Leesplan inligting

Dis Tyd Vir FokusVoorbeeld

Dis Tyd Vir Fokus

DAG 2 VAN 7

Wat van môre?

Jakobus 4:14 “Julle wat nie eers weet hoe julle lewe môre sal wees nie! Julle is maar ‘n damp wat ‘n oomblik verskyn en sommer weer verdwyn.”

Hierdie teksvers klink maar somber en laat my amper depressief voel. Daar is ‘n aanhaling wat lees: “Depressie is die ontnugtering van teleurgestelde hoop”. Die skrywer heet "Anoniem". Sekerlik was die persoon vasgevang in dié raak opsomming en totaal uitgelewer aan slegs gedagtes, dalk ‘n laaste uitroep tot verstaan.

Daarmee bedoel ek nie dat hiérdie teksvers dui op depressie nie maar dat die hoofstuk mens sterk aanspreek oor hoe ons dínk dat ons in beheer is ... selfs depressief kan laat voel. Ek het so gevoel.

Soms is daar dae wat soos koue ys op ‘n kampvuur uitgegooi word. Jou vuurtjie van optimisme oor die lewe, jouself, die toekoms en wie weet wat nog, kan in ‘n oogwink verdoof tot ‘n plassie water. Tog lees ons ook bv. in Hebreërs 13:5b-6: “God self het gesê: 'Ek sal jou nooit verlaat nie, jou nooit in die steek laat nie.' Daarom kan ons met vertroue sê: 'Die Here is my helper, ek ken geen vrees nie ...”

Wat maak mens as jou siel, gewete en kennis rakende sy almag, skaakmat met jou hart en gees kom speel? Hoe oefen mens die werkwoord van "keuse" uit, as dit voel of juis dít jou ook verraai het?

Iemand het eendag gesê: “Sometimes true faith means having unanswered questions”. Om ons vrae dus voor God neer te sit en nié te vrees nie. Jonge Timoteus het ook al gewaarsku dat mens selfbeheersing moet toepas, om aksie te te kan neem ten spyte van jou vrees, wat meestal in jou eie kop ontkiem.

En tog bly my geestesore hoor: “Ek sal jou nooit verlaat nie …” en ook “Wees stil en weet Ek is God!” (Psalm 46:11a NLV). In Jesaja word ons belowe “[My] gedagtes is hoër as julle gedagtes” (Jesaja 55:9 NLV) en “[My woord] sal nie leeg na My terugkeer nie, maar doen wat My behaag en voorspoedig wees in alles waartoe Ek dit stuur” (Jesaja 55:11 AFR53).

Daar is net te veel beloftes van oorwinning in die Boek van Waarheid. Ons teksvers herinner ons eintlik aan hoe verganklik ons is máár dat God rondom dit sal werk!

Gebed: Vader, U weet my sit en my opstaan, my vooruit dink en beplan — soms ook die “eie ek” wat braaf voel in my planne. Tog is U lankal vooruit en kan ek met sekerheid weet U ís my Helper.

Neem ‘n oomblik om te bepeins oor gebeure of situasies waar jy weet God jou reeds vooruit was. Wanneer mens sy hand raaksien, kyk jy soveel makliker vorentoe!

Dag 1Dag 3

Aangaande hierdie leesplan

Dis Tyd Vir Fokus

Soms kan mens se gedagtes by vele dinge gaan stilstaan ... die lewe in die algemeen en waar jy jou bevind, familie, werk en allerlei ander dinge. Mens verloor jou fokus.Tog is daar 'n berusting wat ontstaan as jy God toe...

More

Ons wil graag vir Felicia Lategan bedank vir die verskaffing van hierdie leesplan. Vir verdere inligting, besoek asseblief: https://whitevapor.wordpress.com/

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid