Jesus ruik na mirre en stof

Dag 1 van 7 • Vandag se leesstuk

Oordenking

Na mirre


Ons lees drie keer van mirre in die evangelies. Die mirre was by Jesus se geboorte, sy kruisiging, en by sy graf, ’n wonderlike reuk. Jesus ruik na mirre. Jesus ruik na ‘n nuwe Koning en na nuwe lewe, maar Jesus ruik ook na die kruis en na die dood.


Die dood gaan altyd die opstanding vooruit, het Luther die Hervormer gesê. Winter kom altyd voor die somer, die saad sterf altyd voor die oes, die nag kom altyd voor die dag, slaap voor wakkerword.


Om die reuk uit die mirre, en enigiets anders, te kry moet ’n mens dit breek – dit vermorsel, om die waarheid te sê. Elke keer as jy ’n lekker reuk ruik, is dit omdat iets stukkend gebreek is – die peper wat in die meul gemaal is of die kaneelstokkies wat jy tussen jou vingers gebreek het.


Hoekom sal dit nou anders wees met ons lewe? Hoekom is ons so verbaas as daar steeds swaarkry, hartseer en perse is wat ons maal en breek? God gebruik die stukkende wêreld om die mooi reuk in ons los te kry.


God maak ook altyd iets moois uit iets leliks. God gee vir ons geluk in plaas van as, vreugde-olie in ruil vir treurigheid, brood in plaas van slange en rose in plaas van hartseer. God is meesterlik om vir ons iets uit ons seer te gee. Die punt is dat sonder ons seer is daar niks wat ons vir God kan gee nie. As ons nie besef dat ons stukkend is nie, dat ons sterflik en dat ons gekraak is nie, kan God ons nie vernuwe nie.


God se opstandingsgees woon in ons. Dit is dieselfde Gees wat Jesus uit die dood opgewek het en net Hy kan ook ons seer nuutmaak. Nie vir altyd wegneem nie, maar nuutmaak en weer laat opstaan. Vir seker. God werk van die binnekant af buitekant toe. Hy het begin by die graf in die tuin en die lewe kring en kring steeds uit totdat dit eendag alles sal omvat.