Net ek en U Here, getrouheid in die geheime plek - PC PretoriusVoorbeeld

Skatte en oë – Wat jou hart rig
Jesus waarsku teen die versameling van skatte op aarde, waar mot en roes dit verniel. In plaas daarvan moet ons skatte in die hemel vergader – dit wil sê, dinge van ewigheidswaarde: "want waar julle skat is, daar sal julle hart ook wees." (Matteus 6:21 AFR53).
Hy gebruik ook die beeld van die oog: as jou oog reg is, sal jou hele liggaam vol lig wees. Maar as jou oog sleg is (selfsugtig, gierig), is jy geestelik in die duister. Die hart en die oë werk saam – wat jy waardeer, bepaal wat jy nastreef.
Ons kan nie twee base dien nie: God en Mammon (geld/rykdom). As ons aan geld verknog is, sal ons God se werklikheid begin verwaarloos.
Dit is só ‘n belangrike beginsel in Jesus se onderrig op aarde. Hy praat baie oor geld, oor onvergenoegdheid en die risiko van ongeluk wat ‘n verkeerde siening oor geld mag bring. Hy weet mense sal maklik verlei word om ‘n lewe van gemak na te streef, wat hulle oog van Hom af kan haal. As dit met ons goed gaan, is ons makliker geneig om te dink ons sukses kom uit eie krag. Ons kan nie ons afhanklikheid van God verloor nie, al gaan dit hoe goed.
In wese gaan dit ook oor afgodery. Niks in hierdie wêreld, mag ‘n belangriker plek in ons lewe inneem as God nie. Hy sluit aan by die grootste gebod – om God lief te hê en Hom bo alles te stel. Omdat God die mens so goed ken (as ons Skepper), weet Hy afgodery gaan maklik gepaard met materialisme. Daarom waarsku Hy dat ons “skat” altyd eerstens ons verhouding met Hom moet wees en dat niks daardie eerste plek in ons harte mag inneem nie.
Vrae vir nadenke:
· Watter dinge rig tans jou hart – tydelik of ewig?
· Is daar iets in jou lewe wat jou geestelike visie verduister?
Aangaande hierdie leesplan

Matteus 6 vorm deel van Jesus se Bergpredikasie en fokus op die innerlike motiewe agter godsdienstige praktyke. In hierdie hoofstuk leer Jesus dat ware geregtigheid nie gaan oor uiterlike vertoon nie, maar oor opregte gehoorsaamheid voor God, selfs (en veral) as niemand kyk nie. Hierdie leesplan van vier dae help jou om Matteus 6 deeglik te verstaan: wat dit beteken om voor God te leef, nie vir die goedkeuring van mense nie; en hoe ware geestelike volwassenheid in die verborge plek gevorm word.
More
Ons wil graag Moreleta Kerk bedank vir die verskaffing van hierdie plan. Vir meer inligting, besoek asseblief: www.moreleta.org