Leesplan inligting

Vind VredeVoorbeeld

Finding Peace

DAG 1 VAN 17

Die Fondament van Alle Vrede



Nie so lank gelede nie, net voor 'n praatjie, het ek en 'n spanlid langs die Weskus iets te ete geniet. Terwyl die jong kelnerin ons bedien, vra ek haar: “As jy God vir enigiets in jou lewe kon vra, wat sou dit wees?”



Sonder om te huiwer antwoord sy: “Ek sou vir vrede vra.”



Met trane in haar oë vertel sy ons toe dat haar ouma slegs 'n paar dae gelede gesterwe het.



Terwyl sy vertel, besef ek dat niemand in haar familie — sy inkluis — in God glo nie. Sy het God nie bewustelik verwerp nie. Sy was wel bewus van 'n diepe rusteloosheid, al het sy nie regtig geweet hoe om hierdie innerlike onrus aan te spreek of wat dit veroorsaak het nie. Soos baie mense het sy van dag-tot-dag gelewe, sonder enige betekenis, met geen ware doel in haar lewe nie.



Hierdie jong vrou verteenwoordig so baie mense in vandag se samelewing. Ons doen maar wat gedoen moet word, streef daarna om elke dag te oorleef, soekende na 'n weg, terwyl die lewenspad duister voor ons lê — en so probeer ons van alles sin maak.



Dikwels voel dit asof daar net nooit voldoende antwoorde op ons menslike dilemmas is nie — veral die vraag hoekom ons soms so leeg en sonder vrede voel. Om alles te kroon lyk dit asof daar net nooit genoeg redes vir ons is om aan te hou probeer terwyl ons steeds aan die teëspoed van die lewe blootgestel is nie.



Die jong kelnerin het die saak so vir ons in haar woorde uitgedruk: “Ek soek vrede.” Ander sou sê: “Ek is eensaam.” Sommige sou sê: “As my man of vrou my maar net liewer sou hê, sou ek gelukkig wees.” Verskillende weergawes, maar almal met dieselfde deuntjie: “Daar is iets verkeerd ... ek is ongelukkig. Ek het geen vrede nie. Wat is fout met my?”



Die meeste mense wat die slagoffers van die boodskappe van ons sekulêre samelewing is, ondervind hierdie leemte en sien nie dat hulle probleem met God verband hou nie. Ons word gedurig gebombardeer met die samelewing se eise: “As jy maar net maerder was, meer styl gehad het, met 'n luukse motor gery het, in 'n beter buurt gewoon het, meer geld verdien het …” — die lys gaan aan en aan. Geeneen van die bogenoemde antwoorde op ons probleme, of enige van die honderde ander redes wat aan ons voorgehou word, kan permanent en bevredigend voorsien in dit waarna ons so smag nie.



Die jong kelnerin was reg: Die meeste mense smag na iets meer — en die allesomvattende woord wat dit so mooi beskryf is vrede.



As 'n pastoor vir meer as ses dekades, kan ek jou dít vertel: Voor jy nie vrede met God gemaak het nie, sal jy nooit ware vrede in hierdie lewe ondervind nie. 


Dag 2

Aangaande hierdie leesplan

Finding Peace

Soek jy meer vrede in jou lewe? Is rustigheid iets waarna jy streef en nie net 'n wens nie? Jy kan ware vrede net op een plek kry — by God. Dr. Charles Stanley wys vir jou in hierdie leesplan hoe om lewensveranderende ge...

More

Baie dankie aan "In Touch Ministries" wat hierdie leesplan verskaf het. Vir meer inligting besoek asseblief: https://intouch.cc/peace-yv

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid