YouVersion Logo
Search Icon

DEUTERONOMIUM 26

26
Die eerste opbrengs uit die oes
1“Wanneer jy in die land kom wat die Here jou God vir jou as ’n erfenis gee, en jy dit in besit geneem het en jou daarin gevestig het, 2sit van die eerste opbrengs van elke oes in ’n mandjie en bring dit na die plek waar die Here jou God sal verkies dat sy Naam geëer word. 3Gaan na die priester wat dan aan diens is en sê vir hom: ‘Met hierdie gawe erken ek dat die Here jou God my in hierdie land ingebring het wat Hy aan ons voorouers beloof het.’ 4Die priester sal dan die mandjie uit jou hand neem en dit voor die altaar van die Here jou God gaan neersit. 5Jy moet dan in die teenwoordigheid van die Here jou God sê: ‘My voorouer was ’n Arameër wat rondgeswerf het en in Egipte gaan bly het. Sy familie was maar klein, maar in Egipte het hy ’n groot en talryke nasie geword. 6Toe die Egiptenaars ons mishandel en verneder het deur ons hulle slawe te maak, 7het ons tot die Here, die God van ons voorouers, geroep. Hy het ons gehoor en ons swaarkry, harde werk en onderdrukking raakgesien. 8Deur sy groot krag het die Here ons met magtige dade en wondertekens uit Egipte gelei. 9Hy het ons na hierdie plek toe gebring en aan ons hierdie vrugbare land gegee. 10Ek bring dan nou vir U, Here, die eerste opbrengs van die oes van die land wat U vir my gegee het.’ Dan moet jy dit voor die Here jou God neersit en Hom aanbid. 11Gaan dan en geniet al die goeie dinge wat die Here jou God aan jou en jou huishouding gee. Onthou om die Leviete en vreemdelinge wat onder jou woon ook by die feesvierings in te sluit.
12“Elke derde jaar moet jy ’n spesiale tiende van jou oesopbrengs afstaan. Jy moet dit aan die Leviete, die vreemdelinge, weeskinders en weduwees gee sodat hulle genoeg kan hê om in hulle dorpe te eet. 13Dan moet jy in die teenwoordigheid van die Here jou God verklaar: ‘Ek het hierdie heilige gawe uit my huis geneem en dit aan die Leviete, vreemdelinge, weeskinders en weduwees gegee net soos U my beveel het. Ek het nie een van u opdragte oortree of vergeet nie. 14Ek het nie iets daarvan geëet terwyl ek gerou het nie; ek het nie daaraan geraak toe ek seremonieel onrein was nie en ek het niks daarvan aan dooies geoffer nie. Ek was gehoorsaam aan die Here my God en het alles gedoen wat Hy my beveel het. 15Kyk tog af uit u heilige woning in die hemel en seën u volk Israel en hierdie vrugbare land wat U aan ons gegee het, net soos U plegtig aan ons voorouers beloof het.’”
’n Oproep om die Here se opdragte te gehoorsaam
16“Die Here jou God beveel jou vandag om al hierdie voorskrifte en bepalings na te kom. Verbind jou van harte daartoe. 17Jy het vandag verklaar dat die Here jou God is. Jy het belowe om al die voorskrifte, opdragte en bepalings te gehoorsaam deur in sy weë te wandel en alles te doen wat Hy jou beveel. 18Die Here het vandag verklaar dat jy sy volk is, sy kosbare besitting, net soos Hy beloof het, en dat jy al sy opdragte moet gehoorsaam. 19As jy so maak, sal Hy jou groter maak as enige ander nasie. Dan sal jy lof, eer en roem ontvang. Jy sal ’n heilige volk vir die Here jou God wees, soos wat Hy beloof het.”

Currently Selected:

DEUTERONOMIUM 26: NLV

Highlight

Share

Copy

None

Want to have your highlights saved across all your devices? Sign up or sign in

YouVersion uses cookies to personalize your experience. By using our website, you accept our use of cookies as described in our Privacy Policy