Vier jou vrou-wees

Dag 4 van 7 • Vandag se leesstuk

Oordenking

Hou op vergelyk!


Om een of ander rede is mense baie lief vir die gevaarlike vergelykingspeletjie. In die media word vroue altyd as beeldskoon en skraal voorgehou. Jy is gedurig ontevrede met jou persoonlikheid, want as jy tog net so sprankelend soos jou vriendin was. Jou kinders is ook nie so talentvol soos baie mense s’n wat jy ken nie. In plaas van duur, luukse motors, ry julle met ’n alledaagse model. In jou eie kop, op grond van gedurige vergelyking, máák jy dit net doodgewoon nie.


Het jy al ooit gedink dat vergelyking alles te doen het met “wil soos ander wees”? As alles en almal tog maar net dieselfde was! In jou kop is vergelyking ’n buite-bereik-gelykmaker wat jou die hele tyd onvergenoegd laat voel. Het jy al ooit gedink dat jy met al jou vergelykings lynreg teenoor God se plan van “elke mens uniek” staan en baklei? As God alles en almal dieselfde wou gehad het, sou Hy dit tog sekerlik gedoen het. Dink aan geel lug, ’n geel son, jou goudgeel gelaatskleur, geel hare, geel gras, jou geel vriendin met haar goudgeel klere, geel wortels, geel vleis, geel voëls wat buite vlieg ... en begin giggel. Die volgende keer wat jy jouself vergelyk met iemand anders dink aan die geel-grappie. Ja, alles en almal wat dieselfde lyk. Hoe vervelig sal die lewe dan wees! Psalm 139:13-14 sê so mooi: “U het my gevorm, my aanmekaargeweef in die skoot van my moeder. Ek wil U loof, want U het my op ’n wonderbaarlike wyse geskep.”


Daar is bykans sewe biljoen mense in die wêreld. Elkeen van hulle, vir seker ook jy, is ’n kunswerk van God. Hy het elke mens sorgvuldig beplan en geskep. Elke mens is anders. Elke mens is uniek. Nie twee mense in die ganse wêreld het dieselfde talente en gawes nie. Nie twee mense in die wêreld het dieselfde persoonlikheid nie. Ja, “God is 'n God van uiteenlopendhede”!


Dis tyd dat jy jou uniekheid begin vier. Dis tyd dat jy weer ’n slag in die spieël na God se kunswerk kyk. Erken dat almal, ook jy, verloorders is, solank jy die vergelykspeletjie speel. Loof God vir wie jy is en vir wat jy het. Begin tevrede raak en leef ’n lewe van dankbaarheid.