YouVersion Logo
Search Icon

RUT 4

4
’n Transaksie by die poort
1Boas het na die dorpspoort gegaan en daar gaan sit en wag. Toe die losser van wie hy gepraat het, daar verbykom, roep Boas hom. “Kom hiernatoe, vriend. Ek wil met jou praat.” Hy het by hom gaan sit. 2Toe roep Boas tien van die leiers van die dorp nader en vra hulle om as getuies op te tree. 3Boas sê vir die losser: “Naomi wat uit Moab teruggekom het, wil die landerye wat aan ons bloedverwant Elimelek behoort het, verkoop. 4Ek het gedink ek moet met jou hieroor praat sodat jy as losser kan optree as jy wil. As jy die landerye wil hê, moet jy hier in die teenwoordigheid van hierdie getuies verklaar dat jy as losser sal optree. Maar as jy dit nie wil doen nie, moet jy my dadelik sê, want ek is die volgende losser ná jou.”
Die man antwoord hom: “Dis goed. Ek sal as losser optree.”
5Toe sê Boas vir hom: “Hou net in gedagte dat wanneer jy die landerye van Naomi loskoop, jy ook met Rut, die Moabitiese weduwee, sal moet trou. Op hierdie manier sal sy kinders kan hê wat haar man se naam kan voortsit en die landerye in die familie hou.”
6“In so ’n geval wil ek nie as losser optree nie,” antwoord die naaste losser, “want dit kan my eie erfporsie in gevaar stel. Jy kan gerus as losser optree, want ek wil nie.”
7Destyds was dit die gebruik in Israel by die lossingproses of die oordrag van eiendomsregte dat die transaksie soos volg bevestig word: Die een wat sy regte aan iemand anders oordra, moet ook sy skoen uittrek en dit vir die ander party gee. Dit het die transaksie bekragtig. 8Die ander losser trek toe sy skoen uit en sê vir Boas: “Jy kan dit koop.”
9Toe sê Boas vir die leiers en die mense om hulle: “Julle is getuie dat ek vandag Elimelek, Kiljon en Maglon se eiendom by Naomi loskoop.
10“Saam met die landerye verkry ek ook vir Rut, die Moabitiese weduwee van Maglon, as my vrou. Op hierdie manier sal die grond in die naam van die familie bly. So sal die naam van die gestorwene nie onder sy broers en uit die poort van sy woonplek uitgewis word nie. Julle is vandag almal getuie daarvan.”
11Toe sê die leiers en almal wat daar staan: “Ons is getuie. Mag die Here die vrou wat nou in jou huis inkom, maak soos Ragel en Lea, van wie die hele volk afgestam het. Mag jy aansien in Efrata en beroemdheid in Betlehem verwerf.
12“Mag die Here deur hierdie vrou vir jou afstammelinge gee wat sal wees soos ons stamvader Peres, die seun van Tamar en Juda.”
Die afstammelinge van Boas
13Boas het toe met Rut getrou. Sy het sy vrou geword. Hy het by haar geslaap en die Here het haar laat swanger word. Sy het geboorte gegee aan ’n seun.
14Toe sê die vroue van die dorp vir Naomi: “Prys die Here wat vandag vir jou ’n losser gegee het. Mag hy beroemd word in Israel. 15Mag hierdie kind vir jou vreugde bring en vir jou sorg in jou ouderdom. Want hy is die seun van jou skoondogter wat vir jou so lief is en wat vir jou meer beteken as sewe seuns!”
16Naomi het die seuntjie op haar skoot getel en hom as haar eie kind beskou. 17Die buurvroue het hom Obed genoem. Hulle het gesê: “Daar is ’n seun vir Naomi gebore.” Hy het die pa geword van Isai en die oupa van Dawid.
Die volledige geslagslys van Dawid
18Hier volg nou die stamboom van Peres: Peres was die vader van Gesron. 19Gesron was die vader van Ram. Ram was die vader van Amminadab. 20Amminadab was die vader van Nagson. Nagson was die vader van Salmon. 21Salmon was die vader van Boas. Boas was die vader van Obed. 22Obed was die vader van Isai. Isai was die vader van Dawid.

Currently Selected:

RUT 4: NLV

Highlight

Share

Copy

None

Want to have your highlights saved across all your devices? Sign up or sign in

YouVersion uses cookies to personalize your experience. By using our website, you accept our use of cookies as described in our Privacy Policy