YouVersion Logo
Search Icon

JEREMIA 29

29
’n Brief aan die mense in ballingskap
1Wat volg, is die inhoud van ’n brief wat Jeremia in Jerusalem geskryf het. Hy het dit gestuur aan die oumense, priesters, profete en al die mense wat Nebukadnesar uit Jerusalem na Babel toe weggevoer het. 2Koning Jojagin en die koninginmoeder was toe alreeds uit Jerusalem weggevoer. Saam met hulle was ook die amptenare van die koning, die leiers van Juda, ambagsmense en smede. 3Jeremia het die brief saam met Elasa seun van Safan en Gemarja seun van Gilkija gestuur. Koning Sedekia van Juda het hulle as ambassadeurs na koning Nebukadnesar van Babel gestuur.
Jeremia se brief was soos volg:
4Die Here, die Almagtige, die God van Israel, sê vir al die mense wat Hy uit Jerusalem na Babel toe laat wegvoer het: 5“Bou huise en woon daarin. Plant tuine en eet die kos wat dit oplewer. 6Trou en verwek kinders. Sorg dat julle kinders ook trou sodat julle baie kleinkinders sal hê! Sorg dat julle getalle daar vermeerder en nie verminder nie. 7Dra ook julle deel by vir vrede in Babel waarheen Ek julle in ballingskap laat gaan het. Bid tot die Here sodat dit goed sal gaan met die stad waarin julle bly. As dit met Babel goed gaan, sal dit ook met julle goed gaan.” 8Die Here, die Almagtige, die God van Israel, sê: “Moenie toelaat dat die profete en die waarsêers by julle julle bedrieg nie. Julle moet julle ook nie aan hulle drome steur nie. 9Hulle verkondig leuens aan julle en sê hulle praat namens My. Ek het hulle beslis nie gestuur nie!” sê die Here.
10So sê die Here: “Julle sal 70 jaar lank in Babel wees. Maar as die tyd verstryk het, sal Ek al die goeie beloftes begin vervul. Ek sal julle na julle land toe terugbring. 11Ek weet wat Ek vir julle beplan het,” sê die Here. “Ek beplan voorspoed vir julle, nie teëspoed nie. Ek wil hê dat julle hoop vir die toekoms moet hê. 12Julle sal na My roep en bid, en Ek sal na julle luister. 13As julle heelhartig na My soek, sal julle My vind. 14Julle sal My toeganklik vind,” sê die Here. “Ek sal julle uit gevangenskap laat terugkeer. Ek sal julle versamel tussen al die nasies waar julle nou is en uit al die plekke waarheen Ek julle verban het,” sê die Here. “Ek sal julle weer terugbring na die plekke waarvandaan Ek julle in ballingskap laat gaan het.”
15Julle mag sê dat die Here vir julle profete in Babel gegee het, 16maar hoor wat sê die Here oor die koning wat op die troon van koning Dawid sit. Hoor ook wat Hy sê oor al die mense wat in hierdie stad oorbly, wat hulle nie saam met julle na Babel weggevoer het nie. 17Die Here, die Almagtige, sê: “Ek sal oorlog, hongersnood en epidemies op hulle pad bring. Ek maak hulle soos vye wat te vrot is om te eet. 18Ek agtervolg hulle met oorloë, hongersnood en epidemies en Ek verstrooi hulle oor die hele aarde. Oral waar hulle kom, sal mense skrik oor wat met hulle gebeur het. Mense sal hulle afstootlik vind en hulle verag of hulle spot en grappe oor hulle maak. 19Dit sal gebeur omdat hulle hulle nie steur aan wat Ek sê nie. Ek het soveel keer my dienaars – die profete – na hulle gestuur, maar verniet,” sê die Here.
20“Nou vra Ek julle almal wat Ek uit Jerusalem na Babel weggestuur het: Luister na die boodskap van die Here. 21So sê die Here, die Almagtige, die God van Israel, oor Agab seun van Kolaja en Sedekia seun van Maäseja wat leuens in my Naam verkondig: Ek sal hulle aan Nebukadnesar oorgee en hy sal hulle voor julle doodmaak. 22Wat met hulle gebeur, sal soos ’n spreekwoord word. Elke keer as die mense van Juda in Babel iemand wil verwens, sal hulle sê: ‘Mag die Here met jou laat gebeur soos wat die koning van Babel met Agab en Sedekia gedoen het. Hy het hulle lewendig verbrand!’ 23Hierdie twee het verskriklike dinge onder die mense van Israel gedoen. Hulle het owerspel gepleeg met ander mans se vroue. Hulle het ook leuens vertel en voorgegee hulle praat namens My. Ek het hulle geen opdragte gegee nie. Ek weet, want Ek is ’n getuie van alles,” sê die Here.
’n Boodskap vir Semaja
24Dra die volgende boodskap oor aan Semaja van Negelam. 25“Die Here, die Almagtige, die God van Israel, sê: Jy het op eie inisiatief briewe aan die priester Sefanja seun van Maäseja geskryf en kopieë daarvan aan die priesters en die mense in Jerusalem gestuur. Jy het geskryf:
26“Die Here het jou in die plek van die priester Jojada in beheer van die tempel aangestel. Dit is jou taak om toe te sien dat geen waansinnige mens profesieë bring nie. So iemand moet jy in die tronk sit met ’n ysterboei om die nek. 27Verduidelik ’n bietjie hoekom jy Jeremia, wat van Anatot af kom, nie tereggewys het nie? Hy gee mos voor om ’n profeet te wees! 28Jeremia het vir ons in Babel ’n brief gestuur waarin hy sê dat ons lank hier sal bly. Hy het gesê ons moet huise bou en dit bewoon. Verder moes ons ook tuine aanlê en die vrugte wat dit oplewer, eet.”
29Die priester Sefanja het hierdie brief gelees waar die profeet Jeremia dit kon hoor. 30Die Here het toe vir Jeremia hierdie boodskap gegee: 31“Laat weet vir al die mense in ballingskap: ‘Die Here sê van Semaja wat van Negelam af kom: Hy het vir julle boodskappe gebring, maar Ek het hom nie gestuur nie. Hy het julle in leuens laat glo. 32Omdat Semaja dit gedoen het, sê die Here, sal Ek hom en sy familie straf. Nie een van sy mense sal lewe om al die goeie dinge te sien wat Ek vir my volk gaan doen nie, want hy het die mense geleer om opstandig teen My te wees. Dit is wat die Here self sê!’”

Currently Selected:

JEREMIA 29: NLV

Highlight

Share

Copy

None

Want to have your highlights saved across all your devices? Sign up or sign in

YouVersion uses cookies to personalize your experience. By using our website, you accept our use of cookies as described in our Privacy Policy