YouVersion Logo
Search Icon

ESEGIËL 26

26
’n Boodskap vir Tirus
1Op 3 Februarie, in die twaalfde jaar wat koning Jojagin in ballingskap was#26:1 Grondteks In die elfde jaar, op die eerste dag van die maand, van die Hebreeuse kalender. ’n Element in die datum kort, en navorsers rekonstrueer ’n moontlike lesing as: In die elfde (maand van die twaalfde) jaar, op die eerste dag van die maand. Dit gebeur dan op 3 Februarie 585 vC., het die Here vir my gesê: 2“Mensekind, Tirus verlekker hom oor Jerusalem wat geval het. Hy sê: ‘Aha! Haar beheer oor die handelsroetes na die ooste is verby. Nou gaan ek ryk word omdat sy vernietig is!’
3“Daarom sê die oppermagtige Here: Ek is jou vyand, Tirus. Ek bring baie nasies teen jou. Hulle sal soos die golwe van die see teen jou kus aanrol. 4Hulle sal die mure van Tirus vernietig en sy torings afbreek. Ek skraap die sand weg sodat net ’n kaal rots agterbly. 5Niemand sal meer op hierdie eiland bly nie. Die vissermanne sal daar hulle nette uitsprei. So sê Ek, die oppermagtige Here. Tirus sal die prooi van baie nasies word 6en die dorpies op die vasteland sal deur die swaard vernietig word. Dan sal hulle besef dat Ek die Here is.
7“Die oppermagtige Here sê: Ek bring koning Nebukadnesar#26:7 Grondteks Nebukadresar, ’n ander naam vir Nebukadnesar. van Babilon, die koning oor konings, uit die noorde, teen Tirus. Hy kom met perde en strydwaens, ruiters en ’n groot leër. 8Hy sal jou dogterstede wat in die veld is, oorweldig. Dan sal hy jou stad aanval deur ’n beleëringswal teen jou op te gooi en ’n dak van skilde teen jou mure aan te bring. 9Hy sal jou mure met stormramme omstamp en jou torings met sy wapens omgooi. 10Sy perde sal so baie wees dat jy toe onder die stof sal wees. En jou mure sal bewe van die gedruis van die wapentuig en waens as hulle die stad deur sy stukkende mure binnekom. 11Sy ruiters sal elke straat vertrap. Hulle sal jou mense doodmaak en jou sterk pilare omgooi.
12“Hulle sal jou rykdom plunder en jou handelsware steel en jou mure afbreek. Hulle sal jou pragtige huise verwoes en die bakstene en hout en sand in die see gooi. 13Ek sal julle liedere en julle musiekinstrumente stilmaak. 14Ek maak jou eiland ’n kaal rots waar vissermanne hulle nette uitsprei. Jy sal nooit weer herbou word nie, want Ek, die Here, sê so! Dit is die woord van die oppermagtige Here.”
Gevolge van Tirus se vernietiging
15“So sê die oppermagtige Here vir Tirus: Sal die hele kus nie bewe oor die geluid as jy neerslaan, oor die geskreeu van jou gewondes en die slagting in jou nie? 16Die konings van die hawestede sal van hulle trone afklim en hulle koninklike klere uittrek. Hulle sal op die grond sit en bewe van angs oor wat met jou gebeur het. 17Hulle sal oor jou treur en hierdie begrafnislied sing:
“O beroemde eilandstad,
eens het jy oor die see regeer,
en hoe is jy nou verwoes!
Jy het eens met jou mag
oor die hele wêreld
vrees ingeboesem.
18Die kuslande bewe oor jou val.
Die eilande van die see
is verskrik omdat jy weg is.
19“So sê die oppermagtige Here: Ek maak Tirus ’n onbewoonde puinhoop. Jy sal onder die groot golwe wegsink. Die groot waters sal oor jou spoel. 20Ek stuur jou ondertoe saam met dié wat lankal dood is. Jou stad sal in puin onder die aarde begrawe lê, soos hulle wat lankal in die land van die dooies is. Nooit weer sal jy terugkom na die land van die lewendes nie. 21Ek bring jou tot ’n verskriklike einde. Jy sal nie meer bestaan nie. Hulle sal jou soek, maar jy sal nooit weer gevind word nie. Ek, die oppermagtige Here, sê so.”

Currently Selected:

ESEGIËL 26: NLV

Highlight

Share

Copy

None

Want to have your highlights saved across all your devices? Sign up or sign in

YouVersion uses cookies to personalize your experience. By using our website, you accept our use of cookies as described in our Privacy Policy