Leesplan inligting

Die Boek van Kolossense: Is Jesus Genoeg?Voorbeeld

Die Boek van Kolossense: Is Jesus Genoeg?

DAG 3 VAN 5

Is Jesus genoeg vir jou redding?

Ek was onlangs absoluut mislei om 'n fopnuus artikel te glo wat beweer het dat daar 'n argeologiese fonds gemaak was wat klaarblyklik ʼn rekord bevat van 'n ooggetuie se weergawe van een van Jesus se wonderwerke. Miskien is jy meer sinies en minder liggelowig as ek, maar ons almal loop die risiko dat fopnuus ons kan verwar en ons aandag kan aftrek van Jesus se Goeie Nuus. Dit is dan ook die kwessie wat Paulus in Kolossense 1:24-2:23 aanroer.

Eerstens gee Paulus vir ons ʼn kort, outobiografiese beskrywing van sy bediening. Hy skryf uit die tronk aan die Kolossense en hy stel dit baie duidelik dat hy bereid is om allerhande swaarkry deur te gaan om te verseker dat hierdie medegelowiges tot die volle begrip van God se waarheid kom.

Dan hanteer Paulus die kwessie van die fopnuus oor Jesus wat die rondte doen. Hy bevestig weereens die waarheid dat die Goeie Nuus nie ʼn stelsel, kursus, ritueel of nuwe godsdiens is nie. Dit is ʼn blye boodskap oor ons versoening met God deur 'n verhouding met Jesus. N.T. Wright sê: “Christenskap is Christus. Maak Christus die middelpunt waarom die hele wêreld draai en die wêreld sal nie meer in onbegryplike sirkels spin nie, maar sal begin sin maak. Vind Hom en jy het die ware skat gevind. Hy is doodeenvoudig waaroor dit alles gaan.” Paulus gee vir ons twee wonderlike implikasies van ons nuwe lewe in Christus: “Christus leef in julle. Dit is die vooruitsig dat julle in die hemelse heerlikheid sal deel” (Kolossense 1:27). Jesus is nie net met ons nie, maar ín ons! Ons kan met die hoop leef dat daar vir ons wonderlike dinge voorlê – 'n ewigheid saam met Hom.

Niemand is seker oor presies watter valse lering in die Kolossense se gemeente versprei is nie, maar dit was iets in dié lyn: Jesus is 'n goeie begin, maar Hy is nie genoeg nie. Paulus wou bitter graag hê die Kolossense moes vrykom van wettisisme en hulle volkome volmaaktheid in Christus verstaan, so hy verduidelik vir hulle dat hulle nie meer goeie dinge en minder slegte dinge hoef te doen om hulle redding waardig te wees nie. Ongelukkig beloof beide godsdienstigheid (wettisisme of die nakoming van reëls) sowel as moralisme dat uiterlike verandering innerlike transformasie sal meebring. Maar jy hoef nooit – en kan immers nooit – byvoeg by wat Christus reeds volbring het nie! Die wonderlike ding van die evangelie is dat dit nie ʼn transaksie is nie, maar 'n verhouding wat transformasie tot gevolg het. Ons is nie bloot net versoen met God deur middel van ons geloof in Jesus nie, maar omdat ons in 'n noue verhouding met Jesus is, word ons ook getransformeer tot mense met 'n opregte begeerte om God te verheerlik in elke faset van ons lewens.

God se gawe van redding lei na 'n liefde wat jou nooit in die steek sal laat nie, vreugde wat onveranderd bly ten spyte van jou lewensomstandighede, vrede wat diep in jou siel ingang vind, 'n skoon gewete ten spyte van oortredings in jou verlede, 'n karakter wat voortdurend daarna streef om meer hoop en geregtigheid in die wêreld te vestig en 'n verstand wat groot kan droom vir die Koninkryk. Dit maak nie saak hoe moeilik of donker hierdie lewe raak nie, of watter siekte of swaarkry jy in die gesig staar nie, of watter bespotting of skande jy moet deurmaak nie, Christus leef altyd in jou – die hoop op hemelse heerlikheid. Jesus is genoeg.

Dag 2Dag 4

Aangaande hierdie leesplan

Die Boek van Kolossense: Is Jesus Genoeg?

Daar was nog nooit ʼn meer indrukwekkende persoon as Jesus van Nasaret nie. Is Hy egter genoeg? Genoeg vir jou redding, jou karakter, jou lewensdoel? Genoeg vir jou hele lewe? In hierdie vyf-dag leesplan gebruik Jo Ströhf...

More

Ons wil graag Doxa Deo bedank vir die verskaffing van hierdie leesplan. Vir meer inligting, besoek asseblief: https://www.doxadeo.org/

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid