PSALMS 18:1-4
PSALMS 18:1-4 Bybel vir almal (ABA)
Vir die leier van die koor: Van Dawid, die dienaar van die Here. Hy het hierdie lied vir die Here gesing op die dag toe die Here hom gered het van sy vyande en van Saul. Dawid het gesing: Here, ek is baie lief vir U, U maak my sterk. Here, U is my Rots, my veilige plek in die berge, U maak my vry. My God, U is my rots, ek voel veilig by U, U is vir my soos 'n skild, U is sterk en U red my, U is vir my 'n veilige plek. Here, ek wil U prys, want U het my gered van my vyande.
PSALMS 18:1-4 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
VIR die musiekleier. 'n Psalm van Dawid, die kneg van die HERE, wat die woorde van hierdie lied tot die HERE gespreek het op die dag toe die HERE hom gered het uit die hand van al sy vyande en uit die hand van Saul. En hy het gesê: Ek het U hartlik lief, HERE, my sterkte. Die HERE is my rots en my bergvesting en my redder; my God, my rots by wie ek skuil; my skild en die horing van my heil, my rotsvesting. Ek roep die HERE aan wat lofwaardig is, en van my vyande word ek verlos.
PSALMS 18:1-4 Afrikaans 1983 (AFR83)
Vir die koorleier. 'n Lied van Dawid, die dienaar van die Here. Hy het dié woorde tot die Here gerig op die dag toe die Here hom gered het uit die mag van al sy vyande en uit die mag van Saul. Hy het gesê: Ek het U baie lief, Here, my Sterkte. Die Here is my rots, my skuilplek en my redder, my God, my rots, by wie ek skuil, my skild en sterk verlosser, my veilige vesting. Onder bespotting roep ek na die Here, dan word ek van my vyande verlos.
PSALMS 18:1-4 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)
Vir die •musiekleier. Van die dienskneg van die HERE. Van Dawid. Hy het die woorde van hierdie lied vir die HERE voorgedra in die tyd toe die HERE hom gered het uit die hand van al sy vyande en uit die hand van Saul. Hy het gesê: Ek het U lief, HERE, my sterkte! Die HERE is my rotsvesting, my bergskuiling, my bevryder. My God is my rots by wie ek skuil, my skild en die horing van my redding, my toevlugsoord. Die Een wat geloof moet word – roep ek uit – is die HERE! En van my vyande word ek verlos.
PSALMS 18:1-4 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)
Ek sal U liefhê, HERE, my sterkte. Die HERE is my rots en my vesting en my redder; my God, my sterkte, op wie ek sal vertrou; my skild en die horing van my heil en my hoë toring. Ek sal die HERE aanroep wat lofwaardig is; so sal ek van my vyande verlos word. Die smarte van die dood het my omring, en die vloede van goddelose mense het my bang gemaak.
PSALMS 18:1-4 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
Hy het gesê: Ek het U baie lief, HERE; U is my sterkte. Die HERE is my rots, my vesting en my redder, my God, en my rots by wie ek skuil. Hy is my skild, my magtige redder, my veilige vesting. Ek het tot die HERE geroep, Hy wat lofwaardig is, want Hy red my van my vyande.

