Die deur is toe; wat nou?Voorbeeld

Die deur is toe; wat nou?

DAG 4 VAN 7

DAG 4:

“Om te glo, is om seker te wees van die dinge wat ons hoop, om oortuig te wees van die dinge wat ons nie sien nie” (Hebreërs 11:1).

Weet jy dat Markus vier maal in die evangelies na geloof verwys en nie een keer het dit iets met ons gesindheid te doen nie? Vir Markus is geloof daardie iets wat jy kan sien, in reaksie op dit wat jy nie kan sien nie. Ons sien dieselfde soort geloof by Abraham, Josef en Jesus se volgelinge.

In Markus 2 laat sak die verlamde man se vriende hom deur die dak tot voor Jesus se voete. Toe Jesus hul geloof sien en hoe baie hulle God vertrou en geen moeite ontsien het om hom by Jesus te kry nie, maak Hy hul vriend gesond. Dankie tog hulle het nie sommer omgedraai om huis toe te gaan nie! Hulle het blindelings geglo Jesus kan hul vriend gesond maak!

Ek weet nie wat jou omstandighede vandag is nie. Dalk het jy jou werk verloor, dalk sukkel jy met siekte, of miskien het jy verhoudingsprobleme. Jy is dalk moedeloos gesukkel, gebid en geprobeer. Kyk op en weet:

As jy net vier goeie vriende het, naamlik God die Vader, sy Seun Jesus Christus en die Heilige Gees, dan kan jy hardop sê: Ek kán dit doen; ek gáán dit regkry; ek gaan níé moed verloor nie. Maar soms het jy nie hierdie vier vriende nie en dis dan wanneer jy baie sukkel. Spreuke 3:5 sê: "Vertrou volkome op die Here en moenie op jou eie insigte staatmaak nie."

God het nooit bedoel dat ons alleen deur hierdie lewe moet gaan nie. Hy het ons geskep om lief te hê en om geliefd te wees. Sluit by ‘n kerkgroep aan, kry vriende wat saam met jou en vir jou kan bid. Raak deel van ‘n huiskerk of kleingroep. Onthou die Woord leer ons ook dat daar altyd krag in gebed is en waar twee of meer saam bid, is God self daar by hulle.

Vertrou die Here blindelings met jou lewe. Moenie so gou die handdoek ingooi nie. Psalm 27:14: "... Hou moed. Wees sterk."

GEBED:

Liewe Heer, ek bid vandag vir daardie geloof wat hoop kan raaksien, as ‘n reaksie op dit wat ek nie met my blote oog kan sien nie. Dankie dat U my moed gee en my sterk maak. Amen.

Aangaande hierdie leesplan

Die deur is toe; wat nou?

Soms kom ons voor daardie spreekwoordelike "Toe Deur" te staan. Wat moet ons doen as dit vir ons voel God hoor ons nie? Die verhaal van die verlamde man wys ons daarop dat die toe-deur-oomblikke eintlik die begin kan wees van wonderlike deurbrake.

More

Ons wil graag Sonja Goldberg bedank vir die verskaffing van hierdie plan. Vir meer inligting, besoek asseblief: www.sonjagoldberg.co.za