Leesplan inligting

Gewaagde GebedeVoorbeeld

Dangerous Prayers

DAG 1 VAN 7

Hoekom Jou Gebede Gewaagd Moet Wees 



Net soos baie ander mense, het ek ook vir baie jare gesukkel om gereeld en doeltreffend te bid. Selfs met die beste bedoelings was my aandag dikwels afgelei of het ek verveeld geraak wanneer ek bid. Terwyl ek 'n jong pastoor was, het 'n vriend my daarvan oortuig dat die tyd vir verandering aangebreek het. Ek het vir hopeloos te lank ongelowige gebede verduur, terwyl ek geweet het dat God meer vir my wou gee. Ek wou Hom ook meer intiem leer ken.



"Haai Craig, glo jy dat God nog steeds wonderwerke doen?"



"Natuurlik," het ek gesê.



"Mooi — want jou gebede is tog so gebrekkig."



Ek het probeer om saam met hom te lag, maar my vriend se grappie het seergemaak — hoofsaaklik omdat hy die spyker op die kop geslaan het.



Ek was sprakeloos en het myself nie verdedig terwyl ek die waarheid van sy waarneming verwerk het nie. Ek kon nie ontken dat hy 'n geheim aangeroer het waarvan ek deeglik bewus was, maar nie wou erken nie: my gebede was pateties.



Hierdie leesplan is dus gemik op enigeen wat in 'n gebedsgroef vasgeval is, wat herhalende, voorspelbare en veilige gebede bid.



Ons dien 'n God wat meer kan doen as wat ons vra of wat ons kan dink. Dit is dus tyd om nie langer versigtig te wees nie. Ons is nie geskape vir 'n lewe van gerief nie. Ons is passievol en kragtig, uitgedaag om die wêreld op ingrypende maniere te verander! Ek glo hierdie leesplan sal jou aanmoedig om deur die grense te breek en geïnspireer te word om gewaagd te bid en dapper te lewe.



Hoe meer ek die Bybel bestudeer, hoe meer verwonder ek my aan die verskeidenheid gebede van God se mense. Hulle het nie net oor uiters persoonlike sake gebid nie, soos vir 'n kind (1 Samuel 1:27), maar hul gebede was dikwels ook prakties — vir kos en voorsiening (Matteus 6:11) en om van vyande gered te word (Psalms 59:1-2). Soms was dit 'n sagte fluistering aan 'n liefdevolle God. Ander kere het hulle in angs en frustrasie op Hom geskree.



Hul gebede was eerlik. Desperaat. Vurig. Dapper. Werklik. Nou ja, en daar bid ek dat God my veilig moet hou en my hamburger en skyfies sal seën.



My vriend was reg.



My gebede was gebrekkig.



Dalk kan jy jou hiermee vereenselwig. Dis nie dat jy nie in gebed glo nie. Jy glo daarin, maar jy is in 'n groef vasgeval. Jy bid oor dieselfde worstelinge en versoeke. Op dieselfde manier. Op dieselfde tyd. Dis nou te sê, as jy hoegenaamd bid. Jy weet waarskynlik dat jy meer moet bid en met meer hartstog. Meer geloof. Jy wil met God praat en na Hom luister, om 'n intieme gesprek met Hom te hê soos jy met jou lewensmaat of beste vriend sou hê. Jy wil regtig, maar jy is nie seker hoe nie. Jou gebede bly dus maar veilig.



Kragteloos. Eentonig. Voorspelbaar. Verouderd. Vervelig.



My vriend se wekroep het my oortuig dat die tyd vir 'n veranderde gebedslewe aangebreek het. Ek het lustelose, ongelowige en hoofsaaklik leë gebede, vir te lank verduur. Ek het geweet dat God meer vir my wou gee en ek wou Hom intiemer leer ken, ondanks my aarseling oor wat dit van my sou vereis.



In ons soeke om waarlik, kwesbaar en intiem met God te kommunikeer, gaan Hy ons nie in 'n borrel van geestelike veiligheid toewikkel nie. Inteendeel, Hy gaan ons "wat-kry-ek-daaruit-borrel" bars en ons uitnooi om Hom te vertrou, al weet ons nie wat Hy volgende gaan doen nie. Sommige dae voel ons geseënd. Ander dae staar ons uitdagings, teëstand en vervolging in die gesig. Nietemin sal elke dag wat ons gewaagd bid, met sy teenwoordigheid gevul wees.



Is jy gereed vir die volgende stap? Is jy al keelvol daarvan om versigtig te wees? Is jy gereed om gewaagde, geloofsgevulde, God-vererende, lewensveranderende, wêreldherskeppende gebede te bid?



As jy is, dan is hierdie leesplan vir jou bedoel.



Wees egter gewaarsku, daar gaan struikelblokke wees. Wanneer jy begin bid vir dinge soos "deursoek my, breek my af, stuur my," mag jy valleie ervaar. Aanvalle. Beproewings. Pyn. Swaarkry. Ontmoediging. Selfs hartseer. Daar sal egter ook die vreugde van geloof wees, die verwondering oor wonderwerke, die verligting van oorgawe en die blydskap om aan God vreugde te gee.



Die tyd het aangebreek om nie langer versigtige gebede te bid nie.



Dis tyd om te praat, regtig te praat met God — en regtig te luister na God.



Die tyd vir gewaagde gebede het aangebreek.


Dag 2

Aangaande hierdie leesplan

Dangerous Prayers

Is jy moeg daarvan om versigtig met jou geloof om te gaan? Is jy gereed om jou vrese in die gesig te staar, jou geloof te bou en jou potensiaal vrye teuels te gee? Hierdie 7-dag leesplan van Life.Church, is gebaseer op p...

More

Baie dankie aan pastoor Craig Groeshcel en Life.Church vir die voorsiening van hierdie leesplan. Vir meer inligting, besoek gerus: https://www.craiggroeschel.com/

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid