kom en al die heiliges saam met Hom.
6Op daardie dag sal daar geen lig wees nie, ook nie koue of ryp nie. 7Tog sal dit aanhoudend dag wees! Net die Here weet hoe dit kan gebeur! Daar sal geen normale dag of nag wees nie, want teen die aand se kant sal dit steeds lig wees. 8Op daardie dag sal daar lewegewende water uit Jerusalem vloei, een deel in die rigting van die Dooie See en ’n ander deel na die Middellandse See#14:8 Grondteks westelike see., somer en winter sal dit so wees.
9Die Here sal koning wees oor die hele aarde. Op daardie dag sal daar een Here wees en net sy Naam sal aanbid word. 10Die hele land van Geba af tot by Rimmon, suid van Jerusalem, sal een groot plein word, maar Jerusalem sal gelig word tot sy oorspronklike posisie en sal bewoon word vanaf die Benjaminpoort tot by die plek waar die ou poort was, dan tot by die Hoekpoort, en van die Gananelpoort af tot by die koning se wynperse. 11Jerusalem sal bewoon word, ’n veilige plek en wat nooit weer vervloek of verwoes sal word nie.
12Die Here gaan al die nasies wat teen Jerusalem veg, met ’n plaag tref. Hulle sal soos wandelende lyke word terwyl hulle vleis wegvrot. Hulle oë sal wegkrimp in hulle oogkasse en hulle tonge sal wegvrot in hulle monde.
13Op daardie dag sal hulle paniekbevange raak. Die Here sal hulle tref met ’n groot verwarring. Hulle sal mekaar te lyf gaan.
14Juda sal ook in Jerusalem veg. Die rykdom van al die naburige volke sal bymekaargemaak word, groot hoeveelhede goud en silwer en klere. 15Dieselfde plaag sal ook die perde, muile, kamele, donkies en al die ander diere in die vyand se kampe tref.
16Uiteindelik sal die vyande van Jerusalem wat die plaag oorleef het, elke jaar optrek na Jerusalem toe om die Koning, die Here, die Almagtige, te aanbid en om die Huttefees te vier. 17Enige nasie iewers in die wêreld wat weier om na Jerusalem te kom om die Koning, die Here, die Almagtige, te aanbid, sal nie reën kry nie.
18As die volk van Egipte weier om die fees by te woon, sal die Here hulle straf met dieselfde plaag waarmee Hy ander nasies wat geweier het om te kom, tref. 19Egipte en die ander nasies sal almal gestraf word as hulle nie die Huttefees vier nie.
20Op daardie dag sal daar selfs op die klokke van die perde se tuie geskryf staan: Heilig vir die Here. Die potte in die tempel van die Here sal net so heilig wees as die bakke wat langs die altaar gebruik word. 21Elke pot in Jerusalem en Juda sal heilig vir die Here, die Almagtige, wees. Enigiemand wat kom offer, sal vry wees om enige pot te gebruik waarin hulle offers kan kook. Op daardie dag sal daar nie meer handelaars in die tempel van die Here, die Almagtige, wees nie.

Currently Selected:

SAGARIA 14: NLV

Highlight

Share

Copy

None

Want to have your highlights saved across all your devices? Sign up or sign in

YouVersion uses cookies to personalize your experience. By using our website, you accept our use of cookies as described in our Privacy Policy