Net ek en U Here, getrouheid in die geheime plek - PC PretoriusVoorbeeld

Net ek en U Here, getrouheid in die geheime plek - PC Pretorius

DAG 2 VAN 4

Bid soos kinders – Die hart van die Onse Vader

Jesus leer ons dat gebed nie 'n vorm van herhaling of vertoon is nie. Heidene gebruik baie woorde, want hulle dink hulle sal verhoor word omdat daar baie woorde is. Jesus stel daarteenoor 'n eenvoudige, opregte gebed – die "Onse Vader" – waarin Hy God aanspreek as Vader, nie as 'n veraf God wat omgekoop moet word nie.

Hierdie modelgebed wys wat regtig saak maak: dat God se Naam geheilig word, sy wil geskied, en dat ons in afhanklikheid van Hom leef – vir daaglikse brood, vergifnis, en bewaring teen versoeking (Matteus 6:9-13, AFR53). Gebed is 'n verhouding, nie 'n ritueel nie.

Ons word ook aangemoedig om ander te vergewe soos God ons vergewe het. Gebed sonder vergewensgesindheid weerspreek die hart van die evangelie.

Wanneer ons vanuit verhouding bid, en nie vanuit ‘n plek van verbruikerswese om ons eie lewe te bevoordeel nie, dan beweeg ons nader aan God se bedoeling met gebed. Dit is ‘n opregte gesprek tussen skepsel en Skepper, wat in eenvoud gedoen kan word. Soms voel ons om voor mense te bid moet ons groot woorde en uitmuntende taal gebruik – en vergeet so maklik dat dit slegs moet gaan oor wat ons met ons hemelse Vader praat. Daar is ook as gevolg van hierdie redes, soms ‘n ongemak om voor mense te bid. Wanneer dit opreg vanuit ons verhouding met God gaan, en ons Hom onselfsugtig wil verheerlik, is die modelgebed genoeg. Alhoewel dit nie ‘n rympie moet word wat ons net uit gewoonte opsê nie, gaan dit juis daaroor om intensioneel te bedoel wat ons bid as ons die woorde van die "Onse Vader"-gebed opsê.

Vrae vir nadenke:

· Hoe is jou gebedslewe tans – vorm of verhouding?

· Is daar iemand wat jy moet vergewe om vrylik met God te kan wandel?

Aangaande hierdie leesplan

Net ek en U Here, getrouheid in die geheime plek - PC Pretorius

Matteus 6 vorm deel van Jesus se Bergpredikasie en fokus op die innerlike motiewe agter godsdienstige praktyke. In hierdie hoofstuk leer Jesus dat ware geregtigheid nie gaan oor uiterlike vertoon nie, maar oor opregte gehoorsaamheid voor God, selfs (en veral) as niemand kyk nie. Hierdie leesplan van vier dae help jou om Matteus 6 deeglik te verstaan: wat dit beteken om voor God te leef, nie vir die goedkeuring van mense nie; en hoe ware geestelike volwassenheid in die verborge plek gevorm word.

More

Ons wil graag Moreleta Kerk bedank vir die verskaffing van hierdie plan. Vir meer inligting, besoek asseblief: www.moreleta.org