Vry om vrygewig te wees

Dag 4 van 5 • Vandag se leesstuk

Oordenking

Vrygewigheid is progressief. Dit begin met die basiese – gee die eerste en beste en gee gereeld en sistematies. Dan vorder ons tot begrip van die verhouding waarin ons moet gee – gee volgens die vlak waarmee God jou materieël geseën het. Maar die belangrikste is die hart waarmee jy gee. 


Jy sien, ware vrygewigheid word gevorm deur ‘n spesiale verweefdheid van opoffering en aanbidding. Dit is nog ‘n rede waarom vrygewigheid so belangrik is. Dit gaan oor ons liefde vir God. Om te gee, is ‘n geestelike daad van nadenkende, vrywillige aanbidding. Dit reik dieper en dieper in ons lewens en weerspieël ‘n verhouding met ons Hemelse Vader wat al meer volwasse en vreugdevol raak. 


Hierdie soort liefdevolle vrygewigheid sien ons duidelik in die Nuwe Testament. Paulus het nogal baie geskryf oor hoe vrygewig sekere kerke was – nie om iemand anders te beïndruk nie, maar om mekaar tot groter toewyding aan te spoor. In 2 Korintiërs 8-9 vertel hy ons van die opofferende vrygewigheid van die kerke in Masedonië.


Al was hulle swaar beproef deur verdrukking, hulle blydskap was oorvloedig; en al was hulle baie arm, hulle was ryk in hulle oorvloedige vrygewigheid. Ek verseker julle hulle het na vermoë, ja, bo vermoë, bygedra. Uit eie beweging het hulle by ons daarop aangedring om te mag deel in die liefdeswerk van hulpverlening aan die gelowiges in Judea. (2 Korintiërs 8:2-4)


Die lewe was swaar vir hierdie kerke in Masedonië. Hulle was “swaar beproef deur verdrukking”. Maar hulle het gehoor van hulle Joodse broers wat in hongersnood verkeer het en hulle wou gee. Niemand het hulle gedwing of hulle skuldig laat voel nie. Hulle het vrywillige opofferings gemaak en dit as hulle voorreg beskou. Hierdie gelowiges, wat nie baie gehad het nie, het gegee aan ander gelowiges wat selfs nog minder gehad het. Dit het baie van hulle geverg – hulle het hulself daardeur benadeel. Dit is ‘n baie mooi verhaal van ware vrygewigheid en opoffering. 


Jy kan slegs só gee as jy “jou” besittings as God s’n sien en nie te styf daaraan vashou nie. 


Ons kan gee op ‘n manier wat ons nie beïnvloed nie. Ons leefstyl bly onveranderd, ons hoef nie ons planne te verander nie en ons kan nog steeds alles koop wat ons in elk geval sou koop. Dit tel nog steeds as vrygewigheid, maar dit is nie opofferend nie. 


Wanneer ons werklik vrygewig wil wees, moet dit ons iets kos. Maar hierdie opoffering moenie net wees in reaksie op ‘n groot nood of as ’n reaksie op eksterne druk nie. Inteendeel, dit moet ‘n manier van leef wees.