YouVersion Logo
Search Icon

EKSODUS 18

18
Jetro besoek sy skoonseun Moses
1Moses se skoonpa, Jetro, die priester van Midian, het gehoor van alles wat God vir Moses en sy volk gedoen het. Hy het gehoor hoe die Here hulle uit Egipte verlos het.
2Sy skoonpa het toe sy vrou, Sippora, en sy twee seuns saam met hom na Moses gebring. Moses het haar destyds na haar pa teruggestuur. 3Sy een seun se naam was Gersom#18:3 Gersom is ’n klanknabootsing van ’n woord wat beteken vreemdeling daar. omdat Moses ’n vreemdeling was in ’n ander land. 4Die ander seun se naam was Eliëser#18:4 Eliëser beteken God red my. omdat die God van sy voorouers hom gehelp het en van die vervolging van die farao gered het. 5Moses se skoonpa, Jetro, het toe saam met sy twee seuns en sy vrou by Moses aangekom waar hy in die woestyn kamp opgeslaan het by die berg van God. 6Hy het vir Moses laat weet: “Ek, jou skoonpa Jetro, het saam met jou vrou na jou toe gekom. Sy het haar twee seuns by haar.”
7Moses het toe sy skoonpa gaan ontmoet. Hy het voor hom gebuig en hom gesoen. Ná hulle mekaar uitgevra het oor hoe dit met die ander gaan, is hulle na Moses se tent toe. 8Moses het vir sy skoonpa haarfyn vertel van alles wat die Here met die farao en Egipte laat gebeur het ter wille van Israel. Hy het ook vertel van al die probleme wat hulle langs die pad teëgekom het en hoe die Here hulle daarmee gehelp het.
9Jetro was bly om te hoor van al die wonderlike dinge wat die Here met Israel laat gebeur het toe Hy hulle uit Egipte se greep bevry het. 10Jetro het toe gesê:
“Loof die Here!
Hy het julle bevry
uit die greep van Egipte
en die farao.
Hy het die volk gered
uit die kloue van Egipte.
11Nou weet ek
die Here is groter
as enige ander god,
as enige onregverdige ding
wat hulle met julle
gedoen het.”
12Moses se skoonpa, Jetro, het toe ’n brandoffer voorberei en vir God geoffer. Aäron en al die oudste mans het gekom en saam met Jetro ’n offerete tot eer van God geëet.
Jetro se wyse raad
13Die volgende dag moes Moses weer as regter vir die volk optree. Hulle het van vroegoggend tot laataand by Moses se tent tougestaan.
14Toe Moses se skoonpa sien hoe Moses met die volk werk, vra hy vir hom: “Hoekom doen jy alles self? Die mense staan die ganse dag vir jou en wag!”
15Moses het sy skoonpa geantwoord: “Die volk kom na my toe om te hoor wat die Here sê. 16As daar ’n geskil is tussen twee partye, gee ek uitspraak. Ek sê vir die volk wat God besluit het en wat God wil hê.”
17Sy skoonpa sê toe vir Moses: “Jy hanteer die saak nie reg nie. 18Jy en die volk sal die pas nie kan volhou nie. Dit is te veel vir jou. Jy kan dit nie alles op jou eie doen nie. 19Luister nou na my raad. Mag God jou help om die volk by Hom te verteenwoordig. Jy moet voortgaan om hulle probleme na Hom toe te bring vir uitsluitsel. 20Jy moet voortgaan om hulle in te lig oor God se wette en sy voorskrifte. Leer hulle hoe hulle moet lewe en wat hulle moet doen. 21Maar jy moet ook uit die volk bekwame en eerlike manne kry wat vir die Here wil werk en nie omkoopgeld sal aanvaar nie. Jy moet hulle aanstel om regters te wees oor groepe van onderskeidelik 1 000, 100, 50 en tien mense. 22Hulle moet dan as regters optree in die alledaagse sake. Vir groter sake moet hulle na jou toe kom. Die gewone sake kan hulle self hanteer. Hulle sal die las van jou skouers afhaal en dit saam met jou dra. 23As jy so maak en God jou lei om dit so te doen, sal jy die vrag kan dra en almal sal tevrede wees.”
24Moses het sy skoonpa se raad gevolg en gemaak soos sy skoonpa gesê het.
25Moses het uit die hele Israel bekwame manne gekies en hulle as leiers oor die volk aangestel oor groepe van onderskeidelik 1 000, 100, 50 en tien mense. 26Hulle was voltydse regters oor die volk. Groter sake is na Moses toe gebring en kleiner sake het hulle self hanteer.
27Moses het toe afskeid geneem van sy skoonpa en hy het na sy land toe teruggegaan.

Currently Selected:

EKSODUS 18: NLV

Highlight

Share

Copy

None

Want to have your highlights saved across all your devices? Sign up or sign in

YouVersion uses cookies to personalize your experience. By using our website, you accept our use of cookies as described in our Privacy Policy