Leesplan inligting

Gebede wat God altyd verhoorVoorbeeld

Gebede wat God altyd verhoor

DAG 5 VAN 7

Hoekom, Here?


“Hoekom?” is daardie een vraag wat ’n bekende filosoof gesê het hyself ook eendag vir God gaan vra. Dalk is dit die vraag van alle vrae. “Hoekom kry ander mense werk, maar ek nie?” “Hoekom gaan ons kind dood van kanker?” “Hoekom luister God nie as ek bid nie? “Hoekom al die geweld, misdaad, droogtes, goddeloosheid?” 


Selfs die profeet Habakuk het nie die vaagste benul gehad wat om te antwoord nie. Hy self vra immers hierdie vrae. Hy is uit op sy voete. Hoe moes die ander mense in die land dan gevoel het as hulle profeet nie eens meer hoop gehad het nie? 


Een stukkie goeie nuus wat tussen die lyne deurskemer in hierdie reguit gebed van Habakuk is dat God eerlikheid verkies bo skynheiligheid en ongelowige stilstuipe. Praat liewers padlangs met God as om dikmond stil te bly. Kla liewers by Hom agter Habakuk aan as om tussen ander mense oor God te skinder en uiteindelik jou geloof te verloor. God kan dit vat. Sulke vrae en gevoelens is nie vir Hom so skokkend dat dit onder die mat ingevee hoef te word nie. Of stil geswyg moet word nie. 


God hou van reguit vrae. Nog altyd. Toe Asaf in Psalm 73 amper sy geloof verloor het omdat dit goedgaan met goddeloses en sleg gaan met mense soos hyself, is God nie onkant gevang nie. Toe Jeremia in hoofstuk 15 sy bedankingsbrief aan God uitgeskryf het omdat sy lewe net swaarkry was en dit gevoel het of die Here hom bedrieg het, het God nie met ’n verleë antwoord vorendag gekom nie. Eeue later, toe Johannes die Doper ook in sy donker oomblikke in Matteus 11 vir Jesus vra of Hy regtig die Messias is en of hy wat Johannes is iemand anders moet verwag, was Jesus ook daar vir hom. 


Inderdaad waarborg God antwoorde op gebed, maar dan vir dié wat in Christus bly, soos wat Jesus in Johannes 15:7 sê. Jesus sê dat as ons in Hom bly soos die takkies van ’n wingerdstok en as ons getrou doen wat Hy vir ons sê, kan ons bid net wat ons nodig het om getrou aan Hom te bly, en ons sal dit ontvang. Met ander woorde, dit gaan nie oor ons nie, maar oor God. Gebede wat verhoor word, is gebede wat God se eer voorop stel en Hom verheerlik!  

Dag 4Dag 6

Aangaande hierdie leesplan

Gebede wat God altyd verhoor

Vir baie gelowiges is frustrasie iets wat hulle gebedslewe karakteriseer, en dit voel meestal of God nie hoor as hulle bid nie. Dié dagstukkies, gebaseer op Stephan Joubert se boek GEBEDE WAT GOD ALTYD VERHOOR, wys aan d...

More

Ons wil graag Christian Art Publishers bedank vir die verskaffing van hierdie plan. Vir meer inligting, besoek asseblief: https://cumbooks.co.za/

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid