Arme Ek! Voorbeeld

Hou Op Met Die Selfbejammering
As jy vir langer as 15 minute lewe, moes daar waarskynlik al iets aakligs met jou gebeur het. Dit mag dalk juis nóú met jou gebeur.
Ek is jammer daaroor. Ek wens slegte dinge het nie gebeur nie en ek wens dit het nie met jou gebeur nie. ’n Deel van my wil jou in watte en borrelplastiek toedraai en jou veilig in ’n kas sit, sodat niks anders jou kan seermaak nie.
Nogtans — watter soort lewe is dit?
Nee, so lank as wat jy op hierdie planeet lewe, gaan daar teëspoed, beproewinge, stampe en stote wees. Jesus het selfs vir ons gesê: “... In die wêreld sal julle dit moeilik hê …” (Johannes 16:33). Hy het geweet dat daar ook moeilike tye op jou wag — niks daarvan is vir Hom ’n verrassing nie. Gelukkig sê Hy daarna die volgende: “… maar hou moed: Ek het die wêreld klaar oorwin.” Dit is goeie nuus! Hy het vir jou ’n uitkomkans gegee.
Dit is egter maklik om onsself te midde van alles jammer te kry, nie waar nie? Trouens, selfbejammering kan ons outomatiese reaksie op teëspoed wees, tensy ons weet hoe om dit raak te sien en daarmee op te hou. Die gedagte: “Arme ek!” kan maklik ’n gewoonte word, en as ons eers begin het, is dit moeilik om op te staan en God se beloftes vas te gryp. Inteendeel, ons wil eerder terug in die bed klim en die lakens oor ons koppe trek! Dit is egter nie vir jou — of enigiemand anders — goed nie.
Ek het die volgende geleer: ek kan nie terselfdertyd geloof hê én myself jammer kry nie. Dit is dus tyd om op te hou met die selfbejammering en sterker te word in jou geloof! Ons het geloof nodig om deur enige teëspoed te kom (1 Johannes 5:4).
Aangaande hierdie leesplan

Het jy vandag teëspoed? Is jy deur iemand seergemaak, het jy siek geword, aan ’n gebrek gely of verpletterende terugslae ervaar? Dit is maklik om jouself in sulke tye jammer te kry. God het egter ’n uitkomkans vir jou! Dit is tyd om op te hou met jou selfbejammering, op te staan, God se beloftes vas te gryp en om ’n oorwinnaar te word!
More