Om God se Vrede te ErvaarVoorbeeld

Vrede Met God
Die vrede wat God aan ons gee, mag ver bo ons begrip wees, maar dis nie buite ons bereik nie. Eintlik is dit maklik bereikbaar. As ons vrede met God wil hê, is daar nie "Drie maklike stappe na vrede met God" nie. Daar is maar net een weg, deur — Jesus.
Toe Jesus aan die kruis gesterf het, het God al die sonde van die wêreld op Hom geplaas — die verlede, hede en toekoms s'n. As ons hierdie geskenk van God aanvaar en ons geloof in Hom plaas, ontvang ons Christus se geregtigheid. Volgens Romeine 4:23-24, is hierdie "vryspraak" ook vir "ons wat in God glo, wat vir Jesus, ons Here, uit die dood opgewek het."
Ons wil almal graag God se vrede hê. Voordat ons egter nie in 'n verhouding van verlossing met Jesus kom, sy geskenk aanvaar en gered word nie, sal ons nooit vrede hê nie. Ons kan dit so stel: As ons die vrede van God wil hê, moet ons eers vrede met God maak.
Wanneer ons sonde doen — en ons sal — word ons vrede met God nie herroep nie. Ons word nét eenmaal deur God geregverdig. Ons hoef nie herhaalde kere geregverdig te word nie. Laat ons God prys dat ons menslike toestand nie ons verloste, geestelike toestand ongedaan maak nie.
Watter rol speel vrede met God dus vir ons gedurende onseker tye? Dit skenk ons hoop. Dis die hoop dat ons lewe hier op aarde maar net die begin van ons ewige lewe met God is. As Jesus se volgelinge, mense wat Jesus as Heer en Verlosser aanvaar het, ontvang ons oorvloedige lewe en lewe tot in ewigheid. Hierdie twee gaan hand aan hand.
Omdat ons op Jesus hoop en sy Heilige Gees ons lei, is dit moontlik om 'n oorvloedige lewe hier op aarde te hê. Wanneer ons ons laaste asem uit ons tydelike liggaam hier op aarde blaas, word ons in die ewigheid ingelei. Die lewe in ons toekomstige tuiste, is ewig en oorvloedig. Die oorvloedige en ewige lewe is beide slegs 'n voortsetting van wat reeds op aarde begin het.
As jy vir Jesus ken, Hom reeds jou Heer en Verlosser gemaak het, kan jy seker daarvan wees dat enige aardse toestande of omstandighede wat swaar op jou rus, geen ewige mag oor jou het nie. In die wete dat daar vir ons 'n ware tuiste wag, beslaan hierdie lewe maar slegs 'n klein deeltjie van daardie tyd. Die vrede wat ons met God het, waarborg ons hoop van dit wat vir ons wag.
Aangaande hierdie leesplan

Die wêreld se vrede is heeltemal anders as God se vrede. Wêreldse vrede is tydelik en van omstandighede afhanklik. Daarteenoor bied God se vrede 'n permanente oplossing, naamlik die redding deur Jesus en sy teenwoordigheid in ons lewens. In hierdie leesplan sal ons kyk wat God se vrede werklik beteken en hoe ons dit in ons lewens kan ervaar.
More