YouVersion Logo
Search Icon

LUKAS 21

21
’n Brandarm weduwee se kosbare gawe
1Jesus het opgekyk en sy oog laat gaan oor hoe die rykes hulle bydraes in die offergawekis gooi. 2Hy sien toe ook hoe ’n arm weduwee twee muntstukkies#21:2 Grondteks twee lepta. ingooi, 3en Hy sê: “Ek verseker julle, hierdie arm weduwee het meer ingegooi as hulle almal. 4Hulle almal het uit hulle oorvloed ingegooi, maar sy het, ten spyte van haar behoeftigheid, alles ingegooi wat sy as lewensonderhoud gehad het.”
Jesus se profesie-preek: Wees altyd waaksaam!
5Terwyl sommige druk in gesprek was oor die tempel, oor die mooi klipblokke en gewyde geskenke waarmee dit versier is, het Jesus gesê: 6“Hierdie dinge wat julle sien – daar sal dae kom wanneer nie een klip op ’n ander een sal oorbly nie. Alles sal gesloop word.”
7Hulle vra toe vir Jesus: “Leermeester, wanneer sal hierdie dinge dan gebeur en wat is die teken van wanneer dit gaan gebeur?”
8In reaksie daarop het Jesus gesê: “Pas op sodat julle nie mislei word nie, want baie sal na vore tree en maak of hulle namens My optree en sê: ‘Ek is die een,’ en: ‘Die tyd het aangebreek!’ Moenie agter hulle aanloop nie! 9Wanneer julle ook al hoor van oorloë en opstande, moenie skrik nie, want hierdie dinge moet eers gebeur, maar die einde volg nie onmiddellik nie.”
10Daarop het Hy aan hulle gesê: “Nasie sal teen nasie optrek en koninkryk teen koninkryk. 11Daar sal hewige aardbewings wees, en van plek tot plek sal daar hongersnood en epidemies wees. Daar sal vreesaanjaende dinge voorkom en magtige tekens van die hemel af.
12“Nog voordat al hierdie dinge oor julle kom, sal hulle julle arresteer en vervolg. Hulle sal julle aan die sinagoges en tronke oorlewer; hulle sal julle voor konings en goewerneurs sleep omdat julle in my Naam optree. 13Dit sal aan julle ’n geleentheid gee om te getuig.
14“Neem julle nou reeds voor om julle nie te bekommer oor julle verdediging nie, 15want Ek sal aan julle die regte woorde en die wysheid gee wat al julle teenstanders nie sal kan opponeer of weerlê nie. 16Julle sal uitgelewer word deur ouers, broers, familie en vriende, en hulle sal sommige van julle doodmaak. 17Julle sal ook deur almal gehaat word omdat julle in my Naam optree. 18Maar selfs nie ’n haar op julle kop sal verlore gaan nie. 19Deur julle volharding sal julle julle lewe behou.”
Jesus se profesie-preek: die verwoesting van Jerusalem
20“Wanneer julle sien dat Jerusalem deur leërs omsingel word, moet julle kennis neem dat sy vernietiging aangebreek het. 21Dan moet die mense wat in Judea is, na die berge toe vlug, en die mense wat in die middel van die stad self is, moet dit ontruim, en die mense wat op die platteland is, moet nie Jerusalem binnegaan nie.
22“Daardie dae is dae van vergelding sodat wat geskryf staan in vervulling moet gaan. 23Groot ellende wag op die verwagtende vroue en ook op dié wat nog borsvoed gedurende daardie dae, want daar sal groot benoudheid in die land heers en God se toorn sal op hierdie volk rus. 24Sommige sal deur die skerpkant van die swaard omkom en ander sal as gevangenes na al die nasies toe weggevoer word. Jerusalem sal vertrap word deur die vreemde nasies totdat die tyd van die nasies verby is.”
Jesus se profesie-preek: die koms van die Seun van die Mens
25“Daar sal wondertekens wees wat die son, maan en sterre betref. En op die aarde sal daar onrus onder die nasies wees uit angs vir die gebulder van die see en sy golwe.
26“Mense word flou van vrees en van die voorbodes oor wat nog vir die wêreld aan die kom is, want die kragte van die hemel sal geskud word. 27En dan sal hulle vir My, die Seun van die Mens#21:27 Dit is Jesus self., sien kom op ’n wolk met krag en groot heerlikheid. 28Wanneer hierdie dinge begin gebeur, staan dan fier en regop en lig julle koppe op, want dan het julle verlossing naby gekom.”
Jesus se profesie-preek: die gelykenis van die vyeboom
29Jesus het toe aan hulle ’n gelykenis vertel: “Let op die vyeboom en al die ander bome. 30Wanneer julle sien dat hulle begin bot, weet julle uit julle eie dat die somer naby is. 31Net so weet julle ook dat die koningsheerskappy van God naby is wanneer julle hierdie dinge sien gebeur.
32“Ek verseker julle, hierdie geslag sal beslis nie uitsterf voordat alles gebeur het nie. 33Die hemel en die aarde sal vergaan, maar my woorde sal beslis nie vergaan nie.”
Jesus se profesie-preek: oproep om waaksaam te bly
34“Spits julle daarop toe dat julle sinne nie afgestomp word van te veel eet en drink en deur die bekommernisse van die lewe nie, en dat daardie dag julle nie onverhoeds 35soos ’n strik oorval nie. Want daardie dag sal oor al die aardbewoners kom. 36Wees wakker en bid altyddeur vir krag om alles wat gaan gebeur, veilig te deurstaan sodat julle kan verskyn voor My, die Seun van die Mens.”
37Bedags was Jesus besig om in die tempel onderrig te gee en snags het Hy uitgegaan en op die Olyfberg gaan oornag. 38En soggens vroeg het die hele volk na Hom kom luister in die tempel.

Currently Selected:

LUKAS 21: NLV

Highlight

Share

Copy

None

Want to have your highlights saved across all your devices? Sign up or sign in

YouVersion uses cookies to personalize your experience. By using our website, you accept our use of cookies as described in our Privacy Policy