YouVersion Logo
Search Icon

JEREMIA 28

28
Jeremia en Gananja bots
1In die laatsomer van die vierde jaar van die bewind van Sedekia koning van Juda het Gananja met my gepraat. Gananja, ’n profeet, was die seun van Assur, afkomstig uit Gibeon. Hy het met my gepraat in die tempel van die Here terwyl al die priesters en gewone mense gestaan en luister het. Hy het gesê: 2“Die Here, die Almagtige, die God van Israel, sê: Ek verbreek die juk van die koning van Babel. 3Koning Nebukadnesar het ’n klomp voorwerpe uit die tempel na Babel toe weggedra. Oor twee jaar sal Ek dit weer na die tempel toe terugbring. 4Ek sal ook vir Jojagin, die seun van Jojakim, hiernatoe terugbring. Ek sal ook al die ballinge van Juda wat hulle na Babel weggevoer het, terugbring. Ek sal die juk van die koning van Babel stukkend breek, sê die Here.”
5Die profeet Jeremia het die profeet Gananja geantwoord voor die priesters en al die mense wat in die tempel gestaan het. 6Hy het gesê: “Laat dit so wees!#28:6 Grondteks Amen. Mag die Here dit so laat gebeur! Mag die Here doen wat jy geprofeteer het. Ek hoop ook dat Hy die kosbare voorwerpe wat uit die tempel weggedra is en al ons geliefdes uit Babel na hierdie plek toe sal terugbring. 7Maar luister nou met aandag na wat ek vir jou voor al hierdie mense gaan sê. 8Die profete van ouds het teen baie lande en sterk ryke gepreek, en altyd oorloë, hongersnood en epidemies aangekondig. 9As ’n profeet vrede sou verkondig, moet ’n mens sien of dit realiseer. Eers as die profeet se woorde regtig gebeur, kan ’n mens weet die Here het die persoon gestuur.”
10Gananja het na Jeremia toe gegaan, die juk van sy nek afgehaal en dit gebreek. 11Daarna het hy weer vir die mense wat rondom hulle gestaan het, gesê: “Die Here het belowe Hy sal binne twee jaar die juk van Nebukadnesar koning van Babel oor al die nasies verbreek.” Op dié punt het die profeet Jeremia daarvandaan weggegaan.
12Kort daarna het die Here weer vir Jeremia ’n boodskap gegee. Hy het gesê: 13“Gaan sê vir Gananja dat Ek, die Here, met hom praat: Jy het die houtjuk gebreek en jy gaan dit met ’n ysterjuk vervang. 14Die Here, die Almagtige, die God van Israel, sê: Ek het ’n ysterjuk op die nekke van al hierdie nasies geplaas sodat hulle koning Nebukadnesar van Babel as slawe sal dien, want Ek het alles onder sy beheer gestel, selfs die wilde diere.”
15Die profeet Jeremia het vir die profeet Gananja gesê: “Luister, Gananja, die Here het jou nie gestuur nie! En tog het jy dit reggekry dat die mense jou leuens glo. 16‘Omdat jy dit gedoen het,’ sê die Here, ‘gaan Ek jou van die aarde af wegvee. Jy gaan vanjaar nog sterf, want jy het opstand teen die Here verkondig.’”
17In die sewende maand van daardie jaar het Gananja gesterf.

Currently Selected:

JEREMIA 28: NLV

Highlight

Share

Copy

None

Want to have your highlights saved across all your devices? Sign up or sign in

YouVersion uses cookies to personalize your experience. By using our website, you accept our use of cookies as described in our Privacy Policy