YouVersion Logo
Search Icon

EKSODUS 17

17
Water uit die rots
1Die Israeliete is van die Sinwoestyn af weg en die Here het hulle gelei totdat hulle by Refidim uitgekom het. Daar was egter nie genoeg water vir die volk om te drink nie. 2Die volk het met Moses gestry. Hulle het van hom geëis: “Ons wil water hê om te drink!” Maar Moses het vir hulle gesê: “Waarom stry julle met my? Waarom tart julle die Here?”
3Hulle was egter baie dors en het weer na Moses toe gegaan en teen hom uitgevaar: “Waarom het jy ons en ons kinders en ons vee uit Egipte laat trek om hier van dors dood te gaan?”
4Moses het toe by die Here gaan soebat: “Wat moet ek met hierdie volk maak? Hulle gaan my sonder die minste aanmoediging met klippe doodgooi.”
5Die Here het toe vir Moses gesê: “Vat die stok waarmee jy op die Nylrivier geslaan het, gaan na die volk toe en vat ’n klomp van die oudste manne saam met jou. 6Slaan met jou stok op die rots by Horeb. Ek staan daar en wag vir jou. Daar sal water uit die rots kom dat die volk kan drink.” Moses het toe presies net so gemaak terwyl die oudste manne staan en kyk. 7Moses het daardie plek toe “Massa en Meriba” genoem, want die Israeliete het daar met Moses rusie gemaak. Hulle het die Here uitgetart toe hulle gevra het: “Gaan die Here ons ooit help?”
Israel veg teen die Amalekiete
8Terwyl die Israeliete nog by Refidim was, het die soldate van Amalek hulle aangeval. 9Moses sê toe vir Josua: “Kies vir ons manskappe dat ons teen Amalek kan gaan veg. Ek sal môre bo-op die koppie gaan staan met die stok wat God vir my gegee het in my hand.”
10Josua het gemaak soos Moses vir hom gesê het. Hy het teen Amalek gaan veg. Intussen het Moses, Aäron en Hur teen die koppie uitgeklim. 11Solank Moses sy hand in die lug opgehou het, was Israel aan die wenkant. Sodra hy sy hand laat sak het, het die Amalekiete die oorhand begin kry. 12Moses se arms het naderhand begin moeg word. Aäron en Hur het hom op ’n klip gaan laat sit. Hulle het weerskante van hom gaan staan en sy hande in die lug gehou totdat die son ondergegaan het. 13Josua kon toe Amalek en sy volk verpletterend verslaan.
14Die Here het toe vir Moses gesê: “Skryf op wat vandag gebeur het sodat julle dit altyd kan onthou. Bevestig aan Josua dat Ek Amalek se naam totaal sal uitwis.” 15Moses het toe daar ’n altaar gebou wat hy genoem het “Die Here is my vaandel”#17:15 In Hebreeus Jahwe Nissi.. 16Hy het gesê:
“’n Vuis is gelig
teen God se troon.#17:16 Die grondteks se betekenis is onduidelik. ’n Alternatiewe vertaling is Hou die vlag van die Here hoog.
Die Here sal nooit ophou
om teen Amalek te veg nie.”

Currently Selected:

EKSODUS 17: NLV

Highlight

Share

Copy

None

Want to have your highlights saved across all your devices? Sign up or sign in

YouVersion uses cookies to personalize your experience. By using our website, you accept our use of cookies as described in our Privacy Policy