Landbouweekblad Hart tot hart

Dag 5 van 7 • Vandag se leesstuk

Oordenking

’n Lied om te onthou 


In ons wandeling deur die Bybel om in elke boek een blommetjie te pluk en dit met ons lesers te deel, het ons vandag by Deuteronomium uitgekom.


God gee aan Moses die opdrag om ’n bepaalde lied aan die volk te leer – ’n lied met ’n bedoeling. Elke keer wanneer hulle die lied sing, sal hulle herinner word dat hulle besig was om hul God te vergeet. Hier volg God se opdrag aan Moses: “Teken hierdie lied vir julle op en leer dit vir die Israeliete. Laat hulle dit sing sodat die lied my getuie teen hulle kan wees” (Deut 31:19).


Moses se tyd op aarde is byna verstreke en soos dit maar dikwels gebeur wanneer ’n groot leier sterf, sal daar ’n inploffing van wet en orde plaasvind. Dié lied sou hulle help om te onthou wie hul God is, waar hulle vandaan kom en waarheen hulle op pad is.


Waarom dan juis ’n lied daarvoor gebruik? Miskien is dit omdat ’n goeie lied die hartsnare roer soos dit op geen ander manier gedoen kan word nie. Om met jou hart te sing, is soms meer werd as om met jou verstand te bid.


As ek sekere liedere hoor, sweef ek in my gedagtes na my kinderjare toe, hoe ons as gesin om die eettafel huisgodsdiens gehou het. Pa het ingesit met onder meer: “Heer, waar dan heen? Tot U alleen . . . Dank Vader, dank vir U genade. Dis onverdiende guns alleen.”


Soggens vroeg het my pa en ma hul oggendgodsdiens gehou. Op die bedkassie was ’n flikkerende kers en die Uit die Beek-dagboek met ’n paar kersvet kolle daarop, die stille getuies dat hier ’n goeie gewoonte vasgelê is. Maar wat my die meeste aangegryp het, was as my pa en ma gesing het. Die oggendlied was soos brandstof wat die dag se reis moontlik sou maak.


Hoe sal ek ooit die dag ná my moeder se begrafnis vergeet toe ek alleen die plaas verlaat het, met die wete dat dinge daar nooit weer dieselfde sal wees nie. Toe ek deur die braksloot ry waar ons as kinders in die waterpoele paddavissies gevang het, het ek in die truspieël die plaashuis op die agtergrond gesien. Dis toe dat ek gesing het, terwyl die trane oor my wange rol: “O, moederhuis, waar ooit so tuis. Jou het ek lief bo alles . . .”


Nou verstaan ek vandag so goed waarom God vir Moses ’n lied gegee het vir die volk: om te onthou wie hul God is en waar hulle wortels lê. Onthou om te onthou!