Leesplan inligting

Vier jou vrou-weesVoorbeeld

Vier jou vrou-wees

DAG 2 VAN 7

Vryheid lê in vergifnis


Jy moet bewus wees daarvan dat daar altyd twee kragte aan die werk is: die Here, deur sy Gees, wat jou in ’n innige verhouding met God wil hê, en die duiwel, wat ten alle koste jou vreugde wil steel en jou ongelukkig wil sien. 


Sonde bring skeiding tussen jou en God en dit versteur jou intieme verhouding met jou hemelse Vader. God smag na ’n intieme verhouding met jou. Wat ’n voorreg! Daarom is die Heilige Gees getrou om die sonde, wat skeiding bring, vir jou te kom uitlig. Die doel daarvan is die herstel van jou en God se verhouding; nie veroordeling nie. Wanneer so iets gebeur, kan jy met die grootste vrymoedigheid en met die grootste opregtheid met berou tot God nader, en Hom om vergifnis vra. Dis tog die rede vir die kruis. Dis tog die doel en funksie van die bloed van Jesus, naamlik om jou skoon te was van al jou sondes. Die bloed van Jesus reinig jou en bring jou in ’n nuwe verhouding met God, jou Vader. 


Wanneer God vergewe, is die saak afgehandel. Die kruisdood van Jesus was volkome en God het, deur Jesus, ’n volkome werk van vergifnis en verlossing kom doen. Die vyand, die brullende leeu, is egter nie tevrede met jou vryheid en die herstel van jou vreugde nie. Daarom sal hy jou altyd herinner aan jou sonde en jou aanhoudend skuldig laat voel. Let wel: Hy kry dit reg om mense skuldig te laat voel oor iets waarvoor God hulle alreeds vergewe het. Jy is vrygespreek en verlos, maar voel steeds skuldig. Dit is waar veroordeling en skuldgevoelens in die prentjie kom. God oortuig jou van sonde met die doel dat jy eienaarskap van jou verkeerde optrede en dade sal aanvaar en dit met Hom sal regmaak. Hy staan altyd reg om jou ware berou met volkome vergifnis te beantwoord. Die duiwel staan reg om jou te veroordeel en te verdoem.


Wees wakker en onderskei tussen die stem van oortuiging van die Heilige Gees en die stem van veroordeling van jou vyand. Leef in die vryheid van God se vergifnis en verlossing deur Jesus Christus.

Dag 1Dag 3

Aangaande hierdie leesplan

Vier jou vrou-wees

Daar is so baie dinge vandag wat vroue “doodmaak”. Oor die volgende sewe dae wil ons jou waarsku teen die goed wat vroue se lewens wil verwoes, hulle vreugde en unieke vrou-wees wil steel. Jy kan egter altyd onthou: Jou ...

More

Ons wil graag Christian Art Publishers bedank vir die verskaffing van hierdie plan. Vir meer inligting, besoek asseblief: https://cumbooks.co.za/

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid