Leesplan inligting

Inspirasie-oomblikkeVoorbeeld

Inspirasie-oomblikke

DAG 5 VAN 7

“Waarheid maak vry” Ons leef in ’n land waar ons soveel vryheid van regte en spraak en godsdiens het, en tog leef meer mense as slawe in ’n tronk as wat die korrektiewe dienste se statistieke vir ons sou weergee. Vryheid is nie beperk tot ’n plek of omstandighede nie. Paulus was vasgeketting en geboei in ’n fisiese tronk, maar hy was vry. Ander mense leef weer gemaklike lewens in gemaklike huise en werke, en tog is hulle die slawe van bitterheid, gejaagdheid, geketting en geboei aan materialisme en perfeksionisme. Die grootste vonnis is nie tronkstraf agter tralies nie, maar ’n lewe en ’n ewigheid sonder Jesus. Waarheid en vryheid gaan saam soos Oros en water. En Jesus verduidelik dit vir ’n groepie geleerde Jode. Hy sê in Johannes 8:31-32: “Julle is regtig my volgelinge as julle glo wat Ek sê. Hou vas daaraan en leef daarvolgens. So sal julle ontdek wat vir God belangrik en sinvol is. En hoe meer julle dit ontdek, hoe meer sal julle word wat God julle gemaak het, vry mense.” Bly getrou aan Jesus se woorde, leef in noue verbintenis met Jesus se boodskap. Dan sal jy die waarheid ken en hierdie waarheid sal jou vrymaak, dit sal jou maak wat jy bedoel is om te wees – vry! Waarheid is ’n Persoon, Jesus Christus. Vryheid kom deur geloof in Hom en ’n verhouding met Hom waar ek ontdek en meer en meer die mens word wat God my gemaak het om te wees. Dit is alles waarheid wat jou kan vrymaak van bitterheid en geldgierigheid en uitbranding, maar die waarheid moet eers toegepas en geleef en gedoen word voordat dit jou kan vrymaak. Mark Twain het gesê: “The truth will set you free, but first it will make you miserable.” Jy weet jy moet iets gaan doen wat nie altyd so lekker en maklik is om te doen nie, maar jy doen dit om vry te kom en vry te leef soos God bedoel het jy moet leef. En dan die bevestiging in Jakobus 1:25: “Iemand wat so ernstig in God se wil belangstel en dit wat hy daar hoor ook gaan doen, het die ware geluk en sin van die lewe ontdek.” Hierdie oordenking is geneem uit 101 INSPIRASIE-OOMBLIKKE deur Lindie Strydom © Christelike Uitgewersmaatskappy.
Dag 4Dag 6

Aangaande hierdie leesplan

Inspirasie-oomblikke

Soms stuur die lewe situasies oor jou pad wat eintlik kosbare groeigeleenthede is ... jy moet net deur die regte bril daarna kyk. Dit is soms ’n alledaagse gebeurtenis, soos om in ’n ry te wag. Leer dit raaksien en gebru...

More

Ons wil graag Lindie Strydom © Christelike Uitgewersmaatskappy bedank vir die verskaffing van hierdie leesplan. Vir meer inligting, besoek gerus: http://www.cumbooks.co.za/

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid