YouVersion Logo
Search Icon

LUKAS 22

22
Judas onderneem om Jesus uit te lewer
1Die Fees van die Ongesuurde Brood, wat ook Pasga genoem word, was baie naby. 2Die priesterhoofde en die skrifkenners het steeds bly soek na ’n onopvallende manier om van Jesus ontslae te raak, want hulle was bang vir die volk.
3Satan het in Judas ingevaar wat Iskariot genoem is, een van die twaalf. 4Hy het toe weggegaan om te onderhandel met die priesterhoofde en die bevelvoerders van die tempelwag oor hoe hy Jesus aan hulle sou uitlewer. 5Hulle was opgewonde en het ooreengekom om geld aan hom te gee. 6Judas het ten volle ingestem en na ’n gunstige geleentheid gesoek om Jesus uit te lewer waar die skares nie teenwoordig is nie.
Die laaste paasmaaltyd genuttig
7Die Dag van die Ongesuurde Brood waarop die paaslam geslag moes word, het aangebreek. 8Jesus het vir Petrus en Johannes gestuur en gesê: “Gaan maak die paasmaaltyd gereed sodat ons kan kom aansit.”
9Hulle vra toe vir Jesus: “Waar verkies U dat ons dit voorberei?”
10Hy antwoord hulle: “Kyk, wanneer julle die stad binnegaan, sal ’n man julle teëkom wat ’n kan water dra. Volg hom tot in die huis waar hy ingaan, 11en sê vir die eienaar van die huis: ‘Die Leermeester vra jou: Waar is die gastekamer waar Ek saam met my dissipels die paasmaaltyd kan eet?’ 12Daardie man sal julle ’n groot bovertrek wys wat gereedgemaak is. Daar moet julle dit voorberei.”
13Hulle het vertrek en dit net so aangetref soos Jesus vir hulle gesê het en die paasete gereed gekry.
14Toe die tyd aangebreek het, het Jesus vir die ete aangesit#22:14 Grondteks aangelê. By feesgeleenthede is op klein bankies vir ete aangelê. en die apostels saam met Hom. 15Hy sê toe vir hulle: “Ek het geweldig daarna uitgesien om hierdie paasete saam met julle te eet voordat Ek ly. 16Want Ek sê vir julle, Ek sal dit beslis nie weer eet voordat dit binne die koninkryk van God sy volle vervulling gekry het nie.”
17Daarna het Jesus ’n beker geneem en ’n dankgebed uitgespreek. Vervolgens sê Hy: “Neem dit en deel dit onder mekaar. 18Want Ek sê vir julle, Ek sal beslis van nou af nie weer van die vrug van die druiwestok drink voordat die koninkryk van God ten volle gekom het nie.”
19Jesus het ook brood geneem, ’n dankgebed uitgespreek, dit in stukke gebreek en vir hulle gegee terwyl Hy sê: “Dit is my liggaam wat ter wille van julle gegee word. Gebruik dit ter herinnering aan My.”
20Hy het dieselfde gedoen met die beker ná die ete en gesê: “Hierdie beker is die nuwe verbond, bevestig deur my bloed, wat ter wille van julle uitgegiet word.
21“Maar kyk, die man wat My uitlewer, is hier saam met My aan die tafel. 22Met die Seun van die Mens sal dit inderdaad gaan volgens die beskikking van God, maar groot ellende wag op hom deur wie Hy uitgelewer word!” 23Toe het die dissipels mekaar begin uitvra wie van hulle dit tog kon wees wat só iets sou doen.
Die belangrikste in die koninkryk van God
24Daar het toe ’n wedywering onder hulle ontstaan oor wie van hulle as die belangrikste beskou moet word.
25Jesus het egter gereageer: “Die konings van die nasies heers oor hulle, en dié wat gesag oor hulle uitoefen, laat noem hulleself weldoeners.
26“By julle moet dit egter nie só gaan nie, maar die belangrikste een onder julle moet wees soos die geringste, en die een wat leiding gee, soos een wat dien. 27Wie is die belangrikste: die een wat aan tafel is of die een wat bedien? Dit is tog hy wat aan tafel is. Ek is egter in julle midde soos een wat dien. 28Maar julle is die mense wat deur dik en dun in my swaarkry by My gebly het.
29“Net soos my Vader ’n koninkryk aan My toegewys het, só bemaak Ek dit ook aan julle 30sodat julle in my koninkryk kan eet en drink aan my tafel en kan sit op trone om oor die twaalf stamme van Israel reg te spreek.”
Selfs die rots Petrus gaan voor die aanslag van Satan swig
31“Simon, Simon!” het Jesus gesê. “Let op, Satan het God ernstig gevra dat hy julle soos koring kan sif, 32maar Ek het vir jou gebid dat jou geloof jou nie moet begewe nie. As jy weer tot inkeer gekom het, moet jy jou medegelowiges ondersteun.”
33Petrus sê vir Jesus: “Here, ek is gereed om saam met U die pad te loop tot in die gevangenis en die dood.”
34Jesus het egter gereageer: “Petrus, Ek sê dit nou vir jou: ’n Haan sal vannag nie kraai voordat jy drie maal ontken het dat jy My ken nie.”
35Jesus het ook vir hulle gesê: “Toe Ek julle uitgestuur het sonder ’n geldbeurs of reissak of sandale, het julle enigiets kortgekom?”
Hulle antwoord was: “Nee, niks nie!”
36Toe sê Jesus vir hulle: “Maar nou, wie ’n geldbeurs besit, moet dit saamneem; net so ook ’n reissak. En wie nie een het nie, moet sy klere verkoop om ’n swaard te kan koop.
37Ek sê vir julle: Dit staan so in die Skrif en moet in My vervul word: ‘Hy is saam met die wetteloses gereken.’#22:37 Jes 53:12. Ja, want wat op My betrekking het, word nou voltrek.”
38Hulle sê toe daarop: “Here, let op, hier is twee swaarde.”
Hy sê vir hulle: “Dis genoeg.”
Jesus worstel in gebed met sy Vader
39Jesus het uit die stad gegaan na die Olyfberg, soos Hy gewoond was om te doen. En die dissipels het Hom gevolg. 40Toe Hy op ’n sekere plek kom, sê Hy vir hulle: “Hou aan bid dat julle nie aan versoeking sal toegee nie.”
41Jesus het Hom toe van hulle afgesonder, ongeveer ’n klipgooi ver. Daar het Hy gekniel en gebid: 42“Vader, as U wil, neem hierdie beker van My af weg. Laat nogtans nie my wil nie, maar u wil geld!” 43Daar het ’n engel uit die hemel aan Jesus verskyn en Hom versterk. 44Terwyl Hy intense angs beleef, het Jesus nog ernstiger gebid. Sy sweet het soos druppels bloed geword wat op die grond drup.#22:43-44 In sommige ou manuskripte ontbreek vers 43-44. 45Nadat Jesus van die gebed opgestaan en by die dissipels gekom het, kry Hy hulle aan die slaap, gedreineer deur die hartseer.
46Hy sê toe vir hulle: “Waarom is julle aan die slaap? Staan op en bid dat julle nie aan versoeking sal toegee nie.”
Judas se verraderlike soen sit die finale proses aan die gang
47Terwyl Jesus nog besig was om te praat, het ’n skare daar bymekaargekom. Die man wat Judas genoem word, een van die twaalf, het voor die mense uit geloop en al nader aan Jesus gekom om Hom te soengroet.
48Jesus het gereageer: “Judas, lewer jy die Seun van die Mens uit met ’n soen?”
49Toe dié wat saam met Jesus daar was, besef wat met Hom gaan gebeur, vra hulle: “Here, moet ons hulle met die swaard tref?” 50Een uit hulle geledere het toe na die slaaf van die hoofpriester gekap en sy regteroor afgekap.
51Maar Jesus het gereageer: “Hou dadelik op hiermee!” Daarna het Hy die oor aangeraak en dit gesond gemaak.
52Jesus het toe aan die priesterhoofde en die bevelvoerders van die tempelwag en die familiehoofde wat teen Hom aangetree het, gesê: “Het julle opgetrek met swaarde en knuppels soos teen ’n rower? 53Ek was daagliks saam met julle in die tempel, en tog het julle My nie gearresteer nie. Maar hierdie is nou júlle tyd, die tyd van die mag van die duisternis.”
Petrus verloën sy Leermeester, soos Jesus voorspel het
54Nadat hulle Jesus gearresteer het, het hulle Hom weggelei en in die huis van die hoofpriester ingebring. Petrus het op ’n afstand gevolg. 55In die middel van die binnehof was daar ’n vuur wat knetterend gebrand het, met mense wat daar rondom sit. Petrus het tussen hulle gaan sit. 56’n Diensmeisie het hom raakgesien waar hy sigbaar in die vlammegloed gesit het. Nadat sy hom goed bekyk het, sê sy: “Hý was ook saam met daardie man.”
57Petrus het dit egter heftig ontken: “Vrou, ek ken Hom glad nie!”
58’n Rukkie later merk iemand anders hom op en sê: “Hy is mos ook uit hulle geledere.”
Petrus se reaksie was: “Man, ek is beslis nie!”
59Ná ’n tussenpose van ongeveer ’n uur het ’n ander persoon ferm bevestig: “Hierdie man was vir seker saam met hom. Hy is tog ook ’n Galileër.”
60Petrus het geantwoord: “Man, ek het nie die vaagste benul waarvan jy praat nie!” Eensklaps, terwyl hy nog besig is om te praat, het daar ’n haan gekraai.
61Die Here het omgedraai en Petrus stip aangekyk. Petrus het die Here se woorde onthou toe Hy aan hom gesê het: “Voordat die haan nog vannag kraai, sal jy drie keer ontken dat jy My ken.” 62En hy het buitentoe gegaan en onbedaarlik gehuil.
Soldate dryf die spot met Jesus
63Die soldate wat Jesus bewaak het, het Hom gekoggel en geslaan. 64Hulle het Hom geblinddoek en aanhou sê: “Profeteer wie dit is wat jou geslaan het!” 65Hulle het Hom bly laster deur baie ander dinge teen Hom kwyt te raak.
Jesus word deur die Joodse Raad skuldig bevind
66Toe die nuwe dag breek, het die volksleiers, dit is die priesterhoofde en skrifkenners, saamgekom en hulle het Jesus voor hulle Raad#22:66 Grondteks voor hulle Sanhedrin. gebring. 67Hulle sê toe: “As jy die Messias is, sê dit vir ons.”
Hy het hulle geantwoord: “As Ek dit vir julle sou sê, sal julle My glad nie glo nie. 68Al sou Ek ook ’n vraag stel, sal julle glad nie antwoord nie. 69Maar van nou af sal Ek, die Seun van die Mens, aan die regterhand van die sterke God sit.”#22:69 Vgl Ps 110:1.
70Toe vra hulle almal: “Is jy dan die Seun van God?”
Hy antwoord hulle: “Dit is soos julle sê – Ek is.”
71Die reaksie was: “Waarom het ons dan nog getuienis nodig? Ons het dit mos nou self uit sy eie mond gehoor!”

Currently Selected:

LUKAS 22: NLV

Highlight

Share

Copy

None

Want to have your highlights saved across all your devices? Sign up or sign in

YouVersion uses cookies to personalize your experience. By using our website, you accept our use of cookies as described in our Privacy Policy