Leesplan inligting

Wees jý die Barnabas.Voorbeeld

Wees jý die Barnabas.

DAG 1 VAN 7

JOU NAAM HET BETEKENIS

"Josef ‘n Leviet wat op Siprus gebore is en wat deur die apostels Barnabas genoem is – dit beteken iemand wat mense moed inpraat" Handelinge.4:36 (a).

Mense gee mos gou vir mekaar byname. Jy weet, Sannie Slippers (want sy dra graag haar pantoffels); of Koos Garage (want hy is die eienaar van die plaaslike motorhandelaar). Dan kry ‘n mens soms ook waar daar dikwels ‘n paar geslagte is waar die seuns dieselfde name het – Groot Piet, Klein Piet en Baba-Piet. Meer dikwels sê die bynaam egter iets van ‘n persoon se karakter.

Ons lees in Handelinge van so ‘n ou. Sy naam was Josef. Hy is gebore in Siprus en hy was ‘n Leviet. Duidelik iemand wat belanggestel het in kerksake en wat die wet goed geken het. Dit lyk asof hy juis tot bekering gekom het toe die apostels daar gepreek het. Hulle het hom later die bynaam Barnabas gegee, wat beteken: iemand wat mense moed inpraat. Hy het homself gou onderskei deur ander te bemoedig. Die AFR53 vertaling sê: Seun van vertroosting. Mooi, ne?

Dalk het jy vandag ‘n bynaam wat jy verpes. Bid en vra vir God om die persepsie wat daardie naam ontlok, te verander. Neem dan ‘n besluit om God se Lig op jou hart te laat val. Kies Jesus Christus in jou lewe en vertrou Hom om vir jou ‘n nuwe naam te gee. As Hy dit vir Paulus kon doen en vir Barnabas, dan sal Hy dit ook vir jou laat gebeur.

Miskien het jy nie ‘n bynaam wat mense jou gee nie, maar hoor net wat sê God oor jou in Jesaja 43 :1 (DB) “Moenie bang wees nie. Ek sal jou red. Ek het jou by jou naam geroep. Jy behoort aan My.” Dan sê God verder is vers 4 dat jy vir Hom kosbaar is, dat Hy jou hoog ag en dat Hy jou liefhet.

Wow! Dis God se nuwe naam vir jou. Dankie dat jy Jesus Christus in jou lewe kies! Vestig jou hoop op Hom en glo dat Hy jou wil help om presies die persoon te wees wat God in gedagte gehad het toe Hy jou gemaak het. Vir God het jou naam beslis betekenis!

Gebed:

My Hemelvader, dankie dat U my liefhet. Gee dat ek U so sal liefhê dat ander U in my sal kan sien. Mag ek die bynaam dra as: God-se-kind! Amen.

Dag 2

Aangaande hierdie leesplan

Wees jý die Barnabas.

Wees jy ‘n Barnabas vir ander. Wees lief vir Jesus Christus sodat jy vol kan wees van die Heilige Gees. Laat jou geloof jou dring om jou oor mense te ontferm, hulle moed in te praat en tweede of derde kanse te gee. Wees ...

More

Ons wil graag Sonja Goldberg bedank vir die verskaffing van hierdie plan. Vir meer inligting, besoek asseblief: http://www.sonjagoldberg.co.za/

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid