YouVersion Logo
Search Icon

GENESIS 35

35
God praat weer met Jakob by Bet-El
1God sê toe vir Jakob: “Trek verder en gaan woon by Bet-El. Bou daar vir My ’n altaar. Ek is die God wat aan jou verskyn het toe jy destyds weggevlug het van jou broer Esau af.”
2Jakob beveel toe almal in sy huishouding: “Raak ontslae van julle afgodsbeelde, was julle en trek skoon klere aan. 3Ons gaan nou na Bet-El toe waar ek ’n altaar wil bou tot eer van die God wat my gebede verhoor het toe ek in die verknorsing was. Hy was oral by my waar ek gegaan het.”
4Hulle gee toe al hulle afgodsbeelde en oorringe vir Jakob. Hy het dit onder die boom naby Sigem begrawe. 5Terwyl hulle wegtrek, het daar so ’n verskrikking van God oor die mense van die omgewing gekom dat niemand eers gewaag het om Jakob en sy seuns te agtervolg nie. 6Jakob-hulle het by Lus, nou Bet-El genoem, in Kanaän aangekom. 7Daar bou hy ’n altaar en noem dit El-Bet-El#35:7 El-Bet-El beteken die God van Bet-El., want God het hier by Bet-El aan hom verskyn toe hy vir Esau gevlug het.
8Kort daarna het Debora, die slavin wat vir Rebekka grootgemaak het, gesterf. Hulle het haar onder die groot boom naby Bet-El begrawe. Hulle het dit Huilboom genoem.
9Na Jakob se terugkeer uit Paddan-Aram het God weer ’n keer aan hom verskyn. God het hom geseën 10en gesê: “Jou naam is nie langer Jakob#35:10 Jakob beteken hy gryp die hakskeen. Dit kan ook figuurlik beteken hy bedrieg. nie. Jy sal van nou af Israel genoem word.” 11God het verder gesê: “Ek is God die Almagtige. Wees vrugbaar en word ’n groot nasie. Baie nasies sal uit jou voortkom. Daar sal selfs konings onder hulle wees. 12Hierdie land wat Ek vir Abraham en Isak gegee het, gee Ek ook vir jou en jou nageslag.” 13Daarna het God van Jakob af weggegaan.
14Jakob het toe ’n klip regop gesit op daardie plek waar God met hom gepraat het. Daarna het hy wyn daaroor uitgegiet en ook olie as ’n offer aan God.
15Jakob het die plek Bet-El, huis van God, genoem, want God het daar met hom gepraat.
Die dood van Ragel en Isak
16Hulle het Bet-El verlaat op pad na Efrata toe, dit is Betlehem. Toe hulle nog ’n ent van hulle bestemming was, was dit Ragel se tyd om geboorte te gee. Dit was ’n baie moeilike bevalling.
17Toe sy so swaarkry met die bevalling, sê die vroedvrou vir haar: “Moenie bang wees nie. Jy het weer ’n seun!” 18Maar Ragel was besig om te sterf. Met haar laaste asem noem sy hom Ben-Oni#35:18a Ben-Oni beteken dalk seun van lyding.. Sy pa het hom egter Benjamin#35:18b Benjamin beteken seun van my regterhand of seun van die suide. genoem. 19Ragel het gesterf en hulle het haar op pad na Efrata, dit is Betlehem, begrawe. 20Jakob het ’n klip as gedenkteken op die graf gesit. Dit staan vandag nog daar.
21Daarna het Jakob#35:21a, 22 Grondteks Israel. sy reis voortgesit en kamp opgeslaan by Migdal-Eder#35:21b Migdal-Eder beteken toring van Eder.. 22Terwyl hulle in daardie landstreek was, het Ruben by Bilha, sy pa se slavinvrou, geslaap. Jakob#35:21a, 22 Grondteks Israel. het hiervan te hore gekom.
Hier volg die name van Jakob se twaalf seuns:
23Die seuns van Lea was: Ruben, Jakob se oudste seun, Simeon, Levi, Juda, Issaskar en Sebulon.
24Die seuns van Ragel was Josef en Benjamin.
25Die seuns van Bilha, Ragel se slavin, was Dan en Naftali.
26Die seuns van Silpa, Lea se slavin, was Gad en Aser.
Dit is die seuns wat vir Jakob in Paddan-Aram gebore is.
27Jakob is toe na sy pa, Isak, in Mamre. Dit is naby Kirjat-Arba, nou genoem Hebron, waar Abraham destyds gewoon het. 28Isak het 180 jaar oud geword. 29Hy is ná ’n vol lewe op ’n rype ouderdom oorlede. Sy twee seuns, Esau en Jakob, het hom begrawe.

Currently Selected:

GENESIS 35: NLV

Highlight

Share

Copy

None

Want to have your highlights saved across all your devices? Sign up or sign in

YouVersion uses cookies to personalize your experience. By using our website, you accept our use of cookies as described in our Privacy Policy