Landbouweekblad Hart tot hart

Dag 1 van 7 • Vandag se leesstuk

Oordenking

Die wonder van die begin 


Soms wens ek dat ek kon weet wat daar was voor die begin van alles plaasgevind het. Maar dan besef ek ook dat daar agter dié wens die erkenning lê van ’n groot – baie groot – misterie.


Selfs die Bybelse skeppingsverhale ontsnap nie hierdie misterie nie. Sommer met die eerste woorde beland jy in ’n draaikolk van nie-weet-nie. Kyk gerus na Gen. 1:1-2: “In die begin het God . . . en die aarde was woes en leeg.” Hoe het dit toe gelyk? En wat was daar vóór dit “woes en leeg” was?


Denkende mense stel altyd belang in die begin van dinge en waar kan dit meer waar wees as juis in die magtige, onbegryplike skepping? Geen wonder dat daar nog al die jare ’n aggressiewe debat was – en nog is – oor hierdie vraag: Hoe het alles begin? Niks kan tog nie uit niks iets te voorskyn bring nie! Waar daar ’n skepping is, moet daar ’n skepper wees, watter naam jy hom ook al wil gee.


As kinders het ons soms in die warm somernagte buite geslaap. Ek het my toe reeds verwonder aan die groot hemelruim met die ontelbare klomp hemelliggame. Soos ek ouer geword het, het my verwondering net groter geword met dié besef: Agter alles staan ’n hoogs, hoogs intelligente wese. Ons noem hom God. En dis soos die Bybel begin. God se storie wat ook die mens se storie bevat, begin met die eenvoudige woorde: “In die begin het God . . .” (Gen 1:1).


Laat die wetenskap gerus maar voortgaan om te besin oor hoe die dinge ontwikkel het. Dis goed en reg dat hulle dit doen. Een ding staan egter vir my vas en dis die wete dat God aan die begin staan. Hierop wil ek my lewe bou. Hierin wil ek my sekuriteit vind. Hy wat aan die begin staan, is my Vader.