Die deur is toe; wat nou?Voorbeeld

DAG 3:
“Toe hulle hom weens die gedrang nie by Jesus kon kry nie...breek hulle die dak reg bokant Hom oop, en nadat hulle ‘n opening in die dak gemaak het, laat hulle die draagbaar waarop die verlamde man gelê het, daardeur afsak” (Markus 2:4).
Wanneer dit vir jou voel die deur waardeur jy wou gaan bly toe, is dit dalk tyd vir jou om te sê: “Daar moet ‘n ander manier wees!” Soms gee God ‘n ander vlak van oorwinning as die een wat jy gedink het die regte een moet wees. Dis dalk jou tyd om op te kyk!
Die dakke in die Bybelse tyd was meestal van gras, modder en takke gemaak. Om ‘n opening daarin te maak, was ‘n groot werk en gemors! Hulle moes deur die modder en gras grawe. Ja, naels wat breek en heel waarskynlik hande wat bloei. Dit was nie ‘n maklike taak nie.
Wat moes jy al opoffer, of hoe seer moes jy kry terwyl jy soekend was na ‘n ander uitweg, as die een wat jy gedink het vir jou perfek sou wees? Soms leer die teleurstellings in jou lewe jou om diep te grawe. As jy nie by die deur kan ingaan wat jy gehoop/gedroom/gedink het die regte een vir jou is nie, dan ontdek jy dalk net ‘n ander opening. Dis dan ook nie ‘n deur wat deur die norm van mense goedgekeur is nie. Dit sal een wees wat God self oopmaak.
As God die uitkoms gee, is dit Hy wat jou seën, maar dit gaan altyd daaroor dat jy weer vir ander tot seën kan wees.
Hierdie ander deur waaraan jy so hard moes werk, is nie vir mense wat wil tou opgooi omdat die Wifi ‘n bietjie te stadig na hul sin is nie. Dis nie vir mense wat nie kerk toe kom nie omdat dit die oggend te koud of te warm was nie. Nee, hierdie deur is vir mense wat vasbeslote is om te doen wat God se doel vir hulle is. Dis vir diegene wat vasberade is. Dis vir mense wat desperaat is om op ‘n plek te wees waar God hulle tot sy eer kan gebruik.
Ja, dis vir mense met geloof. (Hebreërs 11:1).
GEBED:
My Vader, ek bid vir die nodige krag en deurstettingsvermoë om nie te gou moed te verloor nie. Sal U my asseblief so posisioneer sodat ek ‘n getuie vir U kan wees. Amen.
Aangaande hierdie leesplan

Soms kom ons voor daardie spreekwoordelike "Toe Deur" te staan. Wat moet ons doen as dit vir ons voel God hoor ons nie? Die verhaal van die verlamde man wys ons daarop dat die toe-deur-oomblikke eintlik die begin kan wees van wonderlike deurbrake.
More
Ons wil graag Sonja Goldberg bedank vir die verskaffing van hierdie plan. Vir meer inligting, besoek asseblief: www.sonjagoldberg.co.za