Leesplan inligting

Die Boek van Kolossense: Is Jesus Genoeg?Voorbeeld

Die Boek van Kolossense: Is Jesus Genoeg?

DAG 4 VAN 5

Is Jesus genoeg vir jou karakter?

Ek het een keer die storie gehoor van ʼn kunsversamelaar wat een van Leonardo da Vinci se meesterstukke gekoop het. Hy het basies sy hele lewe om daardie skildery gereël omdat dit so waardevol en belangrik vir hom was. Ons is eintlik baie soos daardie kunsversamelaar. Ons is geneig om ons lewens in te rig volgens dít wat vir ons die belangrikste, of middelpunt, is. Daarom begin ons lewens anders lyk wanneer ons Jesus die middelpunt daarvan maak.

In Paulus se dae het die Griekse, Romeinse en Oosterse godsdienste weinig tot min te sê gehad oor persoonlike transformasie of heiligheid. Dit was heeltemal aanvaarbaar, en van mense verwag, om bloot hulle offers te bring, hulle tempelgebede op te sê en dan aan te gaan met hulle losbandige lewens. Skynbaar het niemand gedink dat dit skynheilig was nie. Geen godsdienstige oortuiging het destyds vereis dat mense hulle lewens moes verander nie. Paulus daag hierdie stand van sake uit deur te sê: “Dit werk nie so in Christus nie!” 'n Nuwe innerlike lewe noodsaak ook ʼn nuwe uiterlike lewe. In Kolossense 3:1-10 verduidelik Paulus dat wanneer jy Jesus die middelpunt van jou lewe gemaak het, kan jou lewe eenvoudig net nie dieselfde bly nie. Alles wat jy is en doen begin verander om in ooreenstemming te kom met God se Koninkryk. Wat jy op aarde uitleef, word dan ʼn waardige weerspieëling van jou hemelse posisie.

Soos ons gister gesien het, is die Evangelie nie hoofsaaklik transaksioneel nie, maar eerder relasioneel, dit gaan oor 'n verhouding. Professor Darrel Bock verduidelik dat ons reaksie op Jesus se Goeie Nuus nie kortstondig behoort te wees nie, inteendeel, dit is ʼn lewenslange reaksie. Hierdie reaksie is drievoudig: bely (heroorweeg die manier waarop jy met God omgaan, gebaseer op wat Jesus gedoen het), glo (omarm en stel jou volle vertroue in Jesus en alles wat Hy gedoen het) en draai (rig jou lewe na Jesus). Paulus beskryf hierdie soort van gedaanteverwisseling, of karaktertransformasie, as die “uittrek” van die ou mens en die “aantrek” van die nuwe mens (Kolossense 3:9-10). Dit is nie kners-op-jou-tande moralisme nie. Dit is 'n oor-die-lange-duur, Gees-gedrewe, gedagtes-vernuwende reaksie op God se genade in Jesus. Dan word ons lewens later gekenmerk deur nederigheid en vreugde want hoe meer ons op Jesus fokus, hoe minder selfsugtig raak ons.

Oordink dit en herinner jouself dat hierdie lewenslange reaksie op die boodskap van die evangelie beteken dat jy die hele trajek van al jou drome, begeertes, finansies, seksualiteit, oortuigings en beroep moet verander. Dit is nie bloot die bestuur van jou uiterlike beeld nie. Dit is eerder 'n keuse wat jy daagliks, en oor die dekades van jou lewe heen, maak om jou lewe in te rig volgens die genade en waarheid van Jesus, wat die begin en einde van alles is. Jesus is werklik genoeg vir jou karakter.

Dag 3Dag 5

Aangaande hierdie leesplan

Die Boek van Kolossense: Is Jesus Genoeg?

Daar was nog nooit ʼn meer indrukwekkende persoon as Jesus van Nasaret nie. Is Hy egter genoeg? Genoeg vir jou redding, jou karakter, jou lewensdoel? Genoeg vir jou hele lewe? In hierdie vyf-dag leesplan gebruik Jo Ströhf...

More

Ons wil graag Doxa Deo bedank vir die verskaffing van hierdie leesplan. Vir meer inligting, besoek asseblief: https://www.doxadeo.org/

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid