EKSODUS 16
NLV
16
Manna en kwartels
1Die Israeliete is weg van Elim af en het by die Sinwoestyn tussen Elim en die Sinaiberg aangekom. Dit was ’n maand nadat hulle uit Egipte weg is. 2Daar in die woestyn het almal teen Moses en Aäron begin uitvaar: 3“Die Here kon ons eerder in Egipte laat doodgaan het. Daar was ten minste genoeg om te eet. Nou het julle ons hier na die woestyn toe gebring sodat almal hier van honger kan doodgaan.”
4Die Here het toe vir Moses gesê: “Ek gaan vir julle kos uit die hemel laat reën. Die volk kan elke dag uitgaan en genoeg kos vir die dag bymekaarmaak. Ek gaan hulle toets om te kyk of hulle na my wil luister of nie. 5Op die sesde dag moet hulle twee keer soveel as gewoonlik bymekaarmaak.”
6Moses en Aäron het vir die Israeliete gesê: “Teen vanaand sal julle weet dat dit die Here self is wat julle uit Egipte laat wegtrek het. 7Môre-oggend sal julle sien hoe groot die Here is. Hy het gehoor hoe julle oor Hom kla. Dis eintlik teen Hóm wat julle so uitvaar en nie teen ons nie.” 8Moses het ook gesê: “Omdat die Here gehoor het hoe julle oor Hom kla, sal Hy teen die aand vir julle vleis gee om te eet en soggens brood om van versadig te word. Dit was eintlik teen die Here wat julle gepraat het, nie teen ons nie.”
9Moses sê toe vir Aäron: “Gaan sê vir die Israeliete: ‘Kom voor die Here bymekaar, want Hy het gehoor wat julle teen Hom sê.’” 10Terwyl Aäron besig was om met hulle te praat, het hulle na die woestyn toe gedraai. Hulle kon in die wolkkolom wat voor hulle uitgegaan het, sien hoe groot God is.
11Die Here het toe vir Moses gesê: 12“Ek het die gekla van die volk gehoor. Sê vir hulle: ‘Julle sal teen skemer vleis hê om te eet en môre-oggend brood om van versadig te word. Julle sal dan weet dat Ek die Here julle God is.’”
13Teen die aand het daar kwartels aangevlieg gekom en oral in die laer gaan sit. Die volgende oggend het daar dou reg rondom die kamp gelê. 14Toe die dou later die dag verdwyn, was die grond van die woestyn bedek met fyn vlokkies wat soos ryp lyk. 15Die Israeliete was verwonderd toe hulle dit sien. Hulle het vir mekaar gevra: “Wat is dit hierdie?” want hulle het dit nie geken nie. Moses antwoord hulle: “Dit is die kos wat die Here vir julle gee om van te eet. 16Die Here het gesê dat elke tent soveel daarvan bymekaar moet maak as wat daar mense in die tent is. Julle moet vir elke persoon twee kilogram daarvan bymekaarmaak.”
17Die volk het gegaan en daarvan bymekaargemaak – party meer, party minder. 18Toe hulle dit afmeet, was dit presies reg. Dié wat baie opgetel het, het niks oorgehou nie. Dié wat min opgetel het, het nie te min gehad nie. Daar was net mooi genoeg vir elkeen om van te eet.
19Moses het toe vir hulle gesê: “Daar mag niks daarvan vir die volgende dag oorbly nie.” 20Tog was daar mense wat nie na Moses geluister het nie. Hulle het daarvan laat oorbly vir die volgende oggend. Daar het toe wurms in gekom sodat dit baie sleg geruik het. Moses was baie kwaad vir hulle.
21Die volk het voortaan elke oggend kos gaan bymekaarmaak volgens elkeen se behoefte. Namate dit in die dag warmer geword het, het die kos wat nie opgetel is nie, verdwyn.
22Op die sesde dag het hulle twee keer meer opgetel as op die ander dae. Die leiers van die volk het dit vir Moses kom vertel. 23Moses het vir hulle gesê: “Die Here het bepaal dat daar ’n rusdag moet wees. Môre is dit die Here se Sabbat. Bak en kook wat julle vir vandag nodig het en laat die ander vir môre oorbly.”
24Hulle het gemaak soos Moses gesê het en die kos wat oorgebly het, het hulle tot die volgende oggend gehou. Dit het nie sleg geword nie en geen wurms het daarin gekom nie. 25Moses sê toe: “Dit is die kos wat julle vandag moet eet. Vandag is die Here se Sabbat. Julle sal nie vandag iets op die grond kry nie. 26Ses dae lank moet julle kos gaan bymekaarmaak, maar die sewende dag is die Here se Sabbat. Op hierdie dag sal daar nie kos op die grond wees nie.”
27Op die sewende dag het party mense tog wel in die veld na kos gaan soek. Hulle kon egter niks kry nie. 28Die Here het toe vir Moses gevra: “Hoe lank gaan julle bly weier om na My te luister en te doen wat Ek sê? 29Kan julle nie insien dat die Here die Sabbat gegee het om op te rus nie? Op die sesde dag gee Hy genoeg vir twee dae. Op die sewende dag moet julle rus. Niemand mag op die Sabbatdag van sy huis af weggaan om kos te gaan soek nie.” 30Die volk het toe op die sewende dag gerus.
31In Israel is hierdie kos toe “manna” genoem. Dit was wit soos koljandersaad en het na heuning geproe.
32Moses het vir hulle gesê: “Die Here het gesê ons moet twee kilogram manna vir die nageslag bewaar sodat hulle kan sien watter soort kos die Here ons laat eet het toe Hy ons uit Egipte bevry het.” 33Moses het vir Aäron gesê: “Maak ’n houer vol met twee kilogram manna. Bewaar dit waar die Here aanbid word dat die nageslag dit kan sien.” 34Aäron het gedoen wat Moses vir hom gesê het. Hy het dit in die ark van die verbond gehou. 35So het Israel manna geëet vir 40 jaar lank totdat hulle weer in ’n bewoonde gebied gekom het. Hulle het manna geëet tot hulle by die grens van Kanaän aangekom het.
36(Die houer waarin twee liter afgemeet is, was een tiende van die gewone eenheid.)

2006 Christlike Uitgewersmaatskappy, Posbus 1599, Vereeniging, 1930, Eerste uitgawe 2006, Tweede uitgawe 2011

Learn More About Nuwe Lewende Vertaling