Leesplan inligting

Die Boek van Kolossense: Is Jesus Genoeg?Voorbeeld

Die Boek van Kolossense: Is Jesus Genoeg?

DAG 2 VAN 5

Is Jesus genoeg vir jou lewe?

Kolossense 1:13-22 lees soos ʼn lied wat oor die ganse mensdom weerklink en wat met hartroerende lirieke die voortreflikheid van Jesus verklaar: sy absolute uitnemendheid en grootsheid. Hierdie gedeelte is opgedeel in drie dele – twee strofes omsluit die hooftema wat uiters belangrik is om te begryp: wanneer Jesus die middelpunt van ons lewens is (soos wat Hy die middelpunt van die skepping is), vind ons ons identiteit, vryheid en lewensdoel.

In die eerste strofe sê Paulus dat Jesus die hoof van die skepping is. (Die tweede strofe fokus op Jesus as die hoof van die kerk, wat ons gister behandel het.) Die Griekse woord prōtotokos wat as “eersgeborene” vertaal word, verwys nie na tyd nie, maar na plek of status. Jesus is nie die eerste wese wat geskep is nie (Hy het immers alles geskep). Eerste of eersgeborene verwys bloot na “heel eerste met betrekking tot belangrikheid of rangorde”.

Paulus sê voorts dat Jesus “die sigbare uitbeelding van die onsigbare God” is. As jy dus vir God wil leer ken, kan jy na Jesus kyk. Paulus voeg ook by: “álle dinge is deur Hom en vir Hom geskep” (Kolossense 1:16). Hy is die beginpunt sowel as die einddoel van die hele skepping, en alles – insluitende jy – behoort aan Hom.

In die middel van die twee strofes van Kolossense 1:13-22 vind ons die kragtige hooftema: “Hý was daar vóór alles, en in Hom word alles saamgebind” (Kolossense 1:17). Vir die konsep “saamgebind” gebruik Paulus dieselfde Griekse woord wat die Stoïsynse filosowe van daardie dae sou gebruik het om na hulle persoonlike lewens te verwys. Hy beweer dat Jesus ons lewens op dieselfde manier in stand hou as wat Hy die heelal in stand hou. Dit moes die Stoïsyne stomgeslaan het. Selfs in ons hedendaagse kultuur is dit ook ʼn verstommende gedagte; die Skepper is intiem betrokke in die fynste besonderhede van ons lewens en die mate waartoe jy jou lewe onderwerp het aan die heerskappy van Christus is die mate waartoe jou lewe saamgebind sal bly, oftewel, nie uitmekaar sal val nie.

Jy ken seker kinders (of grootmense) wat glad nie daarvan hou as die verskillende kosse op hulle borde vermeng raak nie. Dit is seker nie ʼn ernstige saak nie, maar wat wel ʼn ernstige saak is, is dat ons soms die dinge in ons lewens op dieselfde manier apart van mekaar hou. Ons hou ons ontspanning, verhoudings, finansies, seksualiteit, stokperdjies en Christenskap alles mooi van mekaar geskei. Hierdie noukeurig afgesonderde fragmente het geen effek op die geheel nie. Op die ou end is dit frustrerend en oneffektief, want God se bedoeling was nooit dat ons lewens gekompartementaliseer moet wees nie. Jesus kan nie net nóg ʼn yster in die vuur van jou lewe wees nie; Hý is veronderstel om die vuur te wees! Die wonderlike waarheid is dat hierdie diep verbonde, holistiese lewe nie iets is wat ons moet verdien nie, maar waarin ons deur genade ingelei word. As aangenome kinders van die Koning – met nuwe identiteite en bevestigde roepings – word ons gebrokenheid genees en word ons al hoe meer wie ons alreeds in Jesus is.

Die hele skepping draai om Jesus, word in stand gehou deur Jesus, wys na Jesus en vind vervulling in Jesus. Alles gaan oor Jesus – jou lewe ook.

Dag 1Dag 3

Aangaande hierdie leesplan

Die Boek van Kolossense: Is Jesus Genoeg?

Daar was nog nooit ʼn meer indrukwekkende persoon as Jesus van Nasaret nie. Is Hy egter genoeg? Genoeg vir jou redding, jou karakter, jou lewensdoel? Genoeg vir jou hele lewe? In hierdie vyf-dag leesplan gebruik Jo Ströhf...

More

Ons wil graag Doxa Deo bedank vir die verskaffing van hierdie leesplan. Vir meer inligting, besoek asseblief: https://www.doxadeo.org/

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid