YouVersion Logo
Search Icon

DEUTERONOMIUM 27

27
Die altaar op Ebalberg
1Moses en die leiers van Israel het aan die volk die volgende opdrag gegee: “Gehoorsaam al hierdie bevele wat ek jou vandag gee. 2Wanneer jy die Jordaanrivier oorsteek en die land binnetrek wat die Here jou God vir jou gee, moet jy ’n paar groot klippe opstapel en hulle met kalk afwit. 3Wanneer jy die rivier oorsteek om die land binne te trek wat die Here jou God vir jou gee, moet jy al hierdie gebooie daarop neerskryf. Dis ’n baie vrugbare land wat die Here, die God van jou voorouers, jou beloof het.
4“Nadat julle die Jordaan oorgesteek het, gaan sit hierdie klippe by Ebalberg neer. Wit dit dan met kalk af, soos wat ek jou vandag beveel. 5Bou daar ’n altaar van gewone klip vir die Here jou God. 6Moenie dit met gekapte klippe bou nie. Offer brandoffers op die altaar vir die Here jou God.
7“Bring ook vredesoffers daarop, en vier met groot vrolikheid fees in die teenwoordigheid van die Here jou God. 8Op die afgewitte klippe moet jy die bepalings van die gebooie duidelik neerskryf.”
9Moses en al die Levitiese priesters het toe die hele Israel soos volg toegespreek: “Israel, wees stil en luister! Vandag het jy die volk van die Here jou God geword. 10Wees gehoorsaam aan die Here jou God en kom al hierdie opdragte en voorskrifte na wat ek vandag vir jou gee.”
Vervloeking van Ebalberg af
11Daardie selfde dag het Moses ook die volgende opdrag aan die volk gegee: 12“Wanneer julle die Jordaanrivier oorsteek, moet die stamme van Simeon, Levi, Juda, Issaskar, Josef en Benjamin op die Gerisimberg gaan staan om die volk te seën. 13Die stamme van Ruben, Gad, Aser, Sebulon, Dan en Naftali moet op die Ebalberg gaan staan om ’n vloek uit te spreek. 14Die Leviete moet dan hardop oor die hele volk Israel uitroep:
15“‘Vervloek is elkeen
wat ’n afgodsbeeld uitkerf
of giet
en dit in die geheim aanhou.
Hierdie afgode
is die werk van ambagsmense,
hulle is afskuwelik vir die Here.’
Dan moet die hele volk antwoord:
‘Amen.’
16‘Vervloek is elkeen
wat sy pa of ma verag.’
Dan moet die hele volk antwoord:
‘Amen.’
17‘Vervloek is elkeen
wat sy naaste se eiendom steel
deur die grensbaken te verskuif.’
Dan moet die hele volk antwoord:
‘Amen.’
18‘Vervloek is elkeen
wat ’n blinde persoon
laat verdwaal.’
Dan moet die hele volk antwoord:
‘Amen.’
19‘Vervloek is elkeen
wat onregverdig optree
teenoor vreemdelinge,
weeskinders en weduwees.’
Dan moet die hele volk antwoord:
‘Amen.’
20‘Vervloek is elkeen
wat seksuele gemeenskap
met die vrou van sy pa het,
want hy het sy pa
oneer aangedoen.’
Dan moet die hele volk antwoord:
‘Amen.’
21‘Vervloek is elkeen
wat seksuele gemeenskap
met ’n dier het.’
Dan moet die hele volk antwoord:
‘Amen.’
22‘Vervloek is elkeen
wat seksuele gemeenskap het
met sy suster,
of sy nou die dogter is
van sy pa of ma.’
Dan moet die hele volk antwoord:
‘Amen.’
23‘Vervloek is elkeen
wat seksuele gemeenskap
met sy skoonma het.’
Dan moet die hele volk antwoord:
‘Amen.’
24‘Vervloek is elkeen
wat iemand anders
in die geheim doodmaak.’
Dan moet die hele volk antwoord:
‘Amen.’
25‘Vervloek is elkeen
wat omkoopgeld aanneem
om iemand anders dood te maak.’
En die hele volk moet antwoord:
‘Amen.’
26‘Vervloek is elkeen
wat hom nie hou
by die voorwaardes
van hierdie gebooie
deur daaraan gehoorsaam
te wees nie.’
Dan moet die hele volk antwoord:
‘Amen.’”

Currently Selected:

DEUTERONOMIUM 27: NLV

Highlight

Share

Copy

None

Want to have your highlights saved across all your devices? Sign up or sign in

YouVersion uses cookies to personalize your experience. By using our website, you accept our use of cookies as described in our Privacy Policy