1 SAMUEL 1
NLV
1
1Hanna se vernedering
In Rama, in die heuwelgebied van Efraim, het daar ’n Suffiet gewoon met die naam Elkana. Hy was die seun van Jerogam en die kleinseun van Elihu uit die familie van Togu, van die familiegroep van Suf, uit Efrata. 2Hy het twee vroue gehad, Hanna en Peninna. Peninna het kinders gehad, maar Hanna was kinderloos.
3Elke jaar het Elkana en sy gesin na Silo toe gegaan om daar te aanbid en offers vir die Here, die Almagtige, te bring. Die priesters van die Here daar was Hofni en Pinehas, die twee seuns van Eli. 4Wanneer Elkana sy offers bring, het hy gewoonlik gedeeltes van die offermaaltyd aan Peninna en haar kinders gegee. 5Al het hy Hanna baie liefgehad, kon hy vir haar net een deel van die offer gee, omdat die Here nie vir haar kinders gegee het nie. 6Maar Peninna het Hanna oor haar kinderloosheid gespot en verneder. 7Dit het jaar na jaar gebeur wanneer hulle na die huis van die Here gegaan het. Dit het Hanna so laat huil dat sy nie wou eet nie.
8“Wat makeer, Hanna?” het Elkana dan gevra. “Hoekom eet jy nie? Hoekom is jy so verdrietig net omdat jy nie kinders het nie? Jy het mos vir mý! Is ek dan nie beter as tien seuns nie?”
Hanna se gebed vir ’n seun
9Op ’n keer toe hulle weer by Silo was, het Hanna ná die offermaaltyd na die heiligdom van die Here gegaan. Die priester Eli het op sy gewone plek by die ingang gesit. 10Hanna was baie ontsteld en terwyl sy onbedaarlik huil, het sy tot die Here gebid. Sy het 11’n gelofte maak: “O Here, Almagtige, as U tog net my verdriet wil raaksien en my gebed verhoor en vir my ’n seun gee, sal ek hom vir U teruggee. Lewenslank sal hy aan U behoort. As teken daarvan sal sy hare nooit gesny word nie.”
12Terwyl sy besig was om te bid, het Eli haar dopgehou. 13Haar lippe het beweeg, maar ’n mens kon niks hoor nie. Hy dink toe sy is dronk. 14“Moet jy dan besope hier aankom?” sê hy. “Los die drank uit!”
15“O nee, Meneer!” antwoord sy. “Ek het nie wyn of sterk drank gedrink nie. Ek is net diep bedroef. Ek het maar net my hart voor die Here oopgemaak. 16Asseblief, moenie dink ek is ’n slegte vrou nie. Ek het so lank gebid omdat ek baie hartseer is.”
17“Gaan gerus,” sê Eli. “Mag die God van Israel vir jou gee wat jy Hom gevra het.”
18“Baie dankie, Meneer!” antwoord sy en gaan terug om te eet. Sy was nie meer hartseer nie.
Die geboorte van Samuel
19Die gesin het vroeg die volgende oggend opgestaan. Nadat hulle die Here aanbid het, is hulle terug huis toe in Rama. Elkana het by Hanna geslaap en die Here het Hanna se versoek onthou. 20Sy het swanger geword en op die regte tyd geboorte gegee aan ’n seun. Sy het hom Samuel genoem, “want,” het sy gesê, “ek het hom van die Here afgesmeek.”
Hanna vat Samuel na die
heiligdom
21Die volgende jaar het Elkana, Peninna en haar kinders soos gebruiklik vertrek om vir die Here te gaan offer. 22Hanna het egter nie saamgegaan nie. Sy het vir haar man gesê: “Wag totdat die kindjie gespeen is. Dan sal ek hom neem om voor die Here te verskyn en lewenslank daar te bly.”
23“Doen wat jy dink die beste is,” antwoord Elkana. “Bly hier totdat hy gespeen is, en mag die Here sy woord waar maak.” Sy het dus tuis gebly en die baba versorg.
24Toe die kindjie gespeen is, het Hanna hom na die heiligdom van die Here in Silo geneem. Hulle het ’n driejaaroud bul as offer saamgeneem en ook omtrent sestien kilogram meel en wyn. 25Nadat hulle die bul geoffer het, neem hulle die seuntjie na Eli toe. 26“Meneer, onthou u my?” vra Hanna. “Ek is die vrou wat hier gestaan het en tot die Here gebid het. 27Ek het die Here gevra om my hierdie kind te gee en Hy het my gebed verhoor. 28Nou gee ek hom terug vir die Here. Hy sal lewenslank aan die Here behoort.” Daarna het hulle die Here daar aanbid.

2006 Christlike Uitgewersmaatskappy, Posbus 1599, Vereeniging, 1930, Eerste uitgawe 2006, Tweede uitgawe 2011

Learn More About Nuwe Lewende Vertaling