Rick Warren se Daaglikse OordenkingsVoorbeeld

Rick Warren's Daily Devotional

DAG 51 VAN 365

Liefde is 'n daad

Het jy iemand werklik lief? Kom ons kyk hoe jy teenoor daardie persoon optree.

Liefde is meer as aangetrokkenheid en meer as seksuele opwekking. Dit is ook meer as die sentimentaliteit wat in so baie van die hedendaagse liedjies voorgestel word. Is liefde volgens hierdie standaarde dan dood wanneer die emosie nie meer daar is nie? Nee, glad nie. Liefde is 'n werkwoord; liefde is 'n optrede.

God beveel ons menigmaal in die Bybel om mekaar lief te hê. Jy kan nie opdragte aan 'n emosie gee nie. As ek vir jou sê: "Wees onmiddellik hartseer!", sal jy nie daad by die woord kan voeg en dadelik hartseer kan raak nie. Jy kan dit soos 'n akteur namaak, maar ons is nie gemaak om emosies te kan verander as ons die opdrag ontvang nie.

Indien liefde net 'n emosie was, sou God dit nie van ons kon vereis nie. Liefde is egter iets wat jy doen. Dit kan emosies verwek, maar liefde is 'n optrede.

Die Bybel sê: "Ons liefde moenie net woorde en lippetaal wees nie, maar moet met die daad bewys word, en dan in opregtheid" (1 Johannes 3:18). Ons kan sê: "Ek is lief vir mense", maar het ons hulle werklik lief? Ons liefde word geopenbaar in hoe ons teenoor hulle optree.

Aangaande hierdie leesplan

Rick Warren's Daily Devotional

Weet jy waarvoor God jou geskep het? Weet jy wat God se doel vir jou lewe is? Indien jy nie die antwoorde op hierdie vrae ken nie, mag jy dalk die volgende 10 jaar van jou lewe net bestaan, in plaas daarvan om 'n dekade van geestelike groei te beleef waar dit vir jou moontlik sal wees om te doen waarvoor God jou geroep het. Rick Warren se oordenkings sal jou help om te groei in die areas waar God wil hê jy moet groei: geestelik, finansieel, emosioneel, menseverhoudinge en fisiek. Hulle bied praktiese stappe om God se doelwitte vir jou te bereik, terwyl jy Jesus na jou lotsbestemming volg.

More

Baie dankie aan Rick Warren wat hierdie oordenkings vir ons verskaf het. Vir meer inligting oor Rick Warren en Saddleback kerk, gaan asb na www.saddlebackresources.com